Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Eskom lieg vir die publiek oor beurtkrag’

Eskom is besig om vir die publiek te lieg oor sy pogings om beurtkrag onder beheer te bring.

Ted Blom, energiekenner, sê aan Netwerk24 die jongste skielike aankondiging van beurtkrag Sondag kom as gevolg van ’n reeks kragstasies wat, ondanks Eskom se jaar lange poging om nuwe lewe in ou kragstasies te blaas, onklaar geraak het.

Ted Blom, konsultant van Mining & Energy Advisors.

“Eskom se huidige kennisgewing wat aandui dat tien eenhede by verskillende kragstasies gelyktydig onklaar geraak het, is miskien ’n goeie aanduiding van die stand van beloftes wat deur die nuwe Eskom-topbestuur gemaak is dat hulle binne 18 maande alle kragstasies nuwe lewe sou gee met hul nuwe beleid van ‘betroubaarheidsinstandhouding’,” sê Blom.

Eskom het in Julie 2020 begin met ’n projek van diepteherstelwerk aan sy verouderde steenkoolkragstasies, wat hy langtermyninstandhouding of "betroubaarheidsinstandhouding" noem.

Hierdie projek was daarop gemik om binne net meer as ’n jaar alle ou steenkoolkragstasies wat oor en oor probleme gee en naby die einde van hul leeftyd is, só te herstel dat hulle die betroubaarheid van die kragstelsel noemenswaardig verbeter en sodoende ’n “beduidende” verskil aan die gereeldheid van beurtkrag maak.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, is op rekord waar hy gesê het dat dié herstelwerk teen einde April vanjaar ’n “aansienlike” verbetering sou meebring en dat beurtkrag heelwat minder toegepas sou word.

Die einddoel is dat die werk teen einde September vanjaar voltooi sal wees, wat sal beteken dat beurtkrag “beduidend” minder toegepas word.

Maar Blom sê dit is leë beloftes.

“Volgens berigte wat ek weekliks ontvang van kontrakteurs wat ter plaatse by die kragstasies werk, word daar nog steeds net ‘spoeg-en-plak’-instandhouding gedoen omdat Eskom nie beter kan bekostig nie en sodat die eenhede weer gou in bedryf gestel kan word,” sê Blom.

“Derhalwe lyk dit vir my asof Eskom nog steeds agteruitboer en dat hy steeds besig is om die publiek te mislei – net soos wat dieselfde uitvoerende bestuur telkemale by Nersa gelieg het oor die voorkoms en impak van bedrog in Eskom.”

Verouderde kragstasies

Die gemiddelde ouderdom van Eskom se 15 steenkoolkragstasies is 37,5 jaar. Die meeste is net ontwerp om 30 tot 40 jaar te hou.

Nadat die Majuba-kragstasie in 1996 vir die eerste keer krag gelewer het ná ’n langdurige bouproses, het die land 18 jaar gewag voordat hy weer krag van ’n nuwe kragstasie ontvang het, naamlik die omstrede (en steeds onvoltooide) Medupi-steenkoolkragstasie.

Die drie oudste steenkoolkragstasies, Camden, Grootvlei en Komati, is in vorige jare afgesit en hernu om vir langer krag te kan lewer. Dit is nou al gemiddeld meer as 55 jaar dat hierdie drie kragstasies krag aan die netwerk lewer.

Namate die kragstasies soveel ouer word, raak betroubaarheid beduidend minder.

Die Camden-steenkoolkragstasie in Mpumalanga naby Ermelo. Dié kragstasie het in April 1967 begin krag opwek en is in 1990 afgetree weens ouderdom. Eskom het miljarde van 2003 tot 2010 bestee om dié kragstasie, en twee ander, weer te laat krag lewer. Foto: Eskom

Steenkoolkragstasies wat só oud is, skop gereeld uit en ondervind lekkasies aan die stoomketels, wat die uitset van die kragstasie erg belemmer.

Dit is hierdie gebrek aan betroubaarheid wat Eskom nou probeer oplos met sy diep herstelwerk.

‘Naby ineenstorting’

Blom is egter daarvan oortuig dat die nutsmaatskappy steeds op die rand van die afgrond staan.

“Daarom raai ek steeds alle belanghebbendes aan om maar liewer voorsiening te maak vir hul eie kragopwekking, synde Eskom nie vertrou kan word om homself reg te ruk nie en die een of ander tyd weer sonder kennisgewing in duie kan stort – net soos hulle Sondagaand eers hul beurtkragkennisgewing uitgestuur het nadat dit reeds in werking was.”

Meer oor:  Eskom  |  Kragkrisis  |  Steenkoolkragstasies  |  Instandhouding  |  Beurtkrag  |  Staatsondernemings  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.