Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Die A-Z van die Eskom-krisis

Suid-Afrikaners is keelvol vir beurtkrag en net die woord “Eskom” maak hulle die josie in. Hulle is gefrustreerd en moeg om te ly onder ’n situasie wat hulle nie geskep het nie. Maar raak maar daaraan gewoond. Beurtkrag is ons lot. Selfs pres. Cyril Ramaphosa het dit Donderdagaand in sy staatsrede in die parlement in Kaapstad bevestig. Dit gaan groot geld en baie geduld kos om Eskom, wat meer as R450 miljard in die skuld is, te red. En watter uitweg ook al gekies word, die verbruiker gaan betaal. Jana Marx kyk na die feite.

Eskom-transmissielyne. Foto: City Press / Mpumelelo Buthelezi

Die huidige situasie

Eskom is die grootste enkele bedreiging vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en een van die vyf top-redes wat buitelandse beleggers twee keer laat dink voordat hulle hier belê.

Die kragverskaffer se inkomste is nie genoeg om sy koste te dek nie. Ander probleme is politieke inmenging, wanbestuur, heeltemal te veel personeel en ’n gebrek aan die instandhouding van sy infrastruktuur oor jare heen.

Eskom moet die ligte aanhou en ten alle koste geld maak. Daarom gooi die staat die een reddingsboei na die ander na dié geldvreter. Daar is een omkeerplan na die ander; een hofsaak na die ander.

Maarten Ackerman, hoofekonoom en adviserende vennoot van Citadel, sê dit gaan baie geld kos om Eskom reg te ruk. “Om Eskom reg te ruk, gaan koste beteken wat deur belasting of hoër kragtariewe verhaal moet word. Aan die een kant moet Eskom aanhou krag verskaf, maar aan die ander kant moet hy sy skuld van meer as R450 miljard delg.”

Ongeag watter roete Eskom gaan inslaan, is dit die man op straat wat gaan verloor.

Ackerman sê die land is nou in dié situasie: “Ons kan nie hier uit nie. Nou moet ons die nuwe bestuur ons ondersteuning te gee om ’n beter uitkoms te verseker. Dis nou tyd om die glas halfvol te sien.”

Die Medupi-kragstasie naby Lephalale in Limpopo. Foto: Lucky Nxumalo

Planne vir toekoms

* Eskom se omkeerplan

Een van Eskom se groot probleme is sy onvermoë om genoeg kontant te genereer om die rente op sy skuld te betaal, sê Bernard Sacks, belastingvennoot van die ouditgroep Mazars, aan Netwerk24.

Eskom is gewoon nie volhoubaar nie en voordat hy geherstruktureer word, sal die las net groter word.

Eskom se ontbondelingsplan wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is, bevat wel ’n herstrukturering wat behels dat hy verdeel word in drie onafhanklike dele: opwekking, transmissie en verspreiding.

Hulle sal onder Eskom Holdings as beheermaatskappy val.

eskom

Die opwekkingsafdeling bestuur die kragopwekking by Eskom se kragstasies. “Opwekking” verkoop die krag dan aan Eskom se transmissie-afdeling (ekstra-hoogspanningslyne) waarna dit na die nege verspreidingsafdelings (een per provinsie) gaan.

Van daar af word dit aan die verbruiker, soos munisipaliteite, verkoop.

Louis du Toit, ’n elektriese ingenieur van Bloemfontein, verduidelik die rede vir die verdeling is dat die staat nie geld het om meer kragstasies te bou nie en die private sektor nie betrokke sal raak anders as deur voorkeurkragaankoopkontrakte (embedded generators), solank daar nie ’n onafhanklike stelseloperateur is wat toegang tot die transmissiestelsel (power grid) beheer en ’n ‘onafhanklike’ kragverhandelingsplatform vir kragverskaffers kan skep nie.

