Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Munisipale skuld aan Eskom groei 42%
Die brandende filament van ’n elektriese gloeilamp.

Munisipaliteite in die Vrystaat en Mpumalanga skuld saam byna R10 miljard aan Eskom, en die agterstallige skuld van munisipaliteite aan die kragvoorsiener het oor die afgelope boekjaar met R4,1 miljard tot R13,5 miljard gegroei, het Eskom Woensdag in ’n voorlegging aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê.

Die stygende agterstallige skuldvlakke het ’n “nasionale uitdaging” geword en het teen einde April reeds R13,886 miljard beloop, blyk uit Eskom se voorlegging.

Teen Maart vanjaar was 93% van die agterstallige skuld vir rekeninge wat al 90 dae oud of langer is, vergeleke met 64% ’n jaar gelede.

Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom, het weer eens gesê Eskom is reg vir die winter en daar sal nie beurtkrag wees nie.

Die munisipale skuld het met 42% gegroei van 2017 tot 2018 en dit bedreig Eskom se finansiële volhoubaarheid. Mabuza het gewaarsku dat institusionele beleggers bekommerd is want “as Eskom nie sy skuld kan invorder nie, hoe gaan hy sy eie lenings kan terugbetaal?”

Ayanda Noah, uitvoerende bestuurder vir kliëntediens by Eskom, sê die skuldvlakke daal gewoonlik in Junie en Julie wanneer die munisipaliteite hul toedelings van die nasionale tesourie ontvang, maar dit het nie die afgelope boekjaar ’n noemenswaardige verskil aan die stygende tendens gemaak nie.

Noah het daarop gewys dat die rente op die skuld van munisipaliteite oor die afgelope boekjaar reeds R1,5 miljard beloop het.

In van die munisipaliteite betaal groot maatskappye nou al eerder regstreeks aan Eskom pleks van via die munisipaliteit.

Eskom se pogings om munisipaliteite te help sluit in om tariewe te rasionaliseer, en die opsies van 11 tot 3 te verminder. Dit sal eers in Julie volgende jaar ingestel kan word. Die rentekoers op hul skuld is verlaag van die primakoers plus 5% tot die primakoers plus 2,5%.

Die groot munisipaliteite wat wel goeie betalers is, word verplig om Eskom binne 15 dae te betaal.

Meer oor:  Eskom  |  Jabu Mabuza  |  Skoor  |  Staatsinstellings  |  Munisipale Skuld  |  Kragvoorsiening  |  Munisipaliteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.