Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom jok oor Optimum – sakeredders
Hope steenkool lê by die Optimum-steenkoolmyn in Mpumalanga. Foto: Centre for Environmental Rights

Dis nonsens dat die gebeure by Tegeta se steenkoolmyne die groot rede is hoekom Eskom ’n steenkooltekort by van sy kragstasies het, sê Louis Klopper, sakeredder wat by dié myn aangestel is.

Tegeta se Optimum-myn lewer tans sowat 200 000 ton steenkool per maand aan die Hendrina-kragstasie in Mpumalanga.

Phakamani Hadebe, waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, het verlede Donderdag in ’n oorsig van die stand van sake by die kragverskaffer hoofsaaklik die Tegeta-myne die skuld gegee vir Eskom se tekort aan steenkool.

“Tegeta is in sakeredding en dit het ons beïnvloed,” het hy gesê.

Eskom moet sy eie huis in orde kry en nie net die myne – hetsy Optimum of sy eie – vir sy tekorte kwalik neem nie.
Louis Klopper, sakeredder

“Eskom moet sy eie huis in orde kry wat steenkoolkontrakte betref en nie net die myne – hetsy Optimum of sy eie – vir sy tekorte kwalik neem nie,” sê Klopper.

Klopper sê die myn kan voortgaan om dié hoeveelheid steenkool aan Eskom te lewer, maar hy gaan oor die prys moet onderhandel. Eskom betaal tans R201,46 per ton vir steenkool wat Optimum lewer. Die myn verdien R1 000 per ton wat hy uitvoer.

Klopper en sy vennote sê in hul sakereddingsplan vir dié myn hulle wil met Eskom onderhandel om 200 000 ton steenkool per maand teen tussen R430 en R450 per ton te verskaf.

Optimum het voorheen 400 000 ton steenkool per maand teen R201,46 per ton aan die kragstasie gelewer.

Eskom sê in ’n verklaring hy is in gesprek met die sakeredders oor die nuwe volumes.

“Ons wil dit duidelik stel dat Eskom nie ingestem het om die prys enigsins aan te pas nie,” luidens die verklaring.

“Indien Eskom sou besluit om laer volumes steenkool soos wat deur die sakereddingspraktisyns voorgestel word te aanvaar, sal dit teen die huidige kontrakprys wees.”

Klopper sê sedert ’n ooreenkoms met Burgh Group Holdings (BGH) gesluit is, verdien die myn R1 000 per ton steenkool wat aan die Britse maatskappy Vitol gelewer word.

Hofstryd op hofstryd

Louis Klopper sê die sakeredders moes sedert hulle beheer op 19 Februarie van agt Gupta-maatskappye oorgeneem het, male sonder tal in die hof verskyn.

Hy sê daar is reeds 28 hofsake teen die firmas gebring om die sakeredders óf toegang tot die maatskappye te weier óf om hulle as sakeredders te verwyder.

“Ons het al 22 van dié sake gewen,” sê hy.

Die ander ses is nog nie afgehandel nie.

Planne

Die sakeredders se langtermynplan vir Optimum is om die myn te verkoop.

Vir eers gaan die myn vir ’n jaar lank steenkool aan Vitol lewer.

Dit volg nadat die sakeredders ’n ooreenkoms met BGH se Ezimiwayo Consulting gesluit het om 200 000 ton steenkool per maand via Richardsbaai uit te voer, sê Klopper.

Volgens Klopper gaan Optimum, solank sy huidige kontrak met Eskom in plek is, ook aanhou om steenkool aan Hendrina te lewer.

Klopper sê die grootste rede hoekom die myn in sakeredding geplaas is, is bloot omdat hy nie meer toegang tot bankdienste gehad het nie. Dit was nadat die Bank of Baroda aangekondig het hy onttrek uit Suid-Afrika. Dit was die laaste bank tot die omstrede Gupta-familie se beskikking nadat ander groot banke reeds vantevore hul bande met die Guptas en hul maatskappye verbreek het.

’n Deel van die kontrak met BGH sluit in dat Optimum dié maatskappy se bankgeriewe kan gebruik. BGH sal ook die myn vir die volgende jaar op ’n dag-tot-dag-grondslag bestuur.

Die sakeredders sê hulle het die koopkontrak gekanselleer ingevolge waarvan die onbekende Switserse firma Charles King die myn vir R2,97 miljard sou koop. Oakbay Resources, die beheermaatskappy van Tegeta, het in Augustus aangekondig hy verkoop Optimum aan Charles King.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, het sedertdien gesê die sakeredders moet verseker die myn word nie aan dié maatskappy – wat ook met die Guptas verbind kan word – verkoop nie.

Meer oor:  Tegeta  |  Eskom  |  Oakbay  |  Guptas  |  Louis Klopper  |  Phakamani Hadebe  |  Optimum  |  Hendrina  |  Steenkoolkontrakte  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Kragstasies  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.