Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom-korrupsie: Paleis vol Smeg-toestelle

As deel van ’n reeks artikels oor korrupsie wat by Eskom ondersoek word, kyk News24 na die leefstyl van France Hlakudi.

Met beweerde omkoopgeld van sowat R22 miljoen het France Hlakudi, voormalige senior Eskom-bestuurder, sy huis in ’n paleis omskep.

France Hlakudi se huis in Moreletapark, Pretoria. Foto: News24

Hlakudi is skynbaar lief vir ’n rojale, luukse leefstyl: Sy kombuis is opgeknap vir bykans R1 miljoen deur die kombuisargitekte Weizter met Italiaanse Smeg-kombuistoestelle van R90 000, eksotiese bome van R71 000, granietblaaie van R71 000 en tuistegnologie van R300 000.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het vandeesweek begin om op van Hlakudi se bates beslag te lê wat volgens hulle met die opbrengs uit misdaad aangekoop is. Luidens ’n beëdigde verklaring deur adv. Hermione Cronje, hoof van die NVG se ondersoekdirektoraat, is Hlakudi met soveel as R22 miljoen omgekoop.

Hy staan tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog en belastingbedrog.

Hy het geen koste ontsien om sy huis in Moreletapark in Pretoria tot ’n herehuis op te knap nie, danksy geld wat hy van die vermeende omkoopfonds Babinatlou Business Services ontvang het.

Bankstate, fakture en konsep- forensiese verslae deur die regsfirma Bowmans in die sogenaamde Eskom Files, bevat ’n omvattende beeld van elke verandering wat Hlakudi in sy huis aangebring het.

’n Faktuur van SVZ Construction in Julie 2017 bevat besonderhede oor Hlakudi se aankoop van Smeg-kombuistoestelle van R90 000.

Dit sluit in:

  • ’n Oond van tussen R7 000 en R42 000;
  • ’n Gaskookplaat van tussen R5 000 en R26 000;
  • Opwarmingslaaie van ongeveer R11 000;
  • ’n Mikrogolfoond van tussen R5 000 en R13 000;
  • ’n Vrieskas en yskas van tussen R13 000 en R40 000.

Die kontrakteurs het op 24 Julie 2017 nog ’n kwotasie van Weizter gegee om “moderne kaste” te installeer wat R937 770 gekos het. Weizter spog op sy webblad dat 90% van sy kombuisgoedere in Duitsland vervaardig word.

Verdere kombuisverbeterings wat op dieselfde dag gefaktureer is, het toerusting van R60 000 ingesluit, granietblaaie van R70 025 en ’n opgradering van R25 000 aan die bestaande kroeg.

Die Eskom Files bevat ’n aantal dokumente, waaronder duisende bladsye briewe, forensiese verslae, e-posse en bankstate wat uitgelek het. Verskeie maatskappye wat betrokke was by die bou van die Kusile-steenkoolkragstasie het meer as R76 miljoen in beweerde omkoopgeld aan Babinatlou oorbetaal nadat hulle kontrakte of verlengings van kontrakte van Eskom ontvang het.

LEES OOK: Eskom-kaping: 7 dinge wat die oë laat rek

Eskom het Bowmans in 2018 gekontrakteer om kontrakte by die bouwerk by Kusile, Medupi en Ingula te ondersoek.

Die Kusile-kragstasie, wat nog nie ten volle in bedryf is nie, het Eskom – en die belastingbetaler – al meer as R160 miljard gekos.

France Hlakudi toe hy ’n vorige keer in die hof verskyn het. Foto: Deaan Vivier

Dit sou aanvanklik R81 miljard gekos het.

Hlakudi, wat tot met sy bedanking in 2017 ’n senior bestuurder vir kapitaalkontrakte by Eskom was, was blykbaar die middelpunt van die Babinatlou-skema en die uitbetalings daarvan. Die NVG se eenheid vir batebeslaglegging het Dinsdag beslag gelê op bates ter waarde van meer as R1,4 miljard wat aan Hlakudi en sy vermeende makkers behoort het.

