Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom kanselleer groot kontrak weens ‘ongerymdhede’

Eskom het Econ Oil & Energie reeds ingelig van sy planne om ’n kontrak van soveel as R14 miljard vir die verskaffing van brandolie te kanselleer.

Eskom het sy kontrak met Econ Oil gekanselleer.

Dit kom nadat in ’n ondersoek bevind is Econ Oil het oordrewe pryse vir sy produk gevra en dat daar ongerymdhede was met die toekenning van die tender.

Econ Oil het in 2019 ’n vyfjaarkontrak met Eskom gesluit vir die verskaffing van olie.

Nothemba Mlonzi, direkteur van Econ Oil, wou nie kommentaar lewer nie. Volgens haar is daar ’n regsaak hangende tussen haar maatskappy en Eskom, hoewel sy nie daaroor wou uitwei nie.

Econ Oil is volgens sy webwerf heeltemal in die besit van ’n groep swart vroue en is volgens inligting van die registrateur van maatskappye in Desember 2001 gestig.

Sy hoofkantoor is in Randhart in Alberton in Gauteng.

Volgens sy webwerf verskaf hy brandolie aan ’n verskeidenheid van klante en bied hy ook stoorplek vir hierdie tipe brandstof.

Volgens persone met kennis van die saak het Eskom reeds vroeër vandeesmaand begin met die geregtelike proses om sy kontrak met Econ Oil te kanselleer.

Dit volg op die voltooiing van ’n verslag deur Wim Trengove, ’n gerekende advokaat van Thulamela Chambers in Johannesburg, rakende die toekenning van die kontrak aan Econ Oil.

Die ondersoek is aanvanklik in Januarie deur Sifiso Dabengwa, toe nog ’n nie-uitvoerende direkteur van Eskom, aangevra nadat die maatskappy se bestuur sy direksie genader het om toestemming te kry om die kontrak te kanselleer.

Dabengwa het vroeër vandeesweek sy bedanking ingedien sonder dat ’n rede daarvoor verskaf is.

In sy bedankingsbrief, wat Bloomberg intussen in die hande kon kry, het Dabengwa aangevoer hy stem nie saam met die bevindinge van die ondersoek nie en dat daar “geen bewyse van bedrog en korrupsie” by Econ Oil gevind is nie, net bewerings daarvan.

Dabengwa wou ook nie Vrydag kommentaar lewer nie.

Trengove het onder meer bevind Econ Oil se pryse was heelwat meer as dié van sy mededingers wat ook om die kontrak gebie het, tog is die tender aan Econ Oil toegestaan.

Eskom sê hy gaan die omstandighede ondersoek waaronder die tender toegeken is en sal – “waar van toepassing” – dissiplinêr teen die betrokke werknemers optree.

Die kragvoorsiener is steeds besig om alle groot kontrakte te hersien, deels in ’n poging om koste te besnoei, maar ook om ongerymdhede uit die weg te ruim en moontlike korrupsie te ontbloot.

Volgens Eskom sal hy nie skroom om stappe te doen om bedrieglike kontrakte te kanselleer, sy verliese te probeer herwin en die skuldiges aan die pen te laat ry nie.

Meer oor:  Econ Oil  |  Eskom  |  Bedrog  |  Kragvoorsiening  |  Tenderbedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.