Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom-korrupsie: Van pastoor tot magnaat

 In sy reeks artikels oor die korrupsie wat by Eskom ondersoek word, kyk News24 dié keer na die loopbaan van Abram Masango, hoof van kapitaalprojekte by Eskom. Hy is in 2018 geskors.

Abram Masango, Eskom se voormalige hoof van groepkapitaal.

Een van Eskom se mees senior bestuurders het na bewering probeer om ’n kontrak vir sy minnares en die ma van sy kind te bewimpel om boumateriaal vir die Kusile-kragstasie in Mpumalanga te lewer. Die vrou is ’n pastoor in die Oos-Kaap en het oënskynlik geen vorige ervaring in die boubedryf nie.

Abram Masango, wat tot met sy skorsing in 2018 die hoof van Eskom se kapitaalprojekte was, het ’n kind by die vrou van Kariega (Uitenhage). Hy het haar aanvanklik vir “geestelike leiding” besoek.

Luidens ’n konsep-vorderingsverslag van die regsfirma Bowmans het Masango glo sy invloed in Eskom gebruik om kontrakte te kry vir ’n maatskappy waar dié vrou skielik as direkteur aangestel is.

Dit blyk in te sluit die lewering van grondlaagmateriaal wat in die bou van fondamente in Kusile gebruik word.

E-posboodskappe en forensiese verslae in die sogenaamde Eskom-lêers wys dat Masango nie net ’n sentrale figuur in die uitgebreide bedrogskema by Kusile was nie, maar ook oënskynlik probeer het om sy liefdeskind te versorg deur verskaffingskontrakte vir sy minnares se maatskappy te probeer fasiliteer.

Bowmans het Masango se verbintenisse met die beweerde omkoopfonds Babinatlou Business Services ondersoek, volgens dokumente in die Eskom-lêers, wat duisende uitgelekte briewe, forensiese verslae, e-posboodskappe en bankstate bevat.

LEES OOK: Eskom-korrupsie: Paleis vol Smeg-toestelle

Masango het glo ook voordeel getrek uit gunslone van die Kusile-kontrakteurs.

Sy betrokkenheid by die vrou, wie se naam nie genoem word nie om die kind se identiteit te beskerm, word in besonderhede uitgestippel in die e-posboodskappe, korrespondensie en ’n forensiese verslag wat Bowmans in 2019 vir Eskom opgestel het.

Die onthullings oor die omvang van korrupsie by Eskom duur voort. Foto: Bloomberg

Die e-posboodskappe tussen Masango en sy minnares wys hoe hy probeer het om haar te help met haar sakebedrywighede, soos om kommunikasie met Eskom-amptenare te fasiliteer.

Masango se regsverteenwoordiger het aan News24 gesê hy kan nie oor die saak kommentaar lewer nie “omdat dit die onderwerp van regstappe kan wees”.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het verlede week suksesvol beslag gelê op bates van Masango en verskeie ander voormalige Eskom-amptenare, onder wie Masango se assistent Frank Hlakudi, asook op bates van Tony Trindade en Mike Lomas, bestuurders van Tubular Construction Projects.

Tubular was een van die kontrakteurs by Kusile wat miljoene rande aan beweerde gunslone betaal het.

Hulle word deur klagte van korrupsie, bedrog en geldwassery in die gesig gestaar.

Masango het in Julie 2012 kontak gemaak met die vrou, wat toe ’n pastoor van Hope Ministries in Kariega was, omdat hy glo na ’n “geestelike mentor en entrepreneur-afrigter” op soek was. Maar op grond van ’n e-posboodskap wat hy aan haar gestuur het, het Bowmans uitgewys dat sy motief oënskynlik nie “geestelik of altruïsties” was nie.

“Wat duidelik is, is dat Masango iets beplan het waarvoor hy (die vrou se) hulp benodig het,” lui Bowmans se verslag.