“Onafhanklike kragverskaffers moet op ’n gelyke speelveld met ander opwekkers, soos Eskom, kan meeding (dus beding vir ’n mengsel van langtermyn-, korttermyn-, ‘dag-vooruit’- en noodkragaankoopkontrakte) en sal net deelneem as die speelveld gelyk is en dit ekonomies sin maak (winsgewend is),” sê Du Toit.

Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof. Foto: Business Day / Freddy Mavunda

Volgens Du Toit sal Eskom se nuwe transmissie-afdeling, hoewel aanvanklik nie onafhanklik nie, as “stelseloperateur” optree.

Netwerk24 berig André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het einde Januarie in ’n oorsig oor die stand van sake by die nutsmaatskappy gesê die ontknoping van Eskom gaan nie vinnig gebeur nie. Hy het die ontknoping vergelyk met dié van Old Mutual, wat drie en ’n half jaar geduur het. Tog het hy gesê hoewel dit lyk of “ons rem trap op ontknoping” is dit nie die geval nie. Daar word eerder “petrol getrap” wat dié proses betref. “Ek verkies dus dat ons eers in afdelings opbreek en seker maak dat ons onafhanklik van mekaar kan funksioneer voordat ons ontknoop. Ek wil herhaal dat dit nie strydig is met wat die regering gesê het gedoen gaan word nie. Die doelwit bly dieselfde; dit is net hoe ons daarby uitkom wat anders is.”

Du Toit sê: “Daar moet ’n reserwe-opwekkingsmarge van 15% tot 20% wees om energie-intensiewe nywerhede na die land te lok.”

Die reserwe-opwekkingsmarge is die hoeveelheid waarmee die land se kragopwekkingsvermoë die maksimum vraag na krag oorskry.

Eskom se vermoë om krag op te wek blyk tans ongeveer 25 000 MW te wees, sê Du Toit.

“Dit moet ongeveer 35 000 MW wees in die somer en nader aan 41 000 MW in die winter.”

Wanneer Eskom beurtkrag toepas, beteken dit dat die reserwemarge op daardie stadium nul is.

Ackerman sê om die private sektor te betrek, is ’n baie groot stap vorentoe.

“Ons weet nou al die private sektor kan goeie oplossings vir probleme vind. Dit is ook meer volhoubaar vir die land.”

So, as die private sektor deel word van die proses deur broodnodige beleggings te maak, kan dit die druk op Eskom verlig. Dis beleggings in kragstasies wat in privaat besit sal wees of deur ’n openbare-privaatsektor-vennootskap (PPP) tot stand sal kom en krag aan die land sal lewer volgens kontrakte waarvoor hulle sal moet tender.

Eskom sal egter in ’n mededingende omgewing baie vinnig sy sakemodel moet aanpas en sy kostedoeltreffendheid sal moet verbeter om sy voortbestaan te verseker, sê Du Toit.

Die risiko’s vir die land sal dan verklein word omdat daar nie net op staatsfinansiering en Eskom se vermoëns staatgemaak hoef te word om krag te voorsien om die ekonomie te laat groei nie.

Hoewel dit tot twee jaar kan neem vir die privaat sektor om sy eie krag te genereer en sy moontlike surplus aan Eskom te verkoop, meen Ackerman Eskom se probleme kan binne die volgende drie tot vyf jaar iets van die verlede wees.

* Staatswaarborge

R350 miljard van Eskom se skuld van R450 miljard word deur staatswaarborge gedek, berig Daily Maverick.

’n Staatswaarborg is ’n bedrag geld wat die staat aan ’n staatsonderneming belowe vir as die onderneming hom aan wanbetaling skuldig maak en sy krediteure nie kan betaal nie. Die staat gryp dan as’t ware in en betaal die gedeelte wat hy gewaarborg het.

Eskom het verlede jaar staatswaarborge van nog R138 miljard tot Maart 2022 gekry, berig Tech Central.

Eskom wou nie kommentaar lewer oor sy skuld of staatswaarborge nie.

