Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: R370 mjd.-tekort, wie betaal?

Dis of die belastingbetaler of die kragverbruiker wat gaan moet opdok vir Eskom se tekort aan inkomste, sê André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, maar daar is ’n goue middeweg as mense reg stem.

André de Ruyter, Eskom-hoof, tydens ’n onderhoud met Netwerk24. Foto: Deaan Vivier

De Ruyter het in gesprek met Netwerk24 herbevestig dat Eskom nie op sy eie voete kan staan soos sake nou staan nie.

Die kragverskaffer het die afgelope paar jaar ’n tekort van R370 miljard in inkomste gehad omdat kragtariewe te laag is.

Nou is dit Eskom teen die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) om te onderhandel oor hoe vinnig kragtariewe kan styg om daarvoor op te maak.

“Ek dink binne die geledere van Nersa is daar wel ontvanklikheid daarvoor, want die gebrekkige prysaanpassings wat in die verlede gemaak is, het ’n kumulatiewe tekort van R370 miljard veroorsaak,” sê De Ruyter.

“Dié R370 miljard is ’n baie groot rede vir ons huidige skuldlas. So, as die belastingbetaler nou geld vir Eskom moet gee, is dit omdat die elektrisiteitsverbruiker oor ’n tydperk van agt tot nege jaar nie betaal het wat betaal moes word nie.”

Dit beteken die belastingbetaler dok tans R1,1 miljard per week op om Eskom aan die gang te hou. De Ruyter is van mening dat indien kragtariewe die werklikheid weerspieël kan groot dele van Eskom se geldsake opgelos word.

En sodoende kan Eskom gouer onafhanklik word van die fiskus, en dus die belastingbetaler.

“Ons het baie eenvoudige keuses en nie een van die keuses is ’n lekker keuse nie, maar ons moet óf meer belastinggeld vat óf jy moet meer betaal vir elektrisiteit,” sê De Ruyter.

Maar die uitvoerende hoof maak ook ’n ander voorstel.

“Of natuurlik: Jy moet stembus toe gaan en sekermaak dat jy jou munisipale raadslede aanspreeklik hou.”

Munisipaliteite verkoop die meerderheid van Eskom se krag en herverkoop dit dan teen ’n wins aan verbruikers.

Maar volgens De Ruyter is hierdie tariewe dikwels buitensporig en laat dit lyk asof dit Eskom is wat die kragverbruiker wil uitbuit.

“Die probleem is egter dat munisipaliteite in Suid-Afrika kragtariewe gebruik as ’n melkkoei om hul eie inkomste aan te vul. En die marge wat hulle bysit, is tussen 18% (wat ons dink redelik is, want hulle het ook infrastruktuur en mense en meters), maar dan is daar ander munisipaliteite wat tot 161% bysit.

“So ek verstaan as mense sê: My elektrisiteitsrekening is deur die dak! Maar kyk of dit ’n Eskom-rekening is en of dit ’n munisipale rekening is en daardie munisipale rekening is ongelukkig ook buite ons beheer.”

De Ruyter wil hê dat Nersa moet begin aandag gee aan die uiteindelike prys wat verbruikers betaal vir krag, nie net die prys wat Eskom vra nie.

Dit sal meebring dat die aandag gevestig word op diegene wat probeer die stelsel melk vir wins, in plaas van Eskom wat net probeer, volgens De Ruyter.

“Dis nie ’n gewilde boodskap nie, maar as jy gaan kyk na die res van die wêreld vir huishoudings en nywerhede, is elektrisiteit in Suid-Afrika besonder goedkoop. Dis in die laagste kwartiel van pryse in die wêreld.

“Nou, as ons die prysaanpassings aanbring wat ons dink nodig is om ons volhoubaar te maak: Ons het nou reeds ’n 15%-verhoging gekry, ons vra vir nog ’n 15%-verhoging en daarna vra ons vir prysverhogings wat inflasie in ag neem, die koste van onafhanklike krag wat ons moet aankoop en CO2-belasting. Dan kan ons op ons eie twee bene staan.

“En as ons die aanpassings gemaak het, is ons nog steeds in die laagste derde van wêreldkoste vir elektrisiteit. Ons is laer as China. So dis nie asof ons hoë pryse voorstel nie, hierdie is mededingende pryse.”

Meer oor:  Eskom  |  André De Ruyter  |  Kragtariewe  |  Kragkrisis  |  Staatsondernemings  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.