Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom nie so maklik ontbondel

Eskom se nuwe groepshoof, André de Ruyter, wil brieke aanslaan met die ontbondeling van die kragmonopolie.

Eskom se nuwe groepsbestuurshoof, André de Ruyter. Foto: Deon Raath

Dit beteken die mikpunt in Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se Eskom-padkaart dat die transmissiemaatskappy teen Maart op sy eie binne die Eskom-groep sal staan, nie bereik gaan word nie.

Om te besin alvorens hulle begin, is deel van De Ruyter se Eskom-regrukplan wat die kraggroep se direksie na verwagting hierdie week sal oorweeg.

Gordhan het in Oktober die Eskom-padkaart bekend gestel, wat uitspel hoe Eskom reggeruk en ontbondel moet word sodat dit uiteindelik sal bestaan uit aparte maatskappye vir kragopwekking, transmissie en verspreiding.

1ste mislukking

Eskom het reeds hopeloos misluk met die vroeë mikpunte wat die padkaart uitspel vir die bedryf van sy steenkoolvloot.

Kragtens die padkaart moes die vloot se beskikbaarheidsfaktor teen Desember reeds verbeter het van sowat 67% in Oktober na 70% in Desember en moet dit teen Maart op 73% staan.

Pleks daarvan het die beskikbaarheid in Desember verder gedaal tot onder 60% en is die land vir die eerste keer in fase 6-beurtkrag gedompel.

Met drie weke van 2020 agter die rug is die gemiddelde beskikbaarheidsfaktor vir die jaar tans 61%, hoewel dit darem opwaarts beweeg het van die 57% net ná Nuwejaar.

Volgens Gordhan se padkaart moet die transmissiemaatskappy teen Maart vanjaar funksioneel geskei wees van die res van die groep en volgende jaar op ’n regsgrondslag geskei word, sodat dit ’n onafhanklike maatskappy binne die Eskom-groep is met sy eie bestuur en direksie.

Die transmissiemaatskappy sal verantwoordelik wees vir die sowat 33 000 km lange kragnetwerk met gepaardgaande substasies en transformators en dien as ’n onafhanklike markoperateur wat energie by Eskom se opwekkingseenheid en onafhanklike kragverskaffers teen die beste prys koop.

De Ruyter sê Eskom sal op verantwoordelike wyse werk na die eindbestemming wat in die padkaart voorsien word, maar moet waak teen die legio risiko’s op die pad.

Om die groep in drie verskillende regsentiteite te skei bring volgens hom risiko’s mee ten opsigte van onder meer kapitaalwinsbelasting, die oordrag van werknemers, regulatoriese kwessies en verhoudings met die finansiers van Eskom se berg skuld van R450 miljard.

Hulle moet weet presies aan wie hulle die geld skuld en dat die betrokke entiteit die inkomstebasis het om hom in staat te stel om die skuld terug te betaal.

De Ruyter se Eskom-regrukplan word na verwagting dié aan die direksie voorgelê. Foto: Deon Raath

De Ruyter sê een opsie is om twee jaar te vat en met ouditeurs, prokureurs, konsultante en bankiers te praat ter voorbereiding vir die implementering. Dit kan egter veroorsaak dat Eskom baie intern gefokus is.

“Ek dink as ons ’n divisiestruktuur het, en elke divisie het ’n inkomstestaat en balansstaat en ’n mens begin om die kommersiële strukture gereed te kry, dan gee dit jou die geleentheid om as’t ware ’n prototipe te hê wat jy op ’n padtoets kan sit. Dit beteken dat jy kan seker maak dat wanneer jy die dag implementeer . . . dat ons die oorgang met ’n baie kleiner mate van risiko kan bewerkstellig.”

Hoewel hy sê die “prototipe” kan redelik vinnig gereed wees, wil De Ruyter hom nie tot ’n spertyd verbind nie.

Oor die Maart-spertyd sê hy Eskom sal goeie vordering moet kan toon “op pad na die oogmerk van die Maart-datum”, maar moet waak teen oorhaastige implementering.

Wat die markoperateur betref, is daar reeds intern ’n model in werking. Eskom se kragstasies moet daagliks die hoeveelheid energie wat hulle gaan verskaf, met die stelseloperateur in die transmissie-afdeling kontrakteer. Eskom moet homself rat om ook só van derde partye krag te kan koop, sê De Ruyter.

Hy sê oor bestaande kontrakte met onafhanklike kragverskaffers, moet Eskom die voor- en nadele van elk bepaal en besluit of dit heronderhandel moet word om in die nuwe markmeganisme te pas. “Dit geld vir alle kontrakte in Eskom,” voeg hy by. “Daar is geen heilige kontrakte nie.”

Mike Levington, direkteur van Kabi Solar, sê ’n mens moet begrip hê vir die feit dat De Ruyter nog maar bitter kort in die saal is.

Hoewel hy begrip het vir De Ruyter se situasie, sê hy vertragings met die ontbondeling kan daartoe lei dat besluite deur omstandighede afgedwing kan word.

Een so ’n kwessie, sê hy, is wie die aankoper in nuwe aankoopooreenkomste met onafhanklike kragverskaffers gaan wees. As die transmissiemaatskappy nie duidelik onafhanklik van Eskom se kragopwekking is nie, sal ’n ander party soos die nasionale tesourie dalk moet intree om die geloofwaardigheid van die proses te verseker, sê Levington.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.