Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: Net 7 kan sê oor plan met R59 miljard
pylons,eskom,electricity
Eskom is steeds diep in die skuld.

Ten spyte van al die besware en geraas oor die reddingsboei van R59 miljard vir Eskom, kon net sewe mense hulself sover kry om amptelike insette te lewer oor die voorwaardes en pad vorentoe.

Die parlementêre komitees oor toewysings, finansies en openbare ondernemings het die afgelope week byeengekom om insette en voorleggings van belanghebbendes aan te hoor voordat daar oor die spesiale toewysingswetgewing gestem sal word wat die nasionale tesourie in staat sal stel om ekstra geld aan Eskom te bewillig.

Skriftelike voorleggings is ontvang van Cosatu, Outa (die Organisasie teen Belastingmisbruik), die National Union of Mineworks (NUM), die Vishoek-belastingbetalersvereniging, die Sentrum vir alternatiewe inligting en ontwikkeling (AIDC), die Finansiële en Fiskale Kommissie en ’n e-pos van ’n werklose gegradueerde in mensehulpbronbestuur.

In vraetyd het Yunus Carrim, ANC-komiteelid, opgemerk dat dit vreemd is dat daar net drie mondelinge aanbiedings was vir ’n gewigtige kwessie soos die Eskom-reddingsboei.

Net Matthew Parks, Cosatu se parlementêre koördineerder, Ronald Chauke, energie-ontleder by Outa, en Dick Forslund, senior ekonoom by die AIDC – ’n organisasie wat hom beywer vir maatskaplike en ekonomiese geregtigheid – het die afgelope week mondelinge voorleggings aan LP’s gemaak.

Almal het gesê hoewel hulle nie die reddingsboei vir Eskom teenstaan nie, dit met bepaalde voorwaardes gepaard moet gaan.

Cosatu en die NUM het ook voorleggings gedoen waarin hulle te velde trek teen enige stap wat poste by Eskom in gedrang kan bring.

Chauke het gesê Tito Mboweni, minister van finansies, moet gestand doen aan die voorwaardes wat hy gestel het en enige verdere uitbetalings stop as Eskom nie gehoor gee daaraan nie. “Betalings moet ook gekoppel word aan die uitvoering van sy regrukstrategie,” het Chauke gesê.

Cosatu se Parks het op sy beurt gepleit dat die toewysing aan Eskom bespoedig moet word om die kragreus en diegene wat daar werk uit die verknorsing te help. Cosatu se voorwaardes sluit in dat daar geen werksverliese mag wees nie en dat Eskom nie geprivatiseer sal word nie.

’n Argieffoto van die nasionale vergadering. Parlementêre komitees het die afgelope week voorleggings aangehoor van die publiek oor ’n spesiale toewysing van R59 miljard aan Eskom. Foto: Lisa van Deventer

“Ons beveel ook aan dat ryk elektrisiteitsverbruikers en die wat te veel gebruik meer betaal,” het Parks gesê. “Dit moet gegrond wees op die waarde van hul eiendomme en ondernemings se winsmarges.”

Forslund het gesê Eskom se sukses behoort gemeet te word aan die maatskaplik-ekonomiese voordele wat dit lewer en nie om wins te maksimaliseer nie. Hy het ook voorgestel dat geld van pensioenfondse oorweeg moet word om Eskom te finansier.

Peter Attard Montalto van Intellidex, wat hoogs krities is oor die gebrek aan afdwingbare voorwaardes aan Eskom, het aan Rapport gesê die feit dat so min voorleggings ingedien is, hou waarskynlik verband met die feit dat Suid-Afrikaners meen daar is geen ander keuse as om geld aan Eskom te gee nie.

“In die geval van die SAL kan ’n mens nog reken daar is ander opsies – soos om gedeeltes te privatiseer – maar nie met Eskom nie.”

’n Ingeligte na aan Eskom het op sy beurt gesê die bedrae ter sprake vir Eskom raak eenvoudig te groot en dis asof mense nie besef hoeveel geld ter sprake is nie.

“Die bewilliging van R59 miljard is byvoorbeeld gelykstaande aan die geld wat die regering sou kry as hy BTW met twee persentasiepunte sou verhoog – iets waaroor vakbonde ’n groot bohaai gemaak het.

“Dis asof mense nie die berekening mooi kan maak nie.”

Ten spyte van die karige insette en kritiek van LP’s self, het die komiteevoorsitters ná die vergadering in ’n verklaring hul waardering uitgespreek vir die voorleggings van burgerlike organisasies en lede van die publiek. “Dit is weer eens ’n bewys dat Suid-Afrika ’n deelnemende demokrasie is,” lui die verklaring.

Meer oor:  Eskom  |  Kragopwekking  |  Staatsondernemings  |  Skuld  |  Reddingsboei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.