Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom-miljarde: Wie is die 12 wat glo brou met Optimum?

Eskom eis R3,8 miljard van 12 mense wat na bewering betrokke was by ongerymdhede toe die Guptas die Optimum-steenkoolmyn gekoop het.

Eskom sê Maandag in ’n verklaring dat hy saam met die spesiale ondersoekeenheid die hooggeregshof in Pretoria genader het vir ’n dagvaarding om die geld terug te kry.

Die Gupta-beheerde Tegeta Exploration & Resources het die myn in 2016 vir R2,5 miljard van Glencore gekoop.

Dié transaksie het oor die jare baie aandag in die verslag oor staatskaping van Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, die parlement se ondersoek na gebeure by Eskom, asook die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping geniet.

Hier is die lys van die 12 van wie Eskom sy geld wil terugeis, met ’n kort opsomming van hul betrokkenheid by die Optimum-transaksie.

Brian Molefe

Brian Molefe Foto: Argief

Hy was van April 2015 tot November 2016 uitvoerende hoof van Eskom.

Clinton Ephron, voormalige uitvoerende hoof van Optimum, het in Februarie 2019 voor die Zondo-kommissie getuig dat Molefe Eskom se kontrak met Optimum opgeskort omdat Glencore Eskom glo R2 miljard aan boetes geskuld het.

Daar word beweer dat Molefe gehelp het om druk uit te oefen op Glencore om die myn aan die Guptas te verkoop.

Molefe se naam staan sentraal in Madonsela se verslag.

Haar ondersoek wys dat hy Ajay Gupta tussen 2 Augustus 2015 en 22 Maart 2016 – juis te midde van die onderhandelinge tussen die Guptas en Eskom oor die myn – 44 keer gebel het. Ajay Gupta het Molefe op sy beurt 14 keer in dié tyd gebel.

Tussen 5 Augustus en 17 November 2015 was Molefe ook glo 19 keer in die Saxonwold-omgewing in Johannesburg waar die Guptas se huis was.

Molefe het sy teenwoordigheid daar verdedig deur te beweer dat daar ’n sjebien in die vooraanstaande buurt is en dat hy dit besoek het.

Anoj Singh

Anoj Singh Foto: Argief

Hy was van Augustus 2015 tot September 2017 die finansiële hoof van Eskom.

Daar is bewerings dat hy betrokke was by gesprekke om die boete van R2,1 miljard, wat Eskom aan Optimum opgelê het, te laat “verdwyn” voordat Tegeta die myn koop. Daar is later op R577 miljoen geskik.

Daar word beweer dat die Guptas vir van Singh se reise na Dubai betaal het. Singh het dit ontken.

Hy is ook spesifiek by die reël van ’n waarborg van R1,6 miljard vir Tegeta betrek. Daar is voorgegee dat die waarborg vir die koop van steenkool was, maar dit was eintlik vir Tegeta om finansiering te kry vir die koop van die Optimum-myn, het uit getuienis in 2017 voor die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings se ondersoek na staatskaping by Eskom geblyk.

Matshela Koko

Matshela Koko Foto: Argief

Hy het in September 1996 by Eskom as ’n ingenieur begin werk. Hy dien sedert 2014 as uitvoerende direkteur van Eskom, en word op 1 Desember 2016 as waarnemende uitvoerende hoof aangestel. Hy is in Mei 2017 op spesiale verlof geplaas hangende ’n ondersoek nadat ’n maatskappy, waarvan sy stiefdogter ’n direkteur was, minstens R1 miljard binne 11 maande uit ’n kontrak met Eskom verdien het. Hy het in Februarie 2018 bedank voordat ’n tugverhoor gehou kon word.

Luidens getuienis voor die Zondo-kommissie het Koko dit in November 2015 duidelik gestel dat Eskom nie die verkoop van die Optimum-myn aan Tegeta sal ondersteun as dit nie al die bates van Optimum Beherend insluit nie.

Dit sluit Koornfontein asook die steenkooleindpunt in Richardsbaai in.

Koko het ook glo finansiële druk op Glencore uitgeoefen om die myn aan Tegeta te verkoop.

Suzanne Daniels

Suzanne Daniels Foto: Argief

Sy is in Januarie 2012 by Eskom aangestel. Sy is in Oktober 2015 tot maatskappysekretaris bevorder en in Augustus 2017 as regshoof aangestel.

Sy is op 20 Julie 2018 ná ’n tugproses afgedank.

Sy is juis by Eskom oor onder meer haar betrokkenheid by die transaksie met Tegeta afgedank.

