Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Eskom kan nie nét met besnoeiing gered word’

Eskom het opnuut ’n hulpkreet uitgestuur oor die enorme hoop skuld van munisipaliteite aan die nutsmaatskappy, asook die skuld van inwoners van Soweto, wat hul krag regstreeks van Eskom koop.

Kraglyne en koeltorings van Eskom se Lethabo-steenkoolkragstasie naby Sasolburg. Foto: Reuters

Calib Cassim, die nutsmaatskappy se finansiële hoof, het Woensdag voor die nasionale energiereguleerder (Nersa) gesê “munisipale skuld, tesame met Eskom se swak finansiële en bedryfsprestasie, is ’n sistemiese risiko vir die volhoubaarheid van die maatskappy”.

Cassim voer aan Eskom probeer sy bedryfskoste besnoei. Die nutsmaatskappy het nog geen afleggings aangekondig nie, met die uitsondering van afleggings op topbestuursvlak. Die Wêreldbank het in 2016 beraam Eskom het 66% te veel personeel vir die hoeveelheid krag wat hy opwek.

Cassim sê egter: “Die tekort in tariewe kan nie net deur kostebesnoeiings bereik word nie, en hoewel sommige mense sê Eskom moet die skuldmark nader (nog effekte uitreik), dra groter skuldvlakke tot die probleem by. Tussen 2007-’08 en 2017-’18 het Eskom se skuld tien keer groter geword, teenoor die styging van vyf keer in kragtariewe.”

Eskom wek 95% van Suid-Afrika se krag op, en die Wêreldbank het vroeër die week gesê Eskom is net te groot om te misluk.

Paul Noumba Um, die Wêreldbank se direkteur vir Suid-Afrika, het Dinsdag in Johannesburg gesê: “Dis net te groot om toe te laat dat dit disintegreer, en om al die stukkies reg te maak, sal duurder wees om dit te probeer hervorm.”

Eskom het R420 miljard se skuld, insluitende die skuld wat aangegaan is om die nuwe kragstasies, Medupi en Kusile, te bou.

Nersa hou op die oomblik landwyd openbare sittings oor Eskom se tariefaansoek vir die volgende drie jaar. Eskom vra 15% vir elkeen van die drie jaar. Dis benewens verhogings van nagenoeg 4,41% per jaar vir vier jaar wat Nersa reeds goedgekeur het vir Eskom se agterskotrekening-aansoeke (RCA).

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Elvira Wood

Die RCA-proses is om Eskom te vergoed vir enige tekorte wat ontstaan as die tariewe wat vooruit goedgekeur is, te min blyk te wees. Nersa het egter net die helfte van Eskom se RCA-aansoeke goedgekeur omdat die reguleerder die onderverhaling voor Eskom se deur gelê het.

Cassim het Woensdag gesê Eskom se munisipale skuld is nie net meer Eskom se probleem nie. ’n Interministeriële taakspan wat die departement van openbare ondernemings, tesourie en ook Nersa-amptenare insluit, is betrek.

Pres. Cyril Ramaphosa het glo ook reeds ’n voorlopige verslag ontvang van ’n groep energiekenners uit die private sektor en akademie wat hy aangestel het om Eskom se omkeerplan te ondersoek.

“Wat duidelik is, is dat Eskom nie alleen sy uitdagings vir finansiële en bedryfsvolhoubaarheid kan oplos nie. Die omkeer van Eskom is ’n reis oor tyd wat uiters afhanklik is van die aktiewe betrokkenheid van die aandeelhouer (die regering), Nersa en ander belanghebbendes, insluitende verbruikers,”sê Cassim.

Volgens Thys Möller, hoofbestuurder vir verbruikersdienste, sê die afgelope 18 maande het munisipale skuld met 80% gestyg. Teen einde September was dit R17 miljard. In dieselfde tyd het Soweto-inwoners se totale skuld, rente ingesluit, ook tot R17 miljard gestyg.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, het in November gesê munisipale skuld styg elke maand met nagenoeg R1 miljard, wat dit nou reeds op R21 miljard kan bring. Dis nie bekend hoe skerp Soweto se skuld elke maand styg nie.

Ondanks ’n moeilike jaar het likiditeit by Eskom wel verbeter en het bedryfsprestasie tot onlangs verbeter, maar munisipale skuld aan Eskom is nou al op R18 miljard teen einde Oktober. Dit klim teen ongeveer R1 miljard per maand.

Eskom het 80 000 verdeelde voorafbetaalde meters in Soweto geïnstalleer. Wanbetalers word deurgaans afgesny.

Nersa gaan na verwagting in Maart sy besluit oor die tariewe bekend maak.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Calib Cassim  |  Phakamani Hadebe  |  Elektrisiteit  |  Krag  |  Kragtariewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.