Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom kán stok in Gupta-wiel druk
Die verskaffingskontrak met die Optimum-steenkoolmyn bring enorme verliese mee omdat Eskom heeltemal te min vir dié steenkool betaal.

Eskom gaan gróót skade ly indien Tegeta Resources, wat die Optimum-steenkoolmyn besit, aan ’n buitelandse eienaar verkoop word. Maar net Eskom kan dié transaksie keer.

Tegeta se eienaars, die Gupta-familie se Oakbay Investments en Duduzane Zuma, ’n seun van pres. Jacob Zuma, sal egter die grootste deel van die koopsom van R2,97 miljard in hul sak kan steek.

Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies en nou ’n senior lid van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, het die komitee Dinsdag gewaarsku teen skade wat Eskom kan ly.

’n Onberispelike bron wat die fyner besonderhede ken van hoe die Guptas Optimum in 2015 gekoop het, sê: “Eskom het verskeie aansprake wat hom daarop geregtig maak om ’n stokkie te steek voor die transaksie waarin Tegeta aan [die firma] Charles King in Switserland verkoop word.

“Die belangrikste is die kontrak tussen die Optimum-steenkoolmyn om 5,5 miljoen ton steenkool per jaar aan die Hendrina-kragsentrale te lewer teen R150 per ton plus inflasie.”

Die verskaffingskontrak bring enorme verliese mee omdat Eskom heeltemal te min vir dié steenkool betaal.

Toe die Guptas en Duduzane Zuma die myn in Desember 2015 gekoop het, was die verlies sowat R3 miljoen per dag.

Duduzane Zuma, een van pres. Jacob Zuma se seuns en mede-eienaar van Tegeta.

In onderhandelinge daaroor met Glencore, die vorige eienaar, was dit Eskom wat daarop aangedring het dat die Optimum-steenkoolterminus reg langs die myn sáám met die myn aan die Guptas verkoop word, sodat die uitvoer van steenkool, wat baie winsgewend is, die verskaffing aan Eskom kan subsidieer.

Die steenkoolterminus behoort aan ’n afsonderlike maatskappy wat ’n reg het om tussen 6,5 miljoen ton en 8 miljoen ton steenkool per jaar deur Richardsbaai se steenkoolterminus uit te voer.

“Die myn se waarde is dus negatief, maar die steenkoolterminus met sy uitvoerregte is uiters waardevol. Daarom het Eskom daarop aangedring dat die terminus saam met die myn verkoop word. Die reg om steenkool deur Richardsbaai uit te voer, is van die waardevolste bates in Suid-Afrika se mynbedryf.

“Daarmee het hulle ’n aandeel van 7,5% in die steenkoolterminus in Richardsbaai gekry – iets waaroor ander swart-ekonomiese-bemagtigingsmaatskappye in die mynbedryf net kan droom,” sê Rapport se bron.

“Niks sal ’n nuwe eienaar keer om die twee bates te skei en afsonderlik te verkoop nie. Dit kan maklik daarop uitloop dat die steenkool nie meer aan Hendrina gelewer word nie,” sê Rapport se bron.

Die verkoopprys van R2,97 miljard is ook verdag. In 2013 het Glencore dit oorweeg om die myn en die steenkoolterminus te verkoop. Waardasies het ’n waarde van sowat R4,5 miljard op die myn en die steenkoolterminus geplaas. Daarby is ingereken rehabilitasiekoste van R1,8 miljard wat aangegaan moet word om omgewingskade te herstel wanneer die myn sluit.

Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom.

Met die R1,8 miljard moet ’n omgewingstrust opgebou word deur ’n gedeelte van die myn se omset daarin te stort terwyl die myn in bedryf is. Oakbay het vroeër gesê dié geld is aan die Indiese Bank of Baroda oorgedra.

Adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, het in haar verslag oor staatskaping gesê dit is oënskynlik op onwettige maniere gedoen.

Die departement van minerale bronne is veronderstel om toesig te hou dat die rehabilitasietrust in stand gehou word, maar Mosebenzi Zwane, die minister, het volgens alle aanduidings ’n groot rol gespeel dat die Guptas die myn kon oorneem. Hoewel hy die transaksie sou kon keer, word hy beskou as een van die Guptas se belangrikste beskermhere in die kabinet.

Dit was egter nie die steenkooluitvoer deur Richardsbaai wat die aankoop van Optimum gesubsidieer het nie.

Eskom, destyds onder die bestuur van Brian Molefe, het dit self gedoen.

Madonsela het onthul hoe Eskom R495 miljoen aan Tegeta voorgeskiet het vir steenkool wat aan die Arnot-kragsentrale verskaf moes word. Die steenkool is gelewer teen net minder as R700 per ton – verreweg die duurste prys wat Eskom vir grootmaat-steenkool betaal het.

“Dit lyk asof dit suiwer gedoen is om Tegeta in staat te stel om die koop van Optimum Steenkool Beherend (die beheermaatskappy van die myn en terminus) te finansier,” het Madonsela bevind. Eskom het uiteindelik R700 miljoen bestee om steenkool teen dié prys van Tegeta te koop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.