Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: Nóg R11 m. se ‘omkoopgeld’ bevries

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het op nóg ’n senior Eskom-bestuurder toegeslaan en Vrydag ’n bankrekening met R11 miljoen daarin bevries.

eskom
Eskom se hoofkantoor, Megawatt Park, in Johannesburg. Foto: Getty Images

Petrus Mazibuko se FNB-rekening is Vrydag bevries te midde van ’n ondersoek na beweerde korrupsie.

Mazibuko, wat in beheer is van Eskom se steenkoolafdeling, het na bewering ’n bankrekening waarin verskaffers geld as omkoopgeld betaal het.

Die SOE sê Vrydag in ’n verklaring dat die bankrekening slegs ’n inkomste ontvang het van verskaffers met wie Eskom sake doen.

Die geld was klaarblyklik slegs daarop gemik om Mazibuko om te koop.

Mazibuko en ’n familielid, Shadrack Mazibuko, het die rekening saam namens die onderneming Thephunokhetja Projects oopgemaak.

Geld van twee Eskom-verskaffers – Commodity Logistix Managers Africa en Thembathlo – het na dié bankrekening gevloei.

“Die SOE-ondersoek het geen bewyse gevind dat Thephunokhetja Projects dienste gelewer het of geregtig is daarop om te eis vir goedere of dienste gelewer aan Commodity Logistix Managers Africa en Thembathlo nie,” sê die SOE.

“Verder was daar geen bewyse of verklaring dat die geld wat in die Thephunokhetja Projekte-bankrekening gehou is, iets anders was as ongemagtigde omkoopgeld nie.”

Die SOE het toegeslaan nadat ’n fluitjieblaser hom ingelig het van Mazibuko se omstrede verhouding met verskaffers.

Sowel Petrus as Shadrack Mazibuko het nou toegang tot die bankrekening verloor.

Die SOE sê dat hy bewyse gevind het dat Mazibuko geensins mag sake doen met verskaffers of enige ander entiteit buite sy verantwoordelikhede as senior bestuurder van Eskom nie.

Hy het dus geen verskoning wat moontlik gemaak kan word vir waarvoor die geld was nie. Luidens sy dienskontrak mag hy geensins ’n inkomste verdien buiten sy salaris van Eskom nie.

“Dit is ’n oortreding van Eskom se beleid oor belangebotsings, wat bepaal dat alle werknemers jaarliks hul belange openbaar moet maak.”

Die SOE het die inligting na Eskom verwys om Mazibuko te skors hangende die afhandeling van die ondersoek.

Eskom het laatmiddag bevestig Mazibuko is geskors. Hy sal nou aan ’n dissiplinêre proses onderwerp word.

Eskom het in ’n verklaring gesê hy bly daartoe verbind om “korrupte elemente in sy arbeidsmag en verskaffers” uit te roei. “Korrupsie en bedrog het geen plek by Eskom nie en sal nie geduld word nie.”

Die Spesiale Tribunaal het Vrydag vir die SOE toestemming gegee om die bankrekening te bevries en die ondersoek duur nou voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.