Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom klap landwyd sweep teen munisipaliteite

Eskom is besig om munisipaliteite landwyd te dreig met stikdonkerte indien hulle nie begin betaal vir krag nie. Vir die eerste keer blyk dit suksesvol te wees om ’n “kultuur van wanbetaling” hok te slaan.

Eskom stuur byna daagliks waarskuwings aan munisipaliteite uit om te begin betaal of afgesny te word van die kragnetwerk. Foto: Unsplash

“Die oomblik wat munisipaliteite nou skuldig raak aan wanbetaling, stuur ons vir hulle ’n kennisgewing dat hul krag af gesit sal word,” sê Stefanie Jansen van Rensburg, hoofskakelbeampte van Eskom in die Vrystaat en die Noord-Kaap.

Nuwe kennisgewings moet byna daagliks uitgestuur word. Baie munisipaliteite word ook gereeld van die kragnetwerk ontkoppel.

Daar is Dinsdag “ten minste een” munisipaliteit sonder krag in die Vrystaat, sê Jansen van Rensburg. Die Letsemeng-munisipaliteit het ook Maandag gehoor sy krag sal op 20 Februarie afgesit word indien hy nie begin betaal nie.

Bykans 40 000 mense woon in die Letsemeng-munisipaliteit. Aanvanklik sal dié mense wel nog oornag krag hê.

“Die Kamiesberg-munisipaliteit se krag sou vandag [Dinsdag] afgesit geword het, maar hy het net betyds ’n betaling gemaak wat die ontkoppeling vir eers opgeskort het.”

Wat bemoedigend is, is juis dat relatief min munisipaliteit werklik van die kragnetwerk ontkoppel hoef te word. Dit blyk asof hulle begin luister na Eskom se ernstige dreigemente.

Die Khai-Ma-munisipaliteit, waaronder onder meer Pofadder val, se krag is op 11 Februarie om 06:00 afgesit. Dit was veronderstel om tot 20:00 daagliks af te wees, maar teen 12:00 dieselfde dag het dié munisipaliteit ook begin betalings maak aan Eskom, wat toe weer die krag aangesit het.

Eskom dreig wanbetalende munisipaliteite met aanvanklik net agt uur se toegang tot elektrisiteit per dag om die “impak op verbruikers te versag”, maar sê dat totale afwesigheid van krag sal volg indien ’n ooreenkoms om skuld te vereffen, nie kort daarna gemaak word nie.

Jansen van Rensburg sê Eskom gee eers ’n kennisgewing aan oortreders met ’n waarskuwingstydperk van ’n paar weke voordat hulle dan die besluit neem om die krag af te sit. “Weens die tydperk waarin ’n munisipaliteit nog ’n plan kan maak om te begin betaal nadat ons hulle gewaarsku het, kan ons nie name noem totdat hulle heeltemal versuim het om ’n betalingsplan op te stel nie.”

Sy sê daar is minstens twee ander munisipaliteite in die Noord-Kaap en een in die Vrystaat wat onlangs ingelig is dat net ’n paar weke het voor Eskom hulle krag sal afsit.

In Limpopo is drie munisipaliteite verlede week gewaarsku dat hulle sal moet begin betaal of ook donkerte in die gesig staar.

Volgens Tess Maroos-Mabitsela, kommunikasiedirekteur van Eskom in Limpopo, het al drie dié wanbetalende munisipaliteite vinnig ’n betalingsplan beding om te verseker dat hul ligte sal aanbly. Een ander munisipaliteit het ook onlangs ’n betalingsooreenkoms gesluit, maar Eskom sê hy wag vir een wat sy voete sleep.

Joyce Zingoni, kommunikasiedirekteur van Eskom in KwaZulu-Natal, sê Dinsdag dat daar geen munisipaliteite in die provinsie van die kragnetwerk ontkoppel is nie. Volgens haar is die grootskaalse veldtog teen wanbetalers besig om vrugte te dra en KwaZulu-Natal is al baie suksesvol daarin om munisipaliteite te oortuig om te betaal.

Die laaste keer wat ’n munisipaliteit in KwaZulu-Natal gedreig is met ontkoppeling was toe twee aan die einde van 2019 kennis gegee is. Hulle het kort daarna betaal.

Jansen van Rensburg sê die Wes-Kaap het geen probleme met munisipaliteite wat nie betaal vir krag nie. “Hulle betaal altyd,” lag sy.

Soweto

Eskom het ook in Desember begin om die krag af te sny van diegene wat nie in Soweto daarvoor betaal nie, asook enigeen wat met meters peuter of onwettig aan die netwerk koppel. Dit veroorsaak uiteraard onmin: Inwoners in onder meer sone 5 van Meadowlands het vroeg in Desember buitebande gebrand en paaie versper toe hul krag vir vier dae afgeskakel is.

Soweto se inwoners koop krag regstreeks van Eskom, in plaas van deur City Power of die munisipaliteit. Die nutsmaatskappy probeer die kultuur van wanbetaling daar beveg met die uitrol van voorafbetaalmeters, maar dié pogings word in die wiele gery deur betogings en verbruikers wat lol met die meters.

Sowat R38 miljard is aan Eskom geskuld teen Oktober 2019, waarvan omtrent die helfte die skuld van munisipaliteite is.

’n Groot deel van die ander helfte is die skuld van Soweto.

Meer oor:  Eskom  |  Munisipale Skuld  |  Staatsondernemings  |  Wanbetaling  |  Munisipaliteite  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Wanbetalers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.