Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom se 44 000 vir eers veilig

Eskom is besig met grootskaalse besparingsmaatreëls, maar sy werkmag van 44 000 – volgens bykans alle ontleders heeltemal te duur en groot – is vir eers veilig.

Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, het in ’n onderhoud met Beeld gesê uitdiensstellings is tans nie ’n volhoubare oplossing vir die kragreus se finansiële probleme nie.

“Dit sal ons hoogstens R7 miljard per jaar bespaar. Maar as jy werknemers aflê, moet jy hulle betaal om te gaan en tans het ons nie geld daarvoor nie.

“Dit sal ook nie goed wees vir die land se ekonomie, wat tans pap is, om tussen 10 000 en 15 000 werkloos te laat nie. As ons so baie mense afdank, skep ons net ’n nuwe kopseer vir die land.”

Dit sal ook nie goed wees vir die land se ekonomie, wat tans pap is, om tussen 10 000 en 15 000 werkloos te laat nie.
Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof.

Oberholzer gee toe daar is probleme: “Toe ek 11 jaar terug by Eskom bedank het, het die kragreus so ’n bietjie meer as 30 000 mense in diens geneem, en ons produktiwiteit was beter as nou.

“Vandag gee ons werk vir sowat 44 000 mense en ons betaal ook nog vir kontrakteurs. Iets is beslis nie lekker nie.

“In sommige departemente het ons ’n wanbalans van belangrike vaardighede.

“By ons bedryfsafdeling het ons ’n tekort aan kritieke vaardighede. Daarvoor is 3 638 nuwe poste geskep,” sê hy.

“Dit sluit ingenieurs, ambagslui en vakmanne in.

“Poste wat as oorbodig beskou word, gaan ook nie gevul word wanneer iemand bedank nie.”

Volgens hom is die fokus nou om die bestaande arbeidsmag se produktiwiteit te verhoog, want dit is baie laag.

Oor besparings wat wel nou gedoen word, sê Oberholzer daar is groot stukke vet by Eskom se verkrygingsafdeling wat weggesny kan word.

Van die verskaffers hef buitengewone winste op hul produkte – van gebottelde water tot swartsakke en toiletpapier.

Oberholzer sê dis ’n kombinasie van bedenklike tenders, middelmatigheid wat deur die jare geduld is en werknemers wat nie ’n deeglike begrip het oor hoe die verkrygingsproses werk nie – hulle doen maar wat hul voorgangers gedoen het.

Ek persoonlik glo ons kan jaarliks 20% by aankope – wat R50 miljard per jaar is – bespaar, deur net weer deur die kontrakte te gaan.

“Ek persoonlik glo ons kan jaarliks 20% by aankope – wat R50 miljard per jaar is – bespaar, deur net weer deur die kontrakte te gaan. Dis R10 miljard per jaar. By die steenkoolaankope – wat R70 miljard is – kan ons nog 20% bespaar, dit is R25 miljard.”

Maar dié maatreëls alleen gaan egter nie die maatskappy red nie, beklemtoon Oberholzer.

Die Nasionale Vergadering het Dinsdag ten gunste van ’n spesiale toedelingswetsontwerp gestem wat ’n reddingsboei van R59 miljard aan Eskom moontlik maak.

Dan is daar ook nog die tariefverhogings – Eskom vra ’n verhoging van 15% per jaar in die volgende drie boekjare in sy veeljarige tariefaansoek.

Een van die voorwaardes vir die reddingsboei is dat Eskom alle skuld moet invorder van munisipaliteite, staatsdepartemente en staatsondernemings – insluitende die woonbuurt Soweto.

“Ons vra egter ook vir die regering om ons te help met die uitstaande skuld van munisipaliteite wat nie betaal nie.

“Daar is nie, na my mening, werklike politieke wilskrag om die kwessie op te los nie,” sê Oberholzer.

Hy noem die Vrystaat, Noordwes, Gauteng en Mpumalanga as die grootste sondaars.

“En Soweto self is ’n kopseer. Soweto skuld ons R17 miljard. En ons het al geld afgeskryf.”

Meer oor:  Jan Oberholzer  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.