Suid-Afrika se kragnetwerk sal vandeesweek onder kwaai druk wees, het Eskom Sondagaand gewaarsku.

Die Tutuka-kragstasie in Mpumalanga. Foto: Eskom
Tot agt opwekkingseenhede by sewe verskillende steenkoolkragstasies is buite werking, het hy gewaarsku.
Hoewel Eskom-spanne hard werk om soveel moontlik stukkende eenhede te herstel, kan enige verdere agteruitgang in sy opwekkingsvermoë hom dwing om beurtkrag toe te pas.
Dit is weens foute of vertragings in die instandhoudingsprogram. Hoewel van die opwekkingseenhede Sondagaand en Maandagoggend herstel sal word, sal die kragnetwerk na verwagting vir die res van die week steeds onder druk wees.
Daar was vertragings met die herstel van opwekkingseenhede by die Duvha- en Medupi-kragstasies, en daarbenewens is twee eenhede by Hendrina afgeskakel, asook ’n eenheid elk by Tutuka, Majuba, Komati en Kendal.
Eskom verduidelik sy verouderende steenkoolkragstasies is onbetroubaar en wisselvallig.
Dr. Jarrad Wright van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) het vroeër gewaarsku Suid-Afrikaners kan hulle regmaak vir toenemende beurtkrag tot en met 2023.
Eskom probeer intussen sy verdeling in drie afsonderlike staatsentiteite – vir kragopwekking, distribusie en plaaslike verspreiding – te versnel, terwyl hy ook saam met die nasionale tesourie soek na ’n oplossing vir sy reuse-skuld van meer as R450 miljard. Daarby knel oplopende skuld van munisipaliteite en Soweto hom ook terwyl hy in die howe boer om te appelleer teen tariefbesluite van die nasionale energiereguleerder.
Die Covid-19-inperking het ook Eskom se kragverkope geknou weens die skerp laer vraag na elektrisiteit tydens veral die eerste twee vlakke van inperking.
Beleggers in private kragopwekkers wag intussen op die regering om ’n verkrygingsprogram vir noodkragopwekking van tussen 2 000 MW en 3 000 MW te versnel wat pres. Cyril Ramaphosa in Januarie in sy staatsrede beloof het.