Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom-omkeerplan: ‘Die hele land is in gedrang’

In ’n vertroulike voorlegging aan 600 bestuurders het Jabu Mabuza, voorsitter en waarnemende hoof van Eskom, gesê as hul omkeerplan nie werk nie sal die kragreus se “doodspiraal” die land kraak.

Jabu Mabuza, voorsitter en waarnemende hoof van Eskom. Foto: Felix Dlangamandla

“As ons niks doen nie, sál Eskom ineenstort en Suid-Afrika daarmee saam,” het Mabuza gesê.

Mabuza het Donderdag ’n voorlopige weergawe van die kragreus se omkeerplan aan sy bestuurders voorgelê wat toe later gelek is.

“Eskom se geld het opgeraak en op verskeie geleenthede in 2019 na aan totale ineenstorting gekom,” sê Mabuza in sy voorlegging. “Die belangrikheid van Eskom vir Suid-Afrika is die enigste rede waarom die maatskappy nog bestaan.”

Netwerk24 het die dokument gesien waarin Mabuza waarsku dat die nutsmaatskappy op die afgrond staan, maar dat as sy belanghebbendes saamstaan, die plan kan slaag.

Die omkeerplan is gegrond op vyf hooffokusgebiede: skuldverligting, bestuur van inkomste, die opbreek in drie dele, kostebesparings en die bestendigheid van Eskom se bedrywighede.

LEES OOK: Eskom se omkeerplan gelek: Dis wat dit bevat

Volgens die voorlopige plan sal die kern van die omkeerplan, die opbreek van die nutsmaatskappy in drie dele, tot vyf jaar neem.

Mabuza sê die eerste fase waarin Eskom funksioneel ontknoop word, sal voor die einde van die jaar begin.

Dié fase sal tussen 12 en 18 maande duur.

Daarna sal die onderneming met ’n wettige skeidingsproses kan begin om Eskom as moedermaatskappy te vestig, en die opwekking-, transmissie- en verspreiding-dele as afsonderlike filiale te registreer. Dit sal ongeveer vier jaar neem.

Die eerste stap daarna sal wees om spesifiek die transmissie-afdeling te skei met die oog om dit as ’n onafhanklike staatsonderneming te registreer. Die finale stap sal eers ná vyf jaar voltooi wees, maar Mabuza sê dit sal dalk moontlik wees dat dit terselfdertyd as die wettige skeidingsproses kan gebeur.

Dié ontknopingsproses is wat die regering stipuleer moet gebeur, en Mabuza voer aan dat die tydlyn wat hulle nou verskaf, waarskynlik die vinnigste is wat hulle die opdrag sal kan nakom.

Hy blyk wel vol vertroue te wees dat die plan sal slaag.

Volgens Eskom is die visie dat die nutsmaatskappy “verklein sodat hy kan groei”.

Maar vakbonde dreig al geruime tyd dat afleggings, verkleining en veral die beplande ontknoping nie in hul belang is nie.

Woedende Eskom-vakbonde het reeds in Februarie met die aanvanklike aankondiging van die plan om Eskom in drie dele op te breek gedreig om op groot skaal te staak en selfs hul steun vir pres. Cyril Ramaphosa te onttrek.

Mabuza het Vrydag met vakbonde vergader om te probeer verseker dat samewerking met verwysing tot die omkeerplan sal kan geskied, selfs nadat hy oor tien weke as waarnemende hoof uittree.

Die mynwerkersvakbond NUM, die Nasionale Metaalwerkersunie van Suid-Afrika (Numsa) en Solidariteit was Vrydag teenwoordig toe Mabuza hulle toegespreek het.

“Ons het die vakbonde deur Eskom se omkeerplan geneem en ooreengekom dat verdere besprekings sal plaasvind terwyl ons gesamentlik beplan en vorentoe beweeg,” het Mabuza gesê.

Eskom wil hê die vakbonde moet verstaan hoe belangrik die omkeerplan is vir sowel die nutsmaatskappy self as die land se eie ekonomiese toekoms.

“As daar een ding is wat ek wil bereik teen die tyd wat ek die pos binne die volgende tien weke verlaat, is dit om ’n omgewing te skep waar Eskom en die vakbonde meer eerlike en robuuste besprekings oor die toekoms van Eskom kan voer,” het hy op die vergadering gesê.

“Die vakbonde het bykomende inligting van Eskom gevra wat ons sal verskaf, en het ooreengekom om die inligting wat aan hulle voorgelê is te oorweeg en na ons toe terug te kom,” sê Eskom in ’n verklaring.

Die kragreus sal nou soortgelyke vergaderings met ander belanghebbendes voer om die nodige ondersteuning vir die broodnodige omkeerplan te verseker.

Volgens ’n verklaring van die departement van openbare ondernemings sal die regering die finale omkeerplan binne die volgende “paar weke” ter tafel lê, berig Reuters.

Meer oor:  Eskom  |  Jabu Mabuza  |  Reddingsboei  |  Stakings  |  Vakbonde  |  Staatskuld  |  Staatsondernemings  |  Regrukhoof  |  Omkeerplan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.