Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom-kaping: 7 dinge wat die oë laat rek

Sowat R178 miljard se Eskom-tenders vir alles van kragstasies tot melk en suiker was die afgelope dekade korrup, wys ’n spesiale ondersoek van die regsfirma Bowmans wat nou eindelik die daglig begin sien.

 

Die Kusile-megasteenkoolkragstasie is een van die grootste steenkoolkragstasies ter wêreld. Foto: Gallo Images

News24 het ’n spesiale ondersoek begin om die ware omvang van die bedrog en korrupsie in Eskom oor die jare van staatskaping vas te stel.

Die span het bevind dat die aanvanklike ondersoek deur Bowmans deur voormalige direksielede van Eskom in 2019 geblokkeer is in ’n poging om die omvang van die korrupsie te verberg. Die besonderhede van die ondersoek het nou uiteindelik aan die lig gekom.

Die bevindings in News24 se ondersoek – waarvan die eerste drie reeds gepubliseer is – sal in sarsies gepubliseer word.

Jy kan die eerste artikel hier lees, die tweede hier, en die derde hier.

Die topsewe-punte wat jy van News24 se bevindings moet weet, is:

1. André de Ruyter hervat ondersoek

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, en prof. Malegapuru Makgoba, voorsitter van Eskom, het met hul aankoms in 2020 die opspraakwekkende ondersoek na die korrupsie in Eskom deur die regsfirma Bowmans hervat. Die ondersoek het onder meer R178 miljard se korrupte tenders geïdentifiseer wat sowat die helfte van Eskom se totale skuld verteenwoordig.

2. Kusile was die kontantkoei

Die Kusile-megasteenkoolkragstasie het hoofsaaklik gedien as die manier waarop Eskom-bestuurders hulself verryk het deur opgeblase besteding in ruil vir miljoene rande se omkoopgeld en gunslone goed te keur. Twaalf enorme private maatskappye het ingestem om omkoopgeld te betaal en sodoende hul rekening aan Eskom opgeblaas om Kusile se begroting van R81 miljard tot meer as R160 miljard op te stoot.

3. Daar was ’n omkoopfonds

Die peperduur lewenstyle van drie Eskom-bestuurders, France Hlakudi, Mildred Nyoka en Diana Motlou, is betaal deur die Babinatlou-omkoopfonds, wat deur die sakeman Hudson Kgomoeswana bestuur is. Maatskappye wat met Eskom wou sake doen, moes geld by dié fonds inbetaal.

4. Die vier grootste omkopers

Volgens die ondersoek het Tenova Mining met R46,2 miljoen verreweg die meeste by die Babinatlou-fonds inbetaal. Esor Construction het R20,5 miljoen, Tubular Construction het R6,2 miljoen en Stefannuti Stocks het R2,2 miljoen inbetaal. ’n Totaal van R76,2 miljoen is by Babinatlou inbetaal om die Eskom-bestuurders om te koop.

Die maatskappye het die bewerings ontken.

5. Maatskappye is hopeloos te veel betaal

Die maatskappye wat die omkoopgeld betaal het, het op húl beurt honderde miljoene rande meer vir hul werk by die Kusile-megaprojek gevra. Die parlement het gehoor dat net betalings aan Tenova R735 miljoen te veel was.

Eskom is met die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besig om gelde wat oorbestee is aan die kontrakte terug te kry. Honderde miljoene rande is al ingevorder, maar van die ondersoeke sleep nog voort.

6. Adj.pres. David Mabuza ook betrek

Adj.pres. David Mabuza se stigting het in 2016 altesaam R30 miljoen via Eskom vanaf General Electric (GE) ontvang as deel van R100 miljoen se “strategiese aansporing” vir GE om kontrakte vir die Kusile-projek te bekom. Mabuza was toe premier van Mpumalanga, waar die Kusile-kragstasie geleë is.

LEES OOK: David Mabuza moet waai oor Eskom-korrupsie – DA

Die Valke asook die FBI in Amerika het Mabuza en GE nou in hul visier. GE het R17 miljard se kontrakte by Eskom vir Kusile gekry.

Frans Sithole, voormalige Eskom-bestuurder, het na bewering die R30 miljoen-betaling aan die DD Mabuza-stigting voorgestel en namens GE gemaak. Hy ontken egter dat so ’n betaling ooit gemaak is, al het News24 bewyse van sy gesprekke met sowel GE as die stigting en Mabuza.

7. GE se kontrak in aparte ondersoek

GE se kontrak vir R17 miljard word ook nou in ’n aparte ondersoek deur die SOE bekyk. GE moes turbines, verkoelingstelsels en ander besoedelingstelsels in Kusile installeer.

Meer oor:  General Electric  |  Eskom  |  David Mabuza  |  André De Ruyter  |  Kusile  |  Omkoopgeld  |  Korrupsie  |  Kragstasies  |  Staatskaping  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.