Eskom-transmissielyne. Foto: City Press/Mpumelelo Buthelezi

* Beurtkrag

Totdat Eskom weer stewig op sy voete is, is beurtkrag hier om te bly. Trouens, as ons nié beurtkrag het nie, gaan die kragstelsel ineenstort.

Eskom het op 5 Februarie in ’n verklaring gesê Suid-Afrikaners sal nog vir minstens 18 maande met beurtkrag moet saamleef terwyl die nodige instandhoudingswerk by kragstasies gedoen word.

“Ons neem beurtkrag nie ligtelik op nie, maar die realiteit is ons infrastruktuur vir opwekking is beperk en onbetroubaar,” sê André de Ruyter, Eskom-hoof, in die verklaring.

“Ons is jammer daaroor, maar gegewe die toestand van die infrastruktuur vir opwekking asook die buitengewoon hoë aanvraag is beurtkrag onvermydelik. Beurtkrag moet die kragstelsel beskerm terwyl ons kritieke instandhoudingswerk doen en die noodreserwes aanvul,” sê De Ruyter.

André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand in sy staatsrede in die parlement gesê: “In sy kern is beurtkrag die gevolg van Eskom se onvermoë oor baie jare – weens skuld, ’n gebrek aan kapasiteit en staatskaping – om sy kragstasies in stand te hou.

“Die realiteit wat ons moet aanvaar, is dat Eskom die noodsaaklike instandhouding moet doen om die betroubaarheid van die netwerk te verbeter. Beurtkrag bly dus vir die onmiddellike toekoms met ons.

“Wanneer beurtkrag onvermydelik is, moet dit op ’n voorspelbare manier toegepas word om die ontwrigting en die koste daarvan op ondernemings en huishoudings tot

die minimum te beperk,” sê Ramaphosa.

Du Toit sê: “Met beurtkrag keer Eskom ’n totale ineenstorting van die kragstelsel. As dít gebeur, kan dit twee tot drie weke neem om die stelsel te normaliseer . . . as hulle weet wat hulle doen, sê Du Toit.

Dit beteken dat verbruikers dan vir twee tot drie weke sonder krag kan wees.”

“Mense wat beloftes maak dat Eskom nié die krag sal afsit nie, verstaan nie dat die netwerk sal ineenstort as die vraag na krag groter is as dit wat beskikbaar is nie.”

Ted Blom, energiekenner, stem saam en sê wanneer dít gebeur, sal die een opwekker na die ander afskakel.

’n Noodoplossing om dit te voorkom is volgens hom om 5 000 MW se krag in te voer en ruimte te maak op die netwerk sodat die eenhede een na die ander van die netwerk afgehaal kan word en opgeknap kan word “sodat hulle weer reg is vir die volgende 50 jaar”.

Die 5 000 MW bestaan uit 25 eenhede van 200 MW elk wat by verskillende netwerksterkpunte gekoppel word vir die tydperk wat dit Eskom neem om sy vloot te herstel en op te knap. Die program sal volgens De Ruyter 18 maande duur, maar Blom skat dat dit etlike jare kan neem. Die huur en bedryf van gasturbines is goedkoper as Eskom se dieselvloot.

“Dit sal Eskom 48 uur neem om die 5 000 MW (eenmalig) in te voer,” meen Blom.

Ackerman wys daarop dat beurtkrag dié keer wel anders benader word met die doel om hierdie instandhoudingswerk te kan doen.

“Dit is meer beplan. Waar die beurtkrag voorheen met wanbestuur gepaard gegaan het, word dit nou gebruik om instandhouding te doen.”

Dit neem egter nie weg van die feit dat beurtkrag die ekonomie sowat R1 miljard per beurtkragfase per dag kos nie, volgens Sacks.

Eskom is gevra om Mazars se inligting hieroor te bevestig, maar het die vraag onbeantwoord gelaat.


