Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom-olie ‘het ANC se verkiesing help betaal’

Die ANC se 2014-verkiesingsveldtog het voordeel getrek uit omstrede olietransaksies wat Econ Oil & Energy met Eskom aangegaan het, is in ’n forensiese ondersoek bevind.

An electricity pylon stands beyond an Eskom sign a
Econ Oil, ’n maatskappy wat spesialiseer in die vermenging en berging van olie, het met behulp van ’n senior amptenaar by Eskom tenders van R15 miljard gekry om olie ten duurste aan Eskom te lewer. Foto: Getty Images

Econ Oil, ’n maatskappy wat spesialiseer in die vermenging en berging van olie, het met behulp van ’n senior amptenaar by Eskom tenders van R15 miljard gekry om olie ten duurste aan Eskom te lewer, het die regsfirma Bowmans bevind in die ondersoek wat hy in opdrag van Eskom gedoen het.

Die betrokke amptenaar, Thandi Marah, was die senior ondernemingsbestuurder by Eskom.

In ruil vir die ruim tenders het Nothemba Mlonzi, die enigste direkteur van Econ Oil, betalings op versoek van Marah gemaak. Van dié betalings sluit R100 000 in wat aan die ANC se verkiesingsveldtog van 2014 gegaan het, blyk dit uit die ondersoek wat in Oktober verlede jaar afgehandel is.

In ’n afsonderlike verslag in Februarie deur Nerina Otto, Eskom se waarnemende regshoof, het dit geblyk dat Econ Eskom tussen 2012 en 2016 tot soveel as R1,2 miljard te veel vir die olie laat betaal het.

Eskom in antwoord op navrae van Bloomberg gesê die Bowmans-verslag wys daar is redelike gronde om te vermoed dat Econ Oil se optrede die interne beleid van Eskom oortree het en dat daar ’n korrupte verhouding tussen Econ Oil en ’n senior bestuurder van Eskom bestaan het.

Eskom het in Julie verlede jaar die kontrak met Econ gekanselleer. Marah is in Desember 2018 geskors en het aan die einde van Januarie 2019 met vroeë aftrede gegaan.

Bowmans het die ANC se Liliesleaf-tak in Johannesburg geïdentifiseer as die ontvanger van die skenking van R100 000. Marah was in 2014 die ondervoorsitter van dié tak, volgens Pat Sibiya, wat destyds sekretaris van die tak was. Sibiya kon by navraag nie van dié betaling onthou nie.

Luidens Otto se verslag het Mlonzi die bewerings ontken.

“Eskom word al ’n aantal jare geteister deur korrupsie, swak bestuur en onwettige kontrakte wat tot nadeel van Eskom en Suid-Afrika gesluit is,” het André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, in ’n verklaring gesê wat aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge gestuur is.

De Ruyter het die geskil met Econ Oil as voorbeeld genoem en verklaar dat Eskom al teen verskeie ander verskaffers en 12 individue, onder wie voormalige bestuurders, opgetree het wat die kragmaatskappy te veel laat betaal het vir iets of bedrieg het.

In die Bowmans-verslag word beweer dat Mlonzi en Marah Eskom se personeel onder druk geplaas het om die pryse van ander brandstofverskaffers aan Econ Oil bekend te maak voordat die tenders beklink is.

Dit bevat ook besonderhede oor ’n versoek wat Marah aan Mlonzi gerig het om geld aan ’n liefdadigheidsorganisasie te skenk. Luidens die verslag het Mlonzi glo vir Marah en ander Eskom-personeel betaal om ’n ANC-geldinsamelingsdinee by te woon, waar die pryse vir ’n tafel van R150 000 tot R700 000 gewissel het.

Volgens Eskom is Econ Oil tydelik as verskaffer opgeskort sodat Econ Oil oor die volgende ses maande kans kan kry om homself te verduidelik. As Eskom besluit om nie die opskorting op te hef nie, sal hy Econ Oil vir tien jaar van sy verskaffersdatabank verwyder en die nasionale tesourie laat weet sodat Econ Oil op ’n swartlys geplaas word, wat staatsentiteite verbied om met hom sake te doen.

Econ Oil het regstappe gedoen om Eskom te verbied om hom van sy verskaffersdatabank te verwyder, maar die pogings het misluk, het Otto in haar verslag gesê.

Die DA en VF Plus het Donderdag skerp op die bewerings gereageer. Ghaleb Cachalia, DA-woordvoerder oor openbare ondernemings, sê Marah behoort voor die Zondo-kommissie van ondersoek gedaag te word om te getuig. Die ANC behoort boonop die skenking van R100 000 terug te betaal, want dit is niks anders as omkoopgeld nie.

Meer oor:  Econ Oil  |  Eskom  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Tenderbedrog  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.