Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom se baas van min doen

Eskom se herstruktureringshoof lê Vrydag sy pos neer sonder enige duidelikheid oor wat hy nou eintlik die afgelope ses maande daar gedoen het.

Freeman Nomvalo, wat ook uitvoerende hoof is van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica), is in Julie verlede jaar aangestel in ’n pos wat die finansminister, Tito Mboweni, aanvanklik beskryf het as ’n “administrateur” vir Eskom.

Freeman Nomvalo, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerder Rekenmeesters, lê Vrydag die pos as herstruktureringshoof by Eskom neer wat hy sedert Julie verlede jaar beklee het.

Dit is egter algaande afgewater tot die “leier van ’n span wat die Eskom hoof-herstruktureringskantoor” sou opstel en waaroor tot dusver niks bekend is nie.

Eskom se nuwe uitvoerende groepshoof, André de Ruyter, het die afgelope week aan Rapport gesê hy het nog geen kontak met Nomvalo gehad nie – dít ten spyte daarvan dat hy reeds verskeie kragstasies besoek het, kontak gemaak het met die energiereguleerder Nersa, mediaonderhoude toegestaan en verskeie ander belanghebbendes ontmoet het.

“Ons wag op ’n verslag wat hy (gaan) voorlê aan die direksie,” het De Ruyter gesê.

Mboweni het in sy begrotingsrede in Februarie verlede jaar baie klem daarop gelê dat staatsondernemings moet rekenskap gee vir staatshulp en staatswaarborge.

“As ’n staatsonderneming vra vir ’n staatswaarborg vir bedryfsdoeleindes, sal van hulle vereis word om ’n herstruktureringshoof aan te stel tesame met die nasionale tesourie en diegene wat sy effekte hou. Dié persoon sal ’n volledige hersiening doen van die bedrywighede en finansies.”

Hy het gesê as banke staatsondersteuning nodig het, stel die staat ’n kurator aan.

“As munisipale en provinsiale finansies in ’n warboel is, kan die regering die bestuur van die administrasie oorneem. Dié reëls moet ook geld vir alle staatsondernemings,” het Mboweni gesê.

Piet van Staden, voormalige voorsitter van die energie-intensiewe gebruikersgroep (EIUG), wat Eskom se groot, industriële kliënte verteenwoordig, sê die organisasie het dus verwag dat die herstruktureringshoof (CRO) die bestuur van Eskom sou oorneem.

Die aanstelling het egter tot Julie gesloer toe Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, aangekondig het dat Nomvalo deur Saica na Eskom gesekondeer is om “die leiding te neem in die vestiging van die herstruktureringshoof se kantoor en om sy vermoë op te bou”.

Hy sou aan Mboweni en Gordhan en die Eskom-direksie rapporteer en die magtiging hê om vergaderings van die direksie en Eskom-bestuur by te woon.

Gordhan het gesê Nomvalo se take sou insluit om Eskom se skuld te ondersoek en voorstelle te maak om die skuldlas te verlig en met beleggers in Eskom-skuld te skakel.

Sake-eenheid Suid-Afrika (Busa) het ná die aankondiging sy teleurstelling uitgespreek met Nomvalo se aanstelling, omdat hy volgens Sipho Pityana, die organisasie se president, geen bewese prestasiegeskiedenis het van herstruktureringswerk nie.

Van Staden sê die rol is skynbaar afgewater tot ’n deeltydse pos wat sou poog om Eskom se skuld te heronderhandel, maar dit lyk ook nie of enigiets daaraan gedoen is nie.

Saica het aan Rapport bevestig dat Nomvalo se rol by Eskom aan die einde van die maand, dus Vrydag, tot ’n einde kom. Sy verslag sal teen einde Februarie aan die regering oorhandig word, sê die organisasie.

Verdere navrae is na die tesourie en die departement van openbare ondernemings verwys.

Die departement van openbare ondernemings het laat Vrydagmiddag laat weet Nomvalo is aangestel as “hoof van die herstruktureringskantoor”, spesifiek om opsies te soek om Eskom se skuld te bestuur.

“Sy mandaat het nie die algehele transformasie van Eskom ingesluit nie.” Dít is De Ruyter se werk, sê die departement.

Die CRO sal die regering adviseer hoe om met Eskom se skuld te werk te gaan. “Terwyl die opsies oorweeg word, sal die regering geen aankondigings doen oor die skuldoplossing alvorens daar vordering is met die bedryfsregrukpoging en die ontbondeling nie,” sê die departement.

Anders as wat Saica en Nomvalo self in ’n nuusbrief aan Saica-lede sê, verwag die departement Nomvalo se verslag voordat hy sy kantoor Vrydag ontruim.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.