Help Eskom só tydens beurtkrag


* Stel lugversorgers se gemiddelde temperatuur op 23 °C;

* Skakel geisers oor spitstye af;

* Gebruik die kouewaterkraan eerder as om elke keer die geiser te gebruik;

* Stel die swembadpomp om twee keer per dag, drie uur op ’n slag te werk, pleks van aanhoudend; en

* Skakel rekenaars, kopieerders, drukkers en faksmasjiene aan die einde van die dag by die muurprop af.



Hoe werk beurtkrag?


Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het vroeër aan Netwerk24 gesê die beperkings op Eskom se opwekkingsvermoë is so groot dat die veiligheidsmarge om ’n skielike styging in vraag of ’n skielike verlies aan opwekkingseenhede te hanteer, eenvoudig nie daar is nie.

Eskom se geïnstalleerde opwekkingsvermoë is sowat 46 000 MW.

Internasionale standaarde, asook Eskom se eie teiken, is ideaal gesproke om 15% van sy totale opwekkingsvermoë as reserwe beskikbaar te hê.

Volgens Oberholzer is die gemiddelde reserwevermoë van Eskom nader aan 2 000 MW – minder as ’n derde van wat eintlik nodig is.

Hoe het dit gebeur? Die departement van energie het vir jare ’n moratorium geplaas op die bou van nuwe kragstasies, wat Eskom gedienstig aanvaar het.

Die staat het besef dat hulle privaat kapitaal moes betrek om opwekkingskapasiteit te verhoog en wou toe reeds die opwekkings-, transmissie- en distribusieafdelings skei.

Die plan is nie deurgesien nie, maar die regering het Eskom ook nie toegelaat om nuwe kragstasies te bou nie.

“Die ekonomie het ná 1994 teen hoër koerse gegroei, en so ook die kragaanvraag. Eskom se kragsentrales het verouder, hulle het kundigheid verloor en daarmee saam die besef van die noodsaak van instandhouding,” sê ’n elektriese ingenieur met binnekennis van Eskom, wat op voorwaarde van anonimiteit praat.

“Hul instandhoudingsbeleid het weggedoen met midlife refurbishment waarvolgens opwekkingseenhede afgeskakel en heeltemal oorgedoen word wanneer hulle min of meer 35 jaar oud is.

“Die betroubaarheid van die eenhede het drasties verswak en is gereeld buite werking. Noodherstelwerk is gedoen omdat Eskom nie die eenhede vir langer tye kon afskakel nie weens die tekort aan opwekkingsvermoë en geweldige politieke druk om beurtkrag te vermy.

“Pleisters is geplak op ernstige wonde wat groter en duurder ingryping vereis het, en die situasie het sodoende vinnig versleg.”

Die tekort aan opwekkingsvermoë lei daartoe dat die kragnetwerk deurlopend meer kwesbaar is as wat dit moet wees.

Eskom kan ook nie langtermyninstandhouding doen nie, omdat elke opwekkingseenheid nodig is om die ligte aan te hou.

Om instandhouding op groot skaal en doeltreffend te kan doen, moet ’n steenkoolkragstasie se eenhede heeltemal afgeskakel word. Sonder reserwevermoë kan net noodinstandhouding op eenhede gedoen word.


* Cosatu se omkeerplan

Die vakbond Cosatu het onlangs voorgestel dat die regering, die OBK, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa) en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) ’n finansieringsentiteit vorm met die spesiale doel om Eskom se skuld van meer as R450 miljard met sowat R250 miljard te verminder.

Business Unity South Africa (Busa) steun ook dié plan.

Volgens die plan sal staatsdienswerkers, wie se pensioengeld gebruik sal word, in ruil daarvoor aandele in Eskom kry.

Die plan het vinnig traksie onder regeringsamptenare begin kry, berig Netwerk24, maar die staatsdienspensioenfonds (GEPF), wat die teiken is van die meeste van dié gesogte finansiering, het verlede week in ’n verklaring gesê hy het nog nie enige voorstel in dié verband ontvang nie, en is nie deur Cosatu of enigiemand anders oor die vermindering van Eskom se skuld geraadpleeg nie.

