Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom se bedryfshoof nié korrup, bevind ondersoek
Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom. Foto: Elvira Wood

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, is onthef van alle blaam in die ondersoek na bewerings van korrupsie, oneerlikheid, belangebotsing en misbruik van mag wat in Maart teen hom gemaak is.

Eskom het Woensdag aangekondig ’n eksterne regskenner is aangestel om die bewerings te ondersoek wat deur ’n Eskom-werknemer gemaak is.

Die senior advokaat het bevind daar is geen rede vir enige optrede teen Oberholzer nie.

Die werknemer is Mark Chettiar, wat regstreeks aan Oberholzer gerapporteer het toe Chettiar nog hoofbestuurder vir megaprojekte by Eskom se kapitaalafdeling was.

Chettiar het in voorleggings aan die Zondo-kommissie oor staatskaping beweer hy is deur Oberholzer geviktimiseer weens klagtes wat hy teen Oberholzer ingedien het, het Fin24 in Maart berig.

Corruption Watch en die vakverbond Saftu het ook daaroor voorleggings aan die Zondo-kommissie gedoen.

Die advokaat, wie se naam nie genoem word nie, moes ondersoek of Oberholzer nagelaat het om enige belangebotsings openbaar te maak wat die konstruksiemaatskappy Stefanutti Stocks betref.

Oberholzer besit aandele in Stefanutti Stocks, maar het volgens die advokaat behoorlike openbaarmaking gedoen daaroor en het bevind dat dit nie ’n saak is waaroor hy voor ’n tugverhoor gedaag hoef te word nie.

Stefannuti Stocks is een van ’n paar kontrakteurs wat ondersoek word weens beweerde opgeblase betalings wat hulle ontvang het vir werk by die Medupi- en Kusile-kragstasie. Oberholzer het voorheen by Stefannuti Stocks gewerk as besturende direkteur van sy afdeling vir meganiese, elektriese en kragprojekte.

Die advokaat moes ondersoek of Oberholzer sedert sy terugkeer na Eskom in 2018 in enige kontak met verteenwoordigers of kontrakteurs van Stefanutti Stocks sy fidusiêre pligte en enige beleid van Eskom oortree het, en of daar enige korrupsie plaasgevind of persoonlike voordeel verkry is uit die toekenning van ’n kontrak aan die ingenieursfirma Black and Veatch in 2007.

Black and Veatch is aanvanklik in 2005 deur Eskom gekontrakteer om die bouwerk van Kusile te bestuur, en sou R100 miljoen daarvoor kry, het City Press in Maart berig. Maar teen Desember 2017 het Eskom al R14,9 miljard aan die firma betaal.

Volgens die advokaat is geen onbehoorlike optrede van Oberholzer gevind oot die kontrak met Black and Veatch nie. Oberholzer was in sy vroeër loopbaan by Eskom die hoofbestuurder vir kapitaalprojekte en het afgeteken op die kontrak aan Black and Veatch. Hy het in 2008 bedank en het in 2018 teruggekeer as bedryfshoof.

Die advokaat moes ook die omstandighede ondersoek waarin Chettiar van sy pos as hoofbestuurder: megaprojekte (kapitaalafdeling) geskuif is na die mensehulpbrondepartement toe, en of die skuif in ooreenstemming met Eskom se personeelbeleid gedoen is.

Die ondersoek het volgens Eskom getoon daar was geen fout met die proses wat Oberholzer gevolg het om Chettiar te skuif nie. Hoewel die ondersoek bevind het die verhouding tussen Oberholzer en Chettiar was gespanne, “was daar nie enige viktimisasie nie”.

’n Eis van R42 miljoen deur die konstruksiemaatskappy Aveng teen Eskom word in Mei in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor en Eskom verdedig dié eis, het die maatskappy in ’n verklaring gesê.

Volgens Eskom sal hy eers wag vir die uitslag van dié hofproses voordat hy besluit of daar enige tugstappe teen enige werknemer gedoen moet word.

Meer oor:  Eskom  |  Jan Oberholzer  |  Korrupsie  |  Elektrisiteit  |  Energie  |  Kragopwekking  |  Kragvoorsiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.