Babinatlou het byna R3 miljoen bestee om Hlakudi se private woning in Blouhaakweg in die ooste van Pretoria op te knap.

Maar volgens ’n reeks fakture van SVZ Projects – die kontrakteur wat gehuur is om aan Hlakudi se huis te werk – kan die totaal miljoene meer wees.

Die groot rekonstruksie

Uit die fakture is dit duidelik dat Hlakudi se huis ’n volledige opknapping ondergaan het – mure is afgebreek, deure is toegemessel en nuwe deuropeninge is bygevoeg, die motorhuis is verleng en staaltrappe is gebou en aan ’n solderkamer verbind, volgens fakture van SVZ Projects.

Die fakture en ander dokumente bevat inligting oor die betalings wat Tenova Mining and Minerals aan Babinatlou gedoen het.

News24 het vroeër berig Bowmans het bevind Tenova is een van die kontrakteurs wat miljoene rande in beweerde omkoopgeld aan Babinatlou betaal het.

Die eerste betaling van Tenova aan Babinatlou is op 30 November 2016 gedoen en op dieselfde dag het Babinatlou R535 625 daarvan gebruik om SVZ Projects te betaal, volgens die dokumente in die Eskom Files.

Emissions rise from a tower of the Eskom Holdings
Eskom se Kusile-kragstasie in Mpumalanga. Dit kos al meer as R160 miljard, meer as dubbeld die geraamde koste toe begin bou is. Foto: Getty Images

Hlakudi het skynbaar geen koste ontsien nie, ook nie vir sy tuin nie. Hy het op 10 Februarie 2017 ’n faktuur ontvang vir “Buddleja saligna-bome (witolien) soos per foto gestuur”, ter waarde van meer as R71 000.

Op 31 Maart 2017, nadat Tenova R7,6 miljoen in die Babinatlou-rekening betaal het, het die maatskappy aan R1,14 miljoen SVZ Projects betaal.

Op 31 Julie 2017 het Tenova R3,2 miljoen in Babinatlou se rekening betaal. Die volgende dag het die maatskappy R940 000 aan SVZ Projects betaal, volgens ’n forensiese verslag in die Eskom Files. Nog ’n betaling van R300 000 is op 8 November 2017 aan SVZ gemaak, ’n dag nadat Tenova R3,2 miljoen in Babinatlou betaal het.

’n Maand later is Babinatlou vir Hlakudi se slaapkamerstoep gefaktureer, wat ook verbou is, asook die bo- en onderstoep, met teëls gekoop by Italtile teen ’n prys van meer as R77 000, volgens die fakture.

’n Faktuur vir plaveisel van SVZ Projects, wat R200 000 gekwoteer het, bevat ’n veiligheidsdeur van Mutual Safe van R15 082, terwyl ’n prys vir die badkamer ’n skakelaar vir ’n veiligheidskamer insluit, wat vermoedelik in die stort ingebou is. Die badkamer is blykbaar toegerus met luukse verhitte handdoekrakke van R3 000 elk.

Hlakudi se swembad het ’n opgradering van byna R180 000 gekry, volgens ’n faktuur op 20 Junie 2017.

Hlakudi wou van sy huis ’n “slimhuis” maak, met ’n kwotasie van Elite Technologies gedateer 24 Julie 2017 vir outomatisering, teaters en beligtingsbeheer van R318 612.

Richard Späth, besturende direkteur van Tenova, het vroeër aan News24 gesê hy het sy kommer oor die aanstel van Babinatlou vermeld aan Eskom, die nasionale tesourie, die Valke en die spesiale ondersoekeenheid, en hy ontken enige oortreding.

News24 het Hlakudi om kommentaar genader, maar hy het die geleentheid van die hand gewys.

News24

Meer oor:  Eskom  |  France Hlakudi  |  Korrupsie  |  Kragstasies  |  Staatskaping  |  Bedrog  |  Omkoopgeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.