Ackerman sê ook dit is nie noodwendig ’n oplossing nie.

“Aan die een kant is dit goed dat die werkmag wil deel wees van die oplossing, en dit maak sin vir ’n Eskom-werknemer om aandele in Eskom te kry. Maar daar is ongemak in ander sektore. Daar is ook ongemak as die regering eers geld uit die GEPF kan begin haal, dit binnekort ook met ander pensioenfondse kan gebeur.”

Ramaphosa in sy staatsrede bevestig die staatspensioen sal nie vir Eskom aangewend word nie.

* Hofsaak

Die jongste hofuitspraak in ’n saak tussen Eskom en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) beteken die styging in kragtariewe sal vir die volgende twee jaar vir eers op onderskeidelik 8,1% en 5,2% bly, waar Eskom aanvanklik gehoop het op ’n verhoging van 10% tot 12%.

Dit lyk soos ’n oorwinning vir die verbruiker, maar as Eskom nie sy geld deur tariewe kan verhaal nie, sal hy moet kyk na ánder maniere om dit te verhaal, wat moontlik meer belasting kan insluit, meen Ackerman.

Voorheen is berig 28 Eskom-werknemers word tans vir korrupsie ondersoek.

Name soos Brian Molefe, voormalige hoof, en Anoj Singh, voormalige finansiële hoof, duik gedurig in getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping op.

Die Kusile-kragstasie in Mpumalanga. Foto: City Press / Herman Verwey

* Die staat se noodstappe om die kragkrisis op te los

Ramaphosa het in sy staatsrede die volgende punte uitgelig:

1) ’n Art. 34- ministeriële bepaling sal binnekort uitgereik word om uitvoering te gee aan die geïntegreerde hulpbronplan van 2019, wat die ontwikkeling van bykomende opwekkingsvermoë uit hernubare energie, aardgas, hidrokrag, batteryberging en steenkool moontlik maak.

2) Noodkrag sal gekry word van projekte wat binne drie tot twaalf maande ná goedkeuring krag aan die netwerk kan lewer.

3) Nersa sal voortgaan met die lisensiëring van kleinskaalse projekte wat minder as 1 MW vir eie gebruik opwek.

4) Nersa sal toesien dat waar kommersiële gebruikers en nywerhede meer as 1 MW krag wil opwek, dié aansoeke binne 120 dae verwerk word. Daar sal ook geen beperking wees op geïnstalleerde kapasiteit bo 1 MW nie.

5) Die vyfde venster sal oopgemaak word waartydens onafhanklike kragprodusente kan bie vir die lewering van hernubare energie. Daar sal ook saam met produsente gewerk word om die voltooiing van venster 4-projekte te versnel.

6) Aanvullende kragkoopooreenkomste gaan onderhandel word om ekstra vermoë by bestaande wind- en sonkragaanlegte te bekom.

7) Maatreëls sal ingestel word om munisipaliteite wat finansieel goed presteer, toe te laat om hul eie krag van onafhanklike kragprodusente te verkry.

Sondaars in die geldkrisis

Eskom se geldkrisis het ’n lang aanloop, maar dit sluit in die vertragings met die bou van die Medupi- en Kusile-kragstasie, wanbetalings en sy afhanklikheid van korttermynsteenkoolkontrakte pleks van goedkoper langtermynkontrakte. Die oorgroot arbeidsmag is ook ’n probleem.

* Medupi en Kusile

Medupi in Limpopo en Kusile in Mpumalanga, Eskom se vlagskipkragstasies, het weens vertragings en korrupsie in die konstruksieproses een van sy grootste laste geword.

Du Toit meen dat selfs in ’n laegroei-scenario beurtkrag gaan voortduur totdat die Medupi- en Kusile-kragstasie ten volle in bedryf gestel word.

