Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom se besoedeling maak mense dood in SA

In die dorpie Pullens Hope in Mpumalanga jeuk jou oë en verstop jou neus, en die rede is maklik om te sien.

Regs van die hoofstraat is ’n elektriese substasie met ’n rooi kennisgewing wat teen besoedeling waarsku. Links is ’n kragstasie wat weens die verbranding van steenkool uitlaatgasse die lug in stuur. Albei behoort aan Eskom.

Die Kelvin-steenkoolkragstasie in Kemptonpark, Johannesburg. Foto: Rosetta Msimango/City Press

Rita Phoku (55) sê Pullens Hope het haar gesin vernietig. Sy leef al dekades tussen ’n bergplek vir Eskom se steenkoonafval en ’n steenkoolmyn. Vier van haar vyf kinders ly aan asma en ander lugwegsiektes. Haar dogter Prudence is op 23 aan longkanker dood.

Haar suster wat daar naby gewoon het, het verskeie miskrame gehad en het aan ’n lugwegsiekte gesterf.

Phoku sê sy het al nege familielede weens asemhalingsverwante siektes aan die dood afstaan.

Sy blameer Eskom daarvoor wat 12 steenkoolkragstasies in Mpumalanga bedryf.

Volgens die luggehalte-moniterings-app AirVisual is die lugbesoedeling in die grootste dorpe in Mpumalanga gereeld meer as dié in Beijing en Djakarta, wat as die twee mees besoedelde stede ter wêreld beskou word.

“Dit help nie om te kla nie want as jy kla, word jy beskou as iemand wat moeilikheid wil maak,” sê Phoku. “My kinders raak steeds siek en al wat ek kan doen, is om geld te vat sodat hulle dokter toe kan gaan.”

Van die studies raam dat meer as 2 000 Suid-Afrikaners jaarliks weens die besoedeling van kragstasies sterf.

Die omgewingsgroep Greenpeace het met satellietdata bepaal dat die gebied tussen Junie en Augustus verlede jaar die ergste stikstofdioksied-besoedeling ter wêreld gehad het wat van kragstasies afkomstig is.

In ’n afsonderlike studie het Greenpeace gesê uitlaatgasse soos swaeldioksied, stofdeeltjies en kwik veroorsaak sterftes weens lugwegsiektes, beroertes en hartaanvalle in gebiede selfs buite Mpumalanga, waaronder Johannesburg met sy sowat tien miljoen mense.

Van die studies raam dat meer as 2 000 Suid-Afrikaners jaarliks weens die besoedeling van kragstasies sterf. China, wat meer as 20 keer soveel mense as Suid-Afrika het, het in 2011 altesaam 3 153 sterftes weens besoedeling van steenkoolkragstasies gehad, volgens ’n studie wat die American Chemical Society in 2017 gedoen het.

Eskom het in Februarie beweer dat die ware sterftesyfer per jaar 320 is. ’n Onlangse studie in opdrag van die Sentrum vir Omgewingsregte het egter onlangs soveel as 650 sterftes weens besoedeling aangeteken.

Die druk op Eskom om sy besoedeling te verminder kom nog bo-op sy finansiële en bedryfsdruk. Eskom het skuld van meer as R440 miljard en sy inkomste is nie genoeg om sy bedryfskostes te dek nie.

Die reddingsboei van R230 miljard om Eskom uit bankrotskap te hou dek nie die koste om besoedeling tot op bestaande standaarde te verlaag nie. Strenger standaarde is veronderstel om in 2020 van krag te word, maar Eskom het uitstel gevra tot 2025 want hy kan nie R189 miljard bestee om tegnologie te installeer om besoedeling te verminder nie.

Deidre Herbst, omgewingsbestuurder by Eskom, sê die studies met hoër sterftesyfers is oordrewe en Greenpeace se studie neem nie die hoogte van die skoorstene by sy kragstasies in ag nie. Daarmee bedoel sy dat baie van die uitlaatgasse hoog in die atmosfeer vrygelaat word en nie die luggehalte op grondvlak raak nie.

Volgens haar word Mpumalanga se besoedeling boonop vererger deur die algemene gebruik van steenkool vir huishoudelike verhitting en om kos te kook.

In Pullens Hope oordonder Eskom se Hendrina-kragstasie met sy sewe koeltorings die uitsig op die horison. Maar afhangend van die windrigting en plaaslike weerstoestande kan ’n mens Eskom se kragstasies in Mpumalanga nie juis van ver af sien nie weens die wasige rookmis wat oor die gebied hang.

In Middelburg, noord van Hendrina, sê dokters die lugweg-klagtes van hul pasiënte hou hulle besig.

Dr. Alex Mashifane sê hy behandel baie mense met hooikoors, sinusprobleme en asma. “Hulle het nie mediese dekking nie. Dit raak hul lewensgehalte en hul sak.”

Die vorige minister van omgewingsake het verlede jaar stil-stil die vrystellingsperke vir swaeldioksied by bestaande steenkoolkragstasies tot 2020 verdubbel. Dit was teen die wet want geen openbare kommentaar of deelname is vir die wysigings gevra nie.

Ná ’n hofsaak het die departement van omgewingsake vanjaar belowe dat kommentaar gevra sal word.

Twee omgewingsgroepe het intussen ’n afsonderlike regsaksie begin om die regering te dwing om sy eie uitlaatgas-perke af te dwing, wat reeds aansienlik hoër is as dié van China en Indië, wat die wêreld se grootste steenkoolverbruikers is.

Eskom se kragstasies stel soveel as 3 500 milligram swaeldioksied per m³ vry, en volgens Albi Modise, kommunikasiehoof by die departement van omgewingsake, sal die voorgestelde verhoogde standaarde nie veel van ’n verskil maak nie want Eskom se kragstasies kan nie naastenby daaraan voldoen nie.

Volgens Herbst kry Eskom se twee nuwe kragstasies – Kusile en Medupi – wel tegnologie om swaeldioksied-vrystellings te beperk. Filters is in sommige kragstasies geïnstalleer om minder stofdeeltjies in die lug vry te stel.

“Aktiviste kap ons altyd oor wat ons nie doen nie, nie oor wat ons wel doen nie,” sê Herbst.

Eskom se besoedelingsvlakke is hoog want die kragstasies is oud en van hulle is in die 1960’s gebou, terwyl China nuwe kragstasies met nuwe tegnologie gebou het.

Maar sowel Eskom as die departement erken dat mense se gesondheid daaronder ly.

Phoku sê sy is al moeg om teen Eskom te veg. Eskom het wel betaal om mense na woongebiede verder weg van die steenkoolmyn en die afvalterrein te verskuif, maar die gesondheidsprobleme duur voort.

Meer oor:  Eskom  |  Steenkool  |  Gesondheid  |  Steenkoolkragstasies  |  Lugbesoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.