Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Waar kry Eskom geld vir reddingsboei vandaan?
Eskom het onlangs 'n reddingsboei van R17 miljard ontvang. Maar van waar?

Dit is nog duister presies hoe die nasionale tesourie sy reddingsboei aan Eskom gee. Navrae aan die tesourie is nog onbeantwoord. Eskom het navrae na die tesourie verwys.

Dit kom nadat Tito Mboweni, minister van finansies, in ’n verslag aan die parlement verlede week aangedui het hy het ’n noodklousule in die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies gebruik om R5 miljard uit die staatskas te vat om aan Eskom te gee.

Eskom se geldkrisis was reeds welbekend, want met skuld van R420 miljard en kragverkope wat kwyn genereer hy nie genoeg inkomste om die stygende maandelikse rentebetalings by te bring nie, om nog nie eens te praat van die betaling van salarisse en verskaffers nie.

Mboweni het in die begroting in Februarie steun van R23 miljard per jaar oor die volgende drie jaar aan Eskom beloof, maar dit sou die normale toedelingsprosesse volg en eers tussen Augustus en Oktober aan Eskom betaal word, het Fin24 berig.

Die krisis het volgens Mboweni se verslag teen einde Maart vererger toe Eskom nie nuwe lenings kon kry of van bestaande leningsgeriewe geld kon kry nie. Eskom het in Julie 2018 ’n lening van $2,5 miljard (sowat R35 miljard teen die huidige wisselkoers) by die Chinese Ontwikkelingsbank gekry, en hy sou teen 25 Maart R7 miljard van die geld by die Chinese bank gekry het.

Maar Mboweni verduidelik die bank kon weens valutabeheervereistes van die Chinese sentrale bank nie die geld betyds oorbetaal nie, volgens Fin24.

Die Chinese Ontwikkelingsbank het intussen aangedui hy sal die bedrag nou in April kan uitbetaal.

Vrae aan die tesourie of die geld aan die tesourie terugbetaal gaan word sodra die Chinese lening deurkom, en of die staatshulp van R17 miljard (waarvan R5 miljard reeds aan Eskom betaal is) deel sal vorm van die beloofde R23 miljard vir die jaar, is nog nie beantwoord nie.

Gerugte wil dit hê dat die Chinese nie meer wou voortgaan met die lening aan Eskom nie en dat Suid-Afrikaanse amptenare na China is om die saak te probeer beredder, maar die tesourie kon dit ook nog nie bevestig nie.

Volgens Mboweni het Eskom as ’n tussentydse maatreël ook vir Absa Capital vir oorbruggingsfinansiering van R3 miljard gevra. Dié finansiering word deur ’n staatswaarborg gedek. Eskom het R281 miljard se lenings wat deur die staat gewaarborg word, as deel van sy totale skuld van R420 miljard.

Intussen het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, aan EWN gesê die probleem by Eskom is onder beheer.

“Eskom is nie op pad om in duie te stort nie.” sê Gordhan.

Meer oor:  Eskom  |  Kragkrisis  |  Beurtkrag  |  Reddingsboei  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.