Dié twee was veronderstel om, volgens minister Pravin Gordhan, “die ekstra energieruimte” te skep wat nodig is om ander eenhede die geleentheid te gee om van die netwerk gehaal te word vir opgraderingswerk.

“Die syfers is gruwelik,” het Gordhan gesê.

“Eskom produseer effens meer elektrisiteit. Die aanvraag daal met sowat 1% per jaar. Die koste van elektrisiteit het met meer as vier keer gestyg. Hoe kan jy dieselfde hoeveelheid (elektrisiteit) verkoop, maar jy verdien vier keer meer as tien jaar gelede?

“Dit is as gevolg van tariefverhogings om te betaal vir al die diefstal wat by Medupi en Kusile plaasgevind het. Dit is vir al die ekstra geld wat jy vir steenkool en instandhouding betaal, en aan vervaardigers van toerusting, ensovoorts. En dit is die gewone burger en die ekonomie wat die prys betaal,” het Gordhan aan Fin24 gesê.

Die twee projekte kom al sedert 2007 aanDie doel was om Eskom se kapasiteit teen 2017 met 56% te verhoog. Daar is aanvanklik R70 miljard vir Medupi en R80 miljard vir Kusile begroot.

In sy verslag aan die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings verlede jaar in Februarie, het Gordhan bekend gemaak die boukoste van Medupi en Kusile beloop reeds R145 miljard en R161 miljard onderskeidelik.

Mail & Guardian berig dis eerder nader aan R208 miljard en R239 miljard onderskeidelik.

Dit lyk of Medupi eers in 2021 sal klaar wees en Kusile dalk in 2023.

* Steenkool

Eskom se kragverskaffing hang grootliks (91%) af van steenkool, volgens die portefeuljekomitee se ontleding van Eskom se geldsake in 2017.

Eskom het onlangs weer toestemming verleen dat die privaat sektor myne naby sy aanlegte begin, wat hom geld gaan bespaar en gehaltebeheer sal verseker.

Sedert die sewentigerjare het Suid-Afrika veredelde steenkool (steenkool van die hoogste gehalte) na Europa en Japan uitgevoer, terwyl die tussenfraksies (steenkool wat oorbly ná die wasproses) of laegraadse steenkool vir Eskom gehou is.

Hoewel steenkoolkragstasies gewoonlik laegraadse steenkool gebruik, moet dit steeds van ’n minimum gehaltegraad wees en moet die verhouding tussen steenkool en steenkoolstof reg wees, sê Du Toit.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. Foto: Daily Sun / Lindile Mbontsi

Sonder myne en kragaanlegte naby mekaar sodat die steenkool per vervoerband gelewer kan word, kan Eskom volgens Du Toit moeilik die gehalte van die steenkool beheer wat by hom uitkom, en is berging moeiliker en kan die steenkool makliker nat raak as dit reën.

“Talle leweransiers is of word waarskynlik vir substandaard steenkool en klippe betaal,” sê hy.

Hy sê die steenkool en gemors (swart van steenkoolstof) word baie fyn gemaal voordat dit as poeier (die brandstof) in die ketels ingespuit word nadat olie eers gebruik is om die ketels aan die gang te kry.

“Wanneer substandaard steenkool en klippe verpoeier word, veroorsaak dit skade aan die ketels, wat veroorsaak dat die ketels nie genoeg stoomdruk kan opbou om die opwekkers te laat draai om die hoeveelheid krag op te wek waarvoor dit ontwerp is nie.”

Die skade wat aan Eskom se ketels aangerig word, is baie groot, meen Du Toit.

“Om ’n ketel heeltemal te versien, neem ses tot nege maande per ketel.”

Eskom stem egter nie saam met die bewerings oor die gehalte van sy steenkool nie.

“Die bron van die steenkool word in die kontrakteringsfase deur Eskom se tegniese span geëvalueer en afgeteken,” het Eskom se mediakantoor by ’n navraag aan Netwerk24 gesê.

