Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom pak wanbetalers in die Vrystaat
pylons,eskom,electricity
Eskom is op die oorlogspad met wanbetalende munisipaliteite.

Die krag word afgeskakel in Koffiefontein, Luckhoff en Petrusburg in die Letsemeng-munisipaliteit in die Vrystaat.

Eskom sê Maandag die dorpe sal van 20 Februarie nie meer toegang hê tot elektrisiteit nie totdat die munisipaliteit sy agterstallige skuld begin vereffen.

In ’n poging om verbruikers tegemoet te kom, sal daar wel oornag krag op dié dorpe wees.

In Letsemeng sal die krag dus van 20 Februarie tussen 06:00 en 20:00 af wees tot en met die munisipaliteit begin betaal.

Eskom is op die oorlogspad met wanbetalende munisipaliteite en is besig om betalingsooreenkomste met talle distrikte te hersien om wanbetalers hok te slaan.

Sowat twee weke gelede het die kragverskaffer onder meer Pofadder in die Khai-Ma-munisipaliteit ook van die kragnetwerk ontkoppel weens wanbetaling.

In sy nuwe benadering tot wanbetalers gee die nutsmaatskappy nou tussen twee en drie weke kennis aan munisipaliteite dat hulle ’n betalingsooreenkoms moet sluit met Eskom anders sal hul krag afgesny word.

Eskom het op 30 Januarie vir die Letsemeng-munisipaliteit kennis gegee dat hy die krag na die munisipaliteit gaan afsny as geen betalingsplan gesluit word nie.

“Ten spyte van talle eise het die munisipaliteit versuim om sy kragrekeninge by Eskom te betaal,” sê Eskom.

Jabu Mabuza, voormalige voorsitter en waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, het in Oktober aan die staande komitee oor openbare rekeninge gesê dat wanbetaling van munisipaliteite buitensporig toeneem. In daardie stadium het Mabuza verduidelik dat munisipaliteite se “kultuur van wanbetaling” gelei het tot skuld van R19,9 miljard – ’n styging van R6 miljard in sowat ses maande.

Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, het Maandag aan Netwerk24 gesê dat elke munisipaliteit nou bekyk word, een op ’n slag, en dat Eskom hard werk om wanbetaling stop te sit.

Eskom waarsku ook die Letsemeng-munisipaliteit, en ander, dat al laat hy tans toe dat wanbetalers vir agt uur per dag krag mag verbruik, kan hy enige tyd op kort kennisgewing alle kragtoevoer afsny indien die munisipaliteit se skuld nie verminder nie.

Meer oor:  Eskom  |  Jabu Mabuza  |  Wanbetalers  |  Kragvoorsiening  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.