Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom kort ’n ‘charismatiese leier’
Phakamani HadebeFoto: Elvira Wood

Eskom se nuwe uitvoerende hoof gaan iemand moet wees wat die hele land weer “opgewonde” moet maak oor die kragreus. Die persoon gaan boonop ’n baie sterk leier moet wees met goeie kennis van Eskom en sy uitdagings.

Hy of sy gaan nie net ’n formidabele sakeman of -vrou moet wees wat bereid is om dié pos vir minstens vyf tot tien jaar te vul nie, die persoon gaan ook politiek uit Eskom moet hou.

“Een van die grootste uitdagings vir die nuwe uitvoerende hoof gaan wees om veral die werknemers by Eskom weer opgewonde te maak oor die kragreus,” sê Douwe van Wyk, ’n ingenieur wat voorheen by Eskom gewerk het.

Hy en George van der Merwe, ook ’n oudwerknemer, het in Februarie aan Netwerk24 gesê volgens hul kennis en ervaring van Eskom gaan dit 20 jaar en “baie geld” kos om die kragreus weer volhoubaar te kry. Hulle is twee van die ingenieurs wat op die vakbond Solidariteit se versoek gereageer het om op ’n databasis van kenners te registreer wat bereid sal wees om te help.

Lees ook: Eskom se oud-ingenieurs: ‘20 jaar se harde werk lê voor’

Nadat Eskom Vrydag aangekondig het dat Phakamani Hadebe sy bedanking as uitvoerende hoof van Eskom ingedien het, het Netwerk24 Van der Merwe en Van Wyk gevra wie hulle dink in dié pos aangestel moet word.

Een van die grootste uitdagings vir die nuwe uitvoerende hoof gaan wees om veral die werknemers by Eskom weer opgewonde te maak oor die kragreus.
Douwe van Wyk

Albei se reaksie is dat hoewel hulle weet watter vaardighede en ervaring dié persoon behoort te hê, is dit nie moontlik om spesifieke individue uit te wys nie.

Hulle sê dit sou ideaal wees om iemand te kry wat óf tans by Eskom werk, óf wat voorheen daar gewerk het en bereid sal wees om dié pos te vul.

“Die persoon gaan egter ’n baie skoon rekord moet hê,” sê Van der Merwe.

“My gevoel is dat dit iemand met ’n ingenieursagtergrond moet wees wat regtig verstaan wat die uitdagings is.”

Chris Yelland, energiekenner en uitgewer van EE Publishers, het voorheen gesê hy dink daar is net vyf moontlike kandidate vir die pos:

  • Nelisiwe Magubane: Direkteur van Eskom, voormalige direkteur-generaal van die departement van energie en elektriese ingenieur.
  • Dr. Rod Crompton: Direkteur van Eskom, professor aan die Universiteit van die Witwatersrand se Sakeskool, en voorheen 11 jaar lank direkteur van die Nasionale Energiereguleerder.
  • Sifiso Dabengwa: Direkteur van Eskom, voormalige uitvoerende hoof van MTN, en ’n elektriese ingenieur.
  • Calib Cassim: Finansiële hoof van Eskom sedert November 2018.
  • Jan Oberholzer: Bedryfshoof van Eskom.

Oor dié voorstelle sê Van der Merwe hy dink nie Cassim of Oberholzer moet uit hul huidige poste geskuif word nie.

Sy voorstel is dat hulle eerder gelos moet word om die goeie werk wat hulle tans doen, voort te sit.

“Stel eerder iemand bo hulle aan wat hulle teen enige politieke inmenging sal beskerm,” sê hy.

Van Wyk stem saam dat die nuwe uitvoerende hoof sonder twyfel ’n baie goeie begrip van die land se politiek, veral wat Eskom betref, moet hê.

“Dit gaan ’n baie sterk leier wees wat in dié pos aangestel word. Hy of sy gaan politiek uit Eskom moet hou, want die oomblik as jy toelaat dat politici by jou onderneming inmeng, het jy probleme.”

Meer oor:  Eskom  |  Phakamani Hadebe  |  Elektrisiteit  |  Kragvoorsiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.