“Tydens die bedrywighede word die steenkool by die myn gereeld getoets . . . in die teenwoordigheid van Eskom se aangestelde monitors. Monsters word in ’n afsluitbare bak gestoor, wat gesluit bly totdat dit deur iemand van Eskom versamel word. Die monster word dan na ’n Eskom-steenkoollaboratorium gestuur vir ontleding. Die resultate word binne 24 uur aan Eskom asook die myngeoloë gerapporteer. Slegs voorraad wat aan Eskom se spesifikasies voldoen, word op vragmotors gelaai en na die kragstasie aangery.”

Oor die huidige situasie met sy steenkool, sê Eskom se mediakantoor hy het ’n behoefte aan sowat 1,3 miljard ton se steenkool vir sy verskeie kragstasies tot 2050.

Om aan die vraag te voldoen, het Eskom in 2019 tenders uitgereik vir meer as 300 miljoen ton vir vyf kragstasies. Hy beplan ook om vanjaar tenders vir sowat 560 miljoen ton uit te reik.

* Wanbetaling

Munisipaliteite se wanbetaling aan Eskom is ’n verdere probleem. Op 25 Oktober verlede jaar haal Netwerk24 vir Jan Oberholzer aan wat sê net Soweto skuld Eskom R17 miljard – en Eskom het al in ’n vorige ronde skuld afgeskryf.

Buiten Soweto skuld munisipaliteite Eskom al R27 miljard.

Staatsdepartemente skuld Eskom R34,4 miljard, berig Mail & Guardian.

Die provinsies wat volgens Oberholzer veral nie hul rekeninge betaal nie is die Vrystaat, Noordwes, Gauteng en Mpumalanga.

Eskom se Kendal-kragstasie in Mpumalanga. Foto: Bloomberg / Nadine Hutton

* Gebrek aan kundigheid en te veel personeel

Eskom gaan dalk vrywillige skeidingspakkette aanbied in ’n poging om sy werksmag te verklein sonder dat gedwonge afleggings plaasvind, het Netwerk24 Donderdag berig.

Die kragverskaffer sukkel al ’n geruime tyd om sy personeelkorps te verklein. Hy het, volgens onder meer die Wêreldbank, derduisende werknemers te veel vir die hoeveelheid krag wat hy opwek.

In vertroulike dokumente word gesê Eskom gaan nou van sy bestuurders in nie-sleutelposte en wat ouer as 60 is, die opsie gee om ’n skeidingspakket te aanvaar.

Dis egter nog nie aan Eskom-werknemers so gekommunikeer nie.

Eskom het in ’n verklaring bevestig die “vrywillige” pakkette sal in Maart en April aangebied word.

“Hierdeur sal Eskom R400 miljoen bestee om oorhoofse koste te sny,” lui die verklaring.

Die regering het al keer op keer gewaarsku dat Eskom onder geen omstandighede mense mag aflê nie.

Ondanks die Eskom-dokument wat die ronde doen, het Netwerk24 op 25 Oktober verlede jaar vir Jan Oberholzer aangehaal wat sê dat Eskom se werksmag van 44 000 “veilig” is.

Foto: Unsplash.com

Die kere dat Eskom geluide oor afleggings gemaak het, het die vakbonde hom hewig aangeval.

Oberholzer het destyds gesê deur oortollige personeel te laat gaan, gaan Eskom hoogstens R7 miljard per jaar bespaar.

“Maar as jy werknemers uit diens stel, moet jy hulle betaal om te gaan en tans het ons nie die geld daarvoor nie.”

Hy het gesê sal ook nie goed wees vir die land se ekonomie om tussen 10 000 en 15 000 mense werkloos te laat nie.

Die sowat 30 000 werknemers wat meer as 11 jaar gelede nog by Eskom gewerk het, was volgens hom meer produktief as nou.

