Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom se grootste kragstasie moet dalk afgesit word
Die Kendal-steenkoolkragsentrale is die grootste voltooide kragsentrale wat Eskom bedryf, en produseer 4 116 megawatt met sy ses eenhede. Foto: Brand South Africa

Eskom is besig om die departement van omgewingsake te smeek om ’n bevel op te skort wat sou beteken sy grootste werkende steenkoolkragstasie moet weens buitensporige besoedeling afgeskakel word.

Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, het Dinsdag aan Netwerk24 bevestig die departement van omgewingsake het in Desember kennis gegee dat twee van die Kendal-steenkoolkragsentrale in Mpumalanga se eenhede (altesaam 1 372 MW) afgesit sal moet word weens nie-nakoming van besoedelingsmaatreëls.

Eskom sê egter hy het ’n beroep op Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, gedoen om ’n kwytskelding toe te ken weens die heersende kragkrisis en Eskom se stryd met te min opwekkingsvermoë.

Volgens Mantshantsha is ’n kwytskelding tydelik van toepassing terwyl die minister Eskom se penarie oorweeg.

Elektrostatiese neerslaners by Kendal is al sedert 2018 buite werking. Toe die kragreus dit probeer herstel het, het ’n staking tot verdere skade gelei, wat nou maande se herstelwerk sal verg. 

Op die oomblik het Eskom te min opwekkingsvermoë beskikbaar om vir so lank sy grootste voltooide kragsentrale buite werking te laat.

Die elektrostatiese stelsels is veronderstel om sogenaamde sweef-as, wat deur die brand van verpoeierde steenkool geproduseer word, vas te vang op plate wat ’n elektrostatiese lading het.

Sonder die bedryf van die stelsels word baie skade aan die kragstasie se opwekkingseenhede aangerig, maar ook ongelooflike groot hoeveelhede toksiese gasse en partikels in die lug vrygestel. 

Kendal is in Mpumalanga geleë, saam met meeste van Eskom se ander 14 steenkoolkragstasies. Besoedeling in dié omgewing is reeds so hoog dat Greenpeace dit as die plek in die wêreld met die tweede hoogste vlak van veral swaeldioksied-vrystellings bevind het.

Kenners het al beraam dat dié besoedeling tot die direkte dood van honderde Suid-Afrikaners lei.

Kenners het al beraam dat dié besoedeling tot die direkte dood van honderde Suid-Afrikaners lei.

Eskom sê egter Dinsdag werk is nou begin om Kendal weer op standaard te kry; dit gaan net tyd neem.

“Daar is aansienlike werk nodig aan die meganika van die elektrostatiese neerslaners van verskeie eenhede,” sê Mantshantsha. “Die omvang van die werk verg egter lang onderbrekings. Gegewe die heersende druk op die kragnetwerk, sal Eskom sover moontlik die werk een eenheid op ’n slag moet benader.”

Stelsels wat stof moet filtreer is ook blykbaar buite werking, en dié kry ook nou aandag.

Eskom sê eenhede 1 en 2 word tans bedryf binne die departement se voorwaardes vir toksiese vrystellings.

Eenheid 5 is tans af vir opgraderings en word binne ’n paar maande verwag om binne besoedelingsmaatreëls te kan werk.

Eenhede 3, 4 en 6 is egter tans in bedryf met baie hoë vlakke van vrystellings.

Eenheid 6 sal na verwagting in die tweede helfte van 2020 herstel word wanneer eenheid 5 voltooi is.

Meer oor:  Eskom  |  Besoedeling  |  Kragopwekking  |  Omgewing  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.