Só lui een van Masango se boodskappe aan haar:

“Dankie vir die aanvaarding van my versoek. Ons sal na die plan kyk. Ek weet ek is ’n besige mens wat probeer om seker te maak Suid-Afrikaners kry so gou as moontlik elektrisiteit, maar ek moet begin om selfsugtig te word deur ook my toekoms op die voorpunt te plaas. Met jou leiding hoop en glo ek dat ek daarin sal slaag.”

Vinnige opgang

Volgens Bowmans is die vrou binne ’n maand ná dié boodskap – op 6 Augustus 2012 – as ’n direkteur van ’n maatskappy aangestel en op 29 Augustus 2012 het sy ’n e-pos aan Masango gestuur om hom in te lig oor die naam van haar maatskappy en die omvang van die steenkool wat sy aan Eskom kan verskaf.

Luidens ’n e-posboodskap in die verslag het Masango die vrou in kontak gebring met ’n Eskom-amptenaar en gesê daar is “talle klein steenkoolverskaffers wat wil deelneem aan die proses om steenkool aan Eskom te verskaf”.

Hy het die amptenaar gevra om haar regstreeks te kontak.

Dit lyk asof die vrou Masango deurlopend van haar sakebedrywighede op die hoogte gehou het.

Volgens die verslag en e-posboodskappe het sy maatskappyversoeke en kontrakinligting na Masango gestuur sodra sy dit ontvang het.

Op 3 Oktober 2012 het sy ’n navraag aangestuur van ’n konstruksiemaatskappy wat haar gevra het of sy ’n vloot vragmotors vir die Kendal-kragstasie kan verskaf.

Volgens Bowmans het sy die versoek dieselfde dag nog aan Masango gestuur. Op 14 Oktober 2012 is die besonderhede van ’n vervoerkontrak aan haar gestuur, waarna sy dit die volgende dag na Masango aangestuur het, volgens Bowmans.

Meer as net geestelik

Hul verhouding het mettertyd meer ingewikkeld en persoonlik geraak, volgens Bowmans.

“Dit lyk of die verhouding tussen Masango en die vrou meer as net kommersieel of selfs geestelik was, en op 12 Februarie 2013 het sy hom in ’n e-posboodskap berispe dat hy wou wegsteek dat hulle ’n kind saam het (om sy huwelik te beskerm),” het Bowmans gesê.

Dit blyk sy het ook, benewens sy sakesteun, voordeel uit gunste van Masango getrek.

Volgens Bowmans het sy in 2014 ’n “kwotasie vir die herstel van haar Mercedes-Benz GL350-motorvoertuig aan Masango gestuur”.

Teen Maart 2014 is sy oënskynlik as uitvoerende hoof en aandeelhouer aangestel in ’n ander onderneming wat ’n kontrak van die konstruksiefirma Afrimat gekry het om grondlaagmateriaal aan Kusile te verskaf.

Andries van Heerden, uitvoerende hoof van Afrimat, het gesê hulle het die betrokke maatskappy vir ’n kort tydperk as kontrakteur gehad, maar Masango was nie by die besluit betrokke nie.

“Teen Oktober 2018 was die vrou ’n direkteur of lid van 33 maatskappye of beslote korporasies, en sy was ’n direkteur of lid van nog 11 wat gederegistreer was,” sê Bowmans.

Talle van dié maatskappye is steenkool- en mynboumaatskappye. In 2017 het die omkoopfonds Babinatlou R1 miljoen aan haar onderneming betaal. Dit is onduidelik of die betalings betrekking het op die steenkool- of vervoerkontrakte en of dié kontrakte gerealiseer het.

In 2018 het Eskom Masango van wangedrag en die misbruik van sy posisie aangekla. Dit hou verband met die beweerde gunslone wat hy van die kontrakteurs by Kusile ontvang het. Eskom het hom geskors voordat hy bedank het. Sikonathi Mantshantsha, Eskom-woordvoerder, sê daar is nie enige inligting oor die vrou se maatskappye op Eskom se tenderlys nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.