Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom ‘misgis hom’ oor afsny van krag – Sakeliga

Eskom “maak die verkeerde gevolgtrekkings” uit die uitspraak wat die afgelope week gelewer is in ’n saak wat Pioneer Foods teen die kragreus aanhangig gemaak het, sê die Sakeliga.

ligte, elektrisiteit
Die hof het bevind Eskom mag die Walter Sisulu-munisipaliteit se krag afsny omdat die munisipaliteit agterstallige skuld het. Foto: Pexels.com

Die hof het bevind Eskom mag die Walter Sisulu-munisipaliteit se krag afsny omdat die munisipaliteit agterstallige skuld het. Pioneer het beswaar gemaak dat die krag na sy mieliemeelfabriek in Aliwal-Noord afgesny is, al het hy sy kragrekening aan die munisipaliteit betaal.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga, sê Eskom se gevolgtrekking dat die uitspraak hom ’n onbeperkte reg gee om krag na wanbetalende kliënte af te sny, is verkeerd.

Le Roux sê die spesifieke saak het meer gegaan oor wat Pioneer se regte is.

Boonop, sê Le Roux, is daar talle ander hofsake waarin regters tot presies die teenoorgestelde gevolgtrekking gekom het.

Eskom het die afgelope maande aggressief begin om die krag na wanbetalende munisipaliteite af te sny om hulle tot ’n skuldafbetalingsplan te dwing. Munisipaliteite het Eskom einde Augustus R31,5 miljard geskuld.

Eskom het onlangs die krag na onder meer Kamieskroon en Garies afgesny en die Kamiesberg-munisipaliteit het net ’n dag later begin onderhandel oor die terugbetaling van sy agterstallige skuld.

Die krag na die Lekwa-Teemane-munisipaliteit (Christiana) in Noordwes is in Augustus weer aangeskakel nadat die munisipaliteit ’n skuldafbetalingsplan beding het, maar dis pas weer afgesny omdat die munisipaliteit nie aan die plan voldoen het nie.

In dié gevalle sny Eskom die krag nie heeldag af nie, maar vir ure op ’n slag, soortgelyk aan beurtkragskedules.

Le Roux sê die Sakeliga steun die beginsel dat kliënte moet betaal vir dienste gelewer, maar Eskom se strategie “is nie ’n oplossing nie en ook nie wettig nie”. Hy beskryf dit as betalende kliënte wat as gyselaars aangehou word.

“Daar moet eerder na oplossings gesoek word om elektrisiteitsbetalings weg te hou van die geldkas van verkwistende munisipaliteite, waar dit vassit, gesteel en vermors word en weerhou word van verskaffers van dienste en infrastruktuur, waarvan elektrisiteit maar een voorbeeld is.”

Die Sakeliga is van mening dat die Pioneer-uitspraak gegrond is op ’n “kombinasie van tegniese en inhoudelike aangeleenthede, met die inhoudelike aangeleenthede wat boonop op die oog af gronde vir appèl daarstel”.

Hy verwys na die saak wat die eiendomsfirma Resilient aanhangig gemaak het en waar die hooggeregshof in Pretoria einde Augustus teen Eskom beslis het. Resilient, wat die Highveld Mall in eMalahleni besit, het suksesvol betoog teen die afsny van die krag, al het die munisipaliteit agterstallige skuld by Eskom.

“In dié saak het Sakeliga die howe tot dusver suksesvol gehelp om vas te stel dat die versuim van ’n plaaslike munisipaliteit om sy skuld aan Eskom te betaal, ’n interregeringsgeskil is en dat dit nie betalende eindgebruikers se probleem moet wees nie. Dié argumente is nie in die Pioneer Foods-saak aangevoer nie.”

Die saak wag op ’n uitspraak deur die appèlhof.

“Die publiek het reeds daarin geslaag om tientalle interdikte van dieselfde aard te bekom as wat Pioneer Foods teen Eskom gevra het. Sakeliga voorsien dat die neiging sal bly ten gunste van betalende eindgebruikers wat geen verantwoordelikheid dra vir die wanbestuur van munisipaliteite nie.”

Meer oor:  Eskom  |  Sakeliga  |  Munisipale Skuld  |  Kragvoorsiening  |  Kragonderbreking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.