Daar is tans ’n tekort aan kritieke vaardighede in die bedryfsafdeling. “Daarvoor is 3 638 nuwe poste geskep. Dit sluit in ingenieurs, ambagslui en vakmanne,” het Oberholzer destyds gesê.

’n Elektriese ingenieur wat gereeld kontrakte met Eskom aangaan en kennis van die saak het, sê die kundigheidsvlakke het drasties gedaal soos Eskom rasteikens nagejaag het en waarskynlik ook ’n bydrae moes maak tot die staat se teikens vir indiensneming.

“Hulle het kundige personeel tot bedanking gefrustreer en baie mense aangestel, maar die verkeerdes. Hulle sal derhalwe van baie mense ontslae moet raak, ongeveer 20 000, wat nie ’n bydrae kan lewer nie en sal ongeveer 5 000 kundige mense moet aanstel as hulle enigsins die organisasie wil omdraai.”

Eskom stem nie saam met die stelling oor gedwonge werkskepping nie. “Die aanstellings het hoofsaaklik op die laer vlakke in die verspreidingsomgewing plaasgevind . . . en die aanstelling van vakleerlinge op intreevlak om die pyplyn van kritieke vaardighede te verbeter. Diensbillikheid of werkskepping was nie ’n beweegrede nie,” het Eskom op Netwerk24 se navraag geantwoord.

Eskom sê hy het ’n afgetekende arbeidsmagplan wat tans hersien word om produktiwiteit en kostedoeltreffendheid te verbeter.

Die anonieme ingenieur meen ook die werksetiek het oor die jare geweldig agteruitgegaan.

“Deur beurtkrag het dit aanvaarbaar geword om verbruikers se krag onaangekondig af te skakel. Produktiwiteit het geweldig gedaal en inderwaarheid werk min van Eskom personeel meer as vier dae per week. Hulle is selde op Vrydae en veral Vrydagmiddae by die werk. Die kultuur van gehaltewerk het oor die jare verdwyn.

“Bevorderings en aanstellings word nie op meriete gedoen nie, wat die werksetiek nadelig raak,” sê die ingenieur.

Eskom het dit teenoor Netwerk24 ontken dat sy personeel net vier dae per week werk.

Die bouperseel van Eskom se Kusile-kragstasie ’n paar jaar gelede. Foto: Sake24

Ander opsies en pogings tot besparing

Oberholzer sê daar kan by die verkrygingsafdeling gesny word, want van die verskaffers hef buitengewone wins op hul produkte – van gebottelde water tot swartsakke en toiletpapier.

“Ek glo ons kan jaarliks 20% by aankope bespaar deur net weer deur die kontrakte te gaan. Dit is R10 miljard per jaar. Met steenkoolaankope, wat R70 miljard per jaar is, kan ons nog 20% bespaar. Dit is R14 miljard.”

Volgens Du Toit is daar nog geleenthede in die mark en ook nog netwerkvermoë vir die koppeling van nog ten minste 10 000 MW se gedesentraliseerde opwekkers, meestal direk aan die transmissiestelsel eerder as deur die distribusiestelsel.

“Sonkrag en windturbines bly die vinnigste oplossing om opwekkingsvermoë op kort termyn te verhoog. 2 000 MW kan binne 24 tot 36 maande geïnstalleer word. Dit sal die druk op geskikte steenkoolvoorraad verlig en ruimte skep vir die implementering van ’n behoorlike instandhoudingsprogram by die kragstasies.”

Die oplossing lê in ’n kombinasie van kragopwekkingstegnologieë, sê Du Toit, met verwysing na die groenkragbedryf wat in die jongste geïntegreerde hulpbronplan (IRP) toewysings vir opwekking gekry het om elektrisiteit aan die land te lewer en die kragkrisis te help verlig.

Meer oor:  Jan Oberholzer  |  Cyril Ramaphosa  |  Pravin Gordan  |  Andre De Ruiter  |  Eskom  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.