Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom kry steeds nie geld terug van Trillian, Tegeta
André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Elvira Wood

Eskom sukkel steeds om miljarde rande uit maatskappye soos die Guptas se Trillian Management Consulting en Tegeta Exploration & Resources terug te kry.

Volgens ’n voorlegging van André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, Donderdag aan die parlement se staande komitee oor openbare ondernemings (Skoor), het Eskom nog niks gekry van die R600 miljoen wat hy van Trillian eis of die R5 miljard van Tegeta nie.

Die R600 miljoen is deel van die betaling van R1,6 miljard deur Eskom aan Trillian in ’n kontrak met die internasionale konsultantefirma McKinsey.

Trillian-entiteite was kwansuis die plaaslike bemagtigingsvennote vir die kontrak.

McKinsey het reeds in 2018 sy R1 miljard plus rente aan Eskom terugbetaal.

Eskom en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het saam aansoek gedoen dat Trillian gelikwideer moet word.

De Ruyter sê daar sal nog gesien moet word hoeveel geld Eskom wel gaan terugkry, gegewe dat die SAID ook eise teen dié maatskappy het.

Wat betref Tegeta, hou die eis van R5 miljard verband met ’n steenkoolkontrak wat al jare gelede beklink is, maar wat die hooggeregshof vroeër vanjaar ongeldig verklaar het. Dié kontrak is in Maart 2015 gesluit en was aanvanklik R3,7 miljard werd.

De Ruyter sê dit lyk nou of hulle moontlik net sowat R1,24 miljard van die R5 miljard gaan terugkry.

Eskom eis nie net geld van dié twee maatskappye nie.

Ander eise sluit die volgende in:

* Deloitte

Eskom het Deloitte oorspronklik vir R207 miljoen gedagvaar vir kontrakte wat in 2016 nie na behore toegeken is nie. Eskom en Deloitte het in Maart geskik. Deloitte het R171 miljoen betaal.

* PwC

Eskom het in April ’n eis van R95 miljoen teen dié ouditmaatskappy gebring. Eskom sê net soos in die geval van Deloitte, is dié geld onwettig aan PwC betaal. Hoewel die kragreus reeds ’n brief aan PwC gestuur het waarin hy die geld eis, kon hy weens die staat van inperking nog nie met regsaksie begin nie.

* ABB

Eskom wil glo geld terugkry van ABB, ’n Switserse maatskappy wat toerusting verskaf. Dit volg nadat daar onreëlmatighede was met ’n kontrak wat aan dié maatskappy toegestaan is. Eskom sê nie hoeveel geld hy eis nie.

* Wilge-behuisingsprojek

Eskom het as deel van die konstruksie van die Kusile-kragsentrale huise vir werkers gebou. Weens nalatigheid deur die algemene bestuurder verantwoordelik vir fasiliteite by dié projek, het Eskom sowat R76 miljoen verloor. Eskom eis nou die volle bedrag van die werknemer wat sedertdien afgedank is.

* Meagra Transport

Meagra het bedrieglike fakture ter waarde van R35 miljoen ingedien vir die vervoer van steenkool tussen 2016 en 2018. Eskom het in dié stadium R3 miljoen teruggekry, maar wil die res ook terugkry. De Ruyter wys daarop dat die voormalige eienaar van Meagra en ’n voormalige Eskom-werknemer saam van 53 klagte van bedrog aangekla word.

* Africawide Consulting

Dié maatskappy het ’n kontrak ter waarde van R9 miljoen gekry sonder dat die nodige prosesse gevolg is. Daarna is die waarde van die kontrak boonop sonder die goedkeuring van die tesourie tot R17 miljoen verhoog. Eskom eis nou die volle bedrag terug van Africawide.

* Impulse International

De Ruyter sê net Eskom het sy prokureurs opdrag gegee om die volle bedrae “volledig te verhaal” van “al die kontrakte wat aan Impulse toegeken is”.

Eskom het tenders van R1 miljard aan Impulse toegestaan. Matshele Koko was in daardie stadium Eskom se hoof van opwekking. Sy stiefdogter, Koketso Choma, was ’n nie-uitvoerende direkteur van Impulse.

Koko het bedank voordat Eskom ’n tugverhoor teen hom kon begin.

Wanneer al die bedrae bymekaar getel word, eis Eskom meer as R7 miljard van dié nege maatskappye.

In dié stadium het hy egter net R174 miljoen daarvan teruggekry. Dit is die R171 miljoen van Deloitte en die R3 miljoen van Meagra.

Lede van Skoor het behoorlik gal afgegaan en gevra wanneer gaan Eskom strafregtelike klagtes teen alle betrokke partye begin.

Veronica Mente, EFF-LP, sê dat wanneer daar met belastingbetalers se geld gewerk word, moet daar volle verantwoordelikheid aanvaar word. Die geld moet nie net teruggeëis word nie, maar alle oortreders moet vervolg word.

Meer oor:  Deloitte  |  Trillian  |  Tegeta  |  Eskom  |  Pwc  |  Andre De Ruyter  |  Skoor  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.