
Eskom se hoofkantoor in Johannesburg. André de Ruyter, die uitvoerende hoof, sê daar is ’n goeie kans dat nie die volle R3,8 miljard wat hy van 12 individue eis, verhaal sal kan word nie. Foto: Bloomberg
Daar is ’n goeie kans dat Eskom nie al die geld wat hy van 12 individue terugeis, sal kan invorder nie omdat dit waarskynlik reeds bestee is.
Maar Eskom werk saam met die batebeslagleggingseenheid en gaan sy bes probeer om die volle bedrag te verhaal. Dit is ’n beginselsaak vir Eskom en daarom meen hy dit is die moeite werk om die regskoste aan te gaan om die geld te probeer verhaal.
So het André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, Dinsdag in ’n vrae-en-antwoordsessie gesê nadat hy die Kaapstadse Persklub aanlyn toegespreek het.
Eskom eis R3,8 miljard van onder andere sy voormalige werknemers Brian Molefe, Anoj Singh, Matshela Koko, Suzanne Daniels, dr. Ben Ngubane, Chwayita Mabude en Mark Pamensky. Dit hou met die Gupta-maatskappy Tegeta Exploration & Resources se verkryging van die Optimum-steenkoolmyn in 2016 verband.
Eskom en die spesiale ondersoekeenheid het op 3 Augustus ’n dagvaarding in die hooggeregshof in Pretoria verkry om dié geld terug te kry.
“Ons het vertroue dat ons ’n goeie saak het,” sê De Ruyter oor die eis.
LEES OOK: Dís Eskom se probleem met Molefe, Singh en ander