Wat betref die skikking oor die Optimum-myn se boete wat Tegeta oorgeneem het, het Singh gesê dat Daniels die ondertekening van die ooreenkoms na hom gedelegeer het.

Daniels het onder meer glo op 24 November 2015 ’n vergadering bygewoon wat Eskom gereël het.

Ander wat dié vergadering bygewoon het, sluit in Nazeem Howa, Ashu Chawla en Ronica Ragavan. Hulle het die Guptas verteenwoordig. Koko en Edwin Mabelane van Eskom het saam met Daniels die vergadering bygewoon.

Dr. Ben Ngubane

Dr. Ben Ngubane Foto: Argief

Hy het van 1 Oktober 2015 tot 13 Junie 2017 as die voorsitter van Eskom se direksie gedien.

Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister van minerale bronne, het in Mei 2017 voor die Zondo-kommissie getuig dat Ngubane en Molefe probeer het om druk op hom te plaas om die Guptas te help om die Optimum-myn te koop.

Hy wou glo gehad het dat Ramatlhodi al Glencore se myne onmiddellik moes sluit. Ngubane wou glo ’n onmiddellike besluit daaroor hê, sodat hy terugvoering aan oudpres. Jacob Zuma kon gee.

Ngubane het sy bewerings as “leuens” bestempel.

Chwayita Mabude Foto: Acsa
Chwayita Mabude

Sy het van Junie 2011 tot 23 Junie 2017 as ’n direkteur van Eskom gedien.

Sy was deel van Eskom se tenderkomitee wat die transaksie goedgekeur het dat Tegeta die Optimum-myn kon koop.

Daar is ook beweer dat sy vriende met die Guptas was.

Mark Pamensky

Mark Pamensky Foto: Argief

Hy het van 11 Desember 2014 tot 1 Januarie 2017 as ’n direkteur van Eskom gedien.

Hy was ook gedurende dié tyd ’n direkteur van Oakbay.

Hy word daarvan beskuldig dat hy inligting oor Eskom met die Guptas gedeel het.

Hy het spesifiek op Eskom se beleggingskomitee gedien.

Pamensky het glo op 21 November 2015 ’n e-pos aan atul@ann7.com gestuur, waarin hy die verkoop van Optimum aan Tegeta met Atul Gupta bespreek het. Hy het vir Atul Gupta gesê daar moet werk gemaak word van die boete van R2,1 miljard wat aan Optimum opgelê is, oftewel dat Tegeta moet sorg dat hy nie die boete hoef te betaal as hy die myn by Glencore koop nie.

Mosebenzi Zwane

Mosebenzi Zwane Foto: Deaan Vivier

Hy was van 23 September 2015 tot 25 Februarie 2018 die minister van minerale bronne.

Zwane het in Desember 2015 saam met Tony Gupta, Salim Essa en Ivan Glasenberg, uitvoerende hoof van Glencore, in Switserland vergader om die verkoop van die myn aan Tegeta te bespreek.

Ephron het getuig dat Zwane die vergadering geïnisieer het, hoewel hy voorheen telkens ontken het dat hy op

só ’n vergadering was.

Zwane was ook glo agter die voorstel om R1,6 miljard vooruit aan Tegeta te betaal, juis sodat hy die myn kon koop.

“Dit was nie Eskom se voorstel om die voorafbetaling te doen nie. Dit was die reaksie wat ons van die departement van minerale bronne gekry het,” het Singh in Januarie 2018 voor die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings se ondersoek na staatskaping by Eskom getuig.

Salim Essa Foto: Argief
Salim Essa

Hy was ’n vennoot van die Gupta-broers, wat onder meer as ’n direkteur van Trillian gedien het.

Essa het die Gupta-familie op die vergadering met Glencore in Switserland in Desember 2015 verteenwoordig.

Essa het hom toe glo as Zwane se raadgewer voorgestel.


Ajay Gupta

Hy is die oudste van die Gupta-broers.

Daar is state van ’n totaal van 58 telefoonoproepe tussen hom en Molefe tussen 2 Augustus 2015 en 22 Maart 2016.

Ajay en Atul Gupta. Foto: Gallo Images
Tony Gupta Foto: Argief

Atul Gupta

Hy is die tweede oudste van die Gupta-broers.

Rajesh “Tony” Gupta

Hy is die jongste van die drie Gupta-broers.

Tony Gupta het ook die vergadering in Desember 2015 in Switserland bygewoon.

Meer oor:  Eskom  |  Oakbay  |  Tegeta Exploration & Resources  |  Brian Molefe  |  Salim Essa  |  Anoj Singh  |  Mosebenzi Zwane  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.