Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom in 3 dele: Só kan dit reggeruk word
Eskom word binnekort in drie dele verdeel.

Die regering wil Eskom in drie verdeel, maar dit kan jare neem, terwyl dit niks verander aan die feit dat Eskom nie eens genoeg geld maak om die rente op sy skuld te kan betaal nie.

Die konsultant Dirk de Vos verskaf in ’n onlangse artikel, uitgegee deur Ann Bernstein se Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE), die volgende advies oor hoe Eskom se drie afdelings verbeter kan word.

   

Kragopwekking

   

Kry steenkoolkontrakte reg. Eskom moet gedwing word om die volle besonderhede van elke steenkoolkontrak te publiseer. Eskom moet nooit weer steenkool via tussengangers en handelaars koop nie, maar regstreeks by myne.

Elke kragstasie moet vasstel hoeveel steenkool en van watter gehalte aan hom gelewer kan word, sonder om van padvervoer afhanklik te wees. Inligting oor steenkoolvoorraad by elke kragstasie moet daagliks gepubliseer word.

Vaardigheidsoudit: Bewerings is dat die haas met regstellende aksie en diensbillikheid veroorsaak het dat mense Eskom verlaat wat die vaardigheid en ervaring het wat nodig is om sy kragstasies te bestuur. Doen ’n oudit om vas te stel hoe groot die vaardigheidsgaping by elke kragstasie is.

Optimaliseer die sluit van kragstasies: Eskom word gedwing om sy ou kragstasies te sluit wat nie meer voldoen aan luggehalte-standaarde nie. Die proses moet só bestuur word dat dit per kragopwekkingseenheid binne ’n kragstasie gedoen word. ’n Hele kragstasie hoef dus nie op een slag te sluit nie, maar eenhede wat gesluit is, kan dien as ’n bron van onderdele vir dié eenhede wat nog werk. Begin by kragstasies met die duurste steenkoolkontrakte.

Desentraliseer magte: Elke kragstasie behoort ’n bedryfshoof met aanstellingsmagte te hê.

Skuld: Moenie Eskom se skuld oor al drie entiteite versprei nie, hou dit by die entiteit waar die skuld aangegaan is.

Personeel: Die kragopwekkingsafdeling het byna 8 000 werkers. Die sluiting van kragstasies sal afleggings noodsaak, maar by dié afdeling behoort dit beperk te word vergeleke met die ander.

Interne kragmark en private belegging: In 2012 het Eskom ’n interne kragmark gehad waar elke kragstasie sou bie om krag te lewer op grond van sy kostestruktuur. Dit kan herleef word om koste te spaar, en aandele in spesifieke kragstasies kan aan private beleggers verkoop word.

Skep ’n groenkrag-afdeling binne Eskom: Eskom moet self toegelaat word meer hernubare-energieprojekte aan te pak, en sy vakbonde en plaaslike gemeenskappe kan toegelaat word om belange in die projekte te kry. Dit sal relatief goed betaalde werkgeleenthede skep wat kan help vergoed vir die poste wat verlore gaan weens steenkoolkragstasies wat moet sluit.

   

Transmissie

   

Skuld en personeel: Eskom se kragnetwerk het oor die volgende dekade R165 miljard se investering nodig, so moenie die transmissie-afdeling met skuld oorlaai nie. Moet dit ook nie oorlaai met ekstra koste deur meer personeel aan te stel nie.

Slimmer tariewe: Die transmissienetwerk moet ’n onafhanklike stelseloperateur word wat volle outonomie het om kragkoopkontrakte met Eskom se kragopwekkingsafdeling te onderhandel. Tariewe aan gebruikers behoort die koste van elektrisiteit op verskillende tye van die dag te weerspieël. Dit moet doeltreffendheid en spaarsamigheid aanspoor deurdat pryse styg en daal na gelang van die vraag.

Gaskrag: Gaskragstasies moet net gebou word as die totale kragstelsel se vereistes duideliker is. Dit moet net spitstyd-krag lewer en net as dit absoluut noodsaaklik is.

   

Verspreiding

   

Ontwrigting wag op dié sektor. Distribusie het tipies ’n eenvoudige sakemodel – Eskom is die enigste verskaffer en krag word met ’n winsmarge van sowat 30% herverkoop.

Maar munisipaliteite skuld Eskom meer as R17 miljard, en Soweto-inwoners skuld meer as R15 miljard, terwyl munisipaliteite onderbestee aan die instandhouding van distribusie-infrastruktuur.

Rasionaliseer verspreiders: Probeer weer die streekelektrisiteitsverspreidersmodel, met omheinde, gereguleerde kragverspreiders. Kry die deelname van die private sektor.

Gee die koste van ondoeltreffende kragverbruik aan verbruikers deur: Met minder krag wat verkoop word, styg die vaste koste van die netwerk per eenheid. Netwerkgelde kan dié effek verlig, maar dit kan verbruikers aanmoedig om heeltemal te dros.

Slimkragmeters kan gebruik word om verbruikers meer te vra vir krag wat in spitstye gebruik word, veral dié wat sonkrag gebruik maar steeds aan die kragnetwerk verbind is.

Subsidies vir armes: Kragverspreiders behoort nie die las van subsidies vir armes te dra nie. Dit is ’n funksie van die nasionale tesourie.

* De Vos is stigter en direkteur van QED Solutions, wat korporatiewe finansierings- en adviesdienste lewer.

Meer oor:  Eskom  |  Kragopwekking  |  Elektrisiteit  |  Staatsinstellings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.