Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: Nuwe bewerings van korrupsie teen Jan Oberholzer

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het glo ’n kontrak onderhandel met ’n konstruksiefirma waarin hy aandele besit het. Hy het glo ook iemand gevra om werk te kry vir sy swaer sonder om te verklaar dat dié ’n familielid is.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom. Foto: William Horne

Dit is van die klagtes oor Oberholzer wat in ’n ondersoek deur Eskom ontbloot is.

’n Betaling aan nog ’n kontrakteur wat deur Oberholzer goedgekeur is, is ook bevraagteken deur die onafhanklike ondersoeker in ’n verslag van 15 bladsye wat nie openbaar gemaak is nie, maar wat Bloomberg onder oë gehad het.

Eskom wou geen kommentaar lewer nie, en Oberholzer kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Die bevindings, wat tot dusver nog nie in die openbaar was nie, kom uit dokumente wat betrekking het op persoonlike klagtes deur Mark Chettiar, ’n senior beampte van Eskom.

Dis afsonderlik van die ondersoek wat Nazeer Cassim, ’n voormalige regter in die hooggeregshof, vroeër na Oberholzer se beweerde korrupsie gedoen het. Cassim se verslag, wat op 4 April uitgereik is, het Oberholzer vrygespreek van enige korrupsie. Daar is wel bevind dat hy maatskappybeleid oortree het.

LEES OOK: Skoor ongeduldig oor Oberholzer-verslag

Chettiar se klagtes is nie in dié verslag behandel nie.

Eskom se direksie het in April in ’n verklaring gesê daar is geen rede om stappe teen Oberholzer te doen nie.

Cassim het bevind Oberholzer, ’n voormalige werknemer van die konstruksiefirma Stefanutti Stocks, het ’n verslag onderteken waarin aanbeveel is dat ’n kontrak met dié firma vergroot word.

In daardie stadium het Oberholzer aandele in Stefanutti gehad waarvan die waarde van R600 000 tot R6 000 verminder het.

“Oberholzer het die bepalings van die Eskom-beleid oortree. Hy moes nie daarby betrokke gewees het nie,” het Cassim gesê.

“Ek stel voor dat die uitvoerende hoof of ’n benoemde direkteur met Oberholzer oor die saak praat.”

Eskom het sedertdien gesê hy het Stefanutti te veel betaal, maar op 10 Julie het die konstruksiefirma gesê dis nie die geval nie.

LEES OOK: Nog arrestasies wink oor Kusile-bedrog

Oor ’n ander saak het Cassim gesê as ’n betaling van R42 miljoen wat Oberholzer aan die konstruksiemaatskappy Aveng gemagtig het, nie deel is van ’n hofsaak tussen die twee ondernemings nie, “is daar geen rede waarom dit nie ’n tugverhoor sou regverdig nie”.

Chettiar het verlede jaar ’n voorlegging aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gedoen oor prosedure wat gevolg is om die betaling aan Aveng te magtig. Die betaling is nie gedoen nie nadat die kommissie aanbeveel het dat dit teruggehou word.

Eskom het in April in ’n verklaring gesê hy sal wag totdat die hofsaak afgehandel is voordat hy besluit of hy tugstappe moet doen.

In afsonderlike dokumente wat betrekking het op Chettiar se klagte op 13 September 2019 teen Oberholzer, het Oberholzer erken hy het Chettiar gevra om vir sy swaar, Gregory Jacobs, ’n werk te kry. Hy het gesê daar was “geen druk” om dit te doen nie.

Chettiar, wat nie kommentaar op die jongste inligting wou lewer nie, is tans betrokke in ’n interne tugverhoor wat Oberholzer aangevra het oor die klagte wat hy ingedien het.

Dokumente wys Chettiar is verskuif en werk nou by opleiding in die afdeling vir mensehulpbronne.

Cassim het in sy verslag oor dié optrede teen Chettiar gesê Oberholzer moes nie teen hom opgetree het nie omdat hy dit “gejaagd en emosioneel” gedoen het.

Oberholzer is daarvan beskuldig dat hy “die f-woord gebruik het en so hard soos wat hy kan geskree het, met deurlopende dreigemente dat hy mense sou afdank vir swak prestasie”.

Oberholzer het om verskoning gevra vir sy taalgebruik, luidens dokumente verwant aan die klagte.

– Bloomberg, verkort

Meer oor:  Eskom  |  Jan Oberholzer  |  Korrupsie  |  Elektrisiteit  |  Bedrog  |  Staatsondernemings  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.