Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom moet opdok oor hy krag afsny

Twee jaar nadat Eskom ’n hofsaak oor die afsny van ’n munisipaliteit se krag verloor het, is ’n kostebevel ook teen die nutsmaatskappy verkry.

Die kostebevel in die guns van die Sakeliga gaan oor die saak wat die organisasie teen Eskom oor Musina gebring het.

Eskom word toenemend verbied om munisipaliteite se krag af te sit, al is hulle wanbetalers. Foto: Getty Images

Eskom het in 2018 en 2019 die krag na alle gebruikers in Musina, onder wie betalende sakeondernemings, afgeskakel nadat die plaaslike munisipaliteit versuim het om die geld aan Eskom oor te betaal.

Díe regsaksie was die eerste suksesvolle ingryping deur die Sakeliga om te keer dat Eskom elektrisiteit van betalende sakelui en ander gebruikers weerhou.

Regsargumente wat daar ontwikkel is, het sedertdien “die weg vir verdere suksesse gebaan”, waarvan die vernaamste die uitspraak in Desember 2020 in die appèlhof is in die saak wat die eiendomsfirma Resilient teen Eskom gebring het, sê Sakeliga in ’n verklaring.

“Danksy dié uitspraak brand die ligte tans in dorpe landwyd, aangesien dit verhoed dat Eskom die elektrisiteit na plaaslike gemeenskappe in geheel, onder wie betalende kliënte, weens munisipaliteite se wanbetaling afskakel.”

Eskom het intussen na die konstitusionele hof geappelleer. Die Sakeliga sê egter hy sal dié saak ook teenstaan om “betalende sakelui te beskerm”.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga, sê die organisasie sal die geld van die kostebevel gebruik “ter bevordering van ons regstrategie om suksesvolle plaaslike sakegemeenskappe te verseker. Hiervoor is betroubare elektrisiteit ’n vereiste.

“Ons kan nie toelaat dat elektrisiteit na betalende gebruikers onderbreek word – dat hulle ekonomies as gyselaar aangehou word – net omdat een staatsorganisasie nie sy rekeninge by ’n ander staatsorganisasie betaal nie.”

Le Roux sê die Sakeliga wil die struktuur van elektrisiteitsvoorsiening in die land verander. “Benewens ons verdere rol in die Resilient-saak werk ons regspan tans ook aan verdere litigasie. Dit is nie genoeg om Eskom bloot te verhoed om elektrisiteit af te skakel nie – ons moet by ’n volhoubare oplossing kom.

“Die volgende stap is om te verseker dat betalende gebruikers se gelde aan Eskom oorbetaal word, en nie verdwyn in die koffers van mislukkende munisipaliteite en korrupte amptenare nie.

“Uiteindelik moet verbruikers by enige verskaffer – en nie net Eskom nie – regstreeks kan krag koop. Ons hoop om eersdaags verdere aankondigings te doen.”

Meer oor:  Eskom  |  Sakeliga  |  Piet Le Roux  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.