Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom sê jammer – maar vra nog meer

“Eskom vra om verskoning vir Suid-Afrikaners vir al die uitdagings soos beurtkrag. Dit was vermybaar. Ons vra om verskoning daarvoor,” het Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, Maandag gesê.

In dieselfde asem sê Hadebe Eskom is in ’n skuldstrik en die toekoms sal nog donkerder wees as Eskom nie sy tariewe met 15% kan verhoog nie.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Elvira Wood

Hy het by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) se openbare sitting oor Eskom se tariefaansoek vir die volgende drie jaar gesê Eskom het nou skuld van R419 miljard en dit sal oor die volgende drie jaar tot R650 miljard styg.

“Ons is baie naby aan ’n skuldstrik.”

Selfs as Eskom oor vyf jaar R150 miljard kan bespaar, is dit nie genoeg om hom uit sy skuldstrik te red nie.

Natasha Mazzone, DA-woordvoerder oor openbare ondernemings, het in reaksie in ’n verklaring gesê te midde van dreigende beurtkrag wil die ANC blykbaar hê Suid-Afrikaners moet betaal vir Eskom se onvermoë om geld te kan leen.

Die hoër tariewe sal vernietigende gevolge vir gewone Suid-Afrikaners inhou, het Mazzone gewaarsku.

Natasha Mazzone. Foto: Peter Abrahams

Eskom se huidige verkoopprys vir krag is 89c per kWh. Volgens Hadebe is Eskom teen 6,2 Amerikaanse sent steeds die goedkoopste kragprodusent in Afrika en onder die goedkoopstes in die wêreld.

Hy het toegegee dié feit, wat deur die Wêreldbank en ander konsultantefirmas bevestig word, beteken niks vir arm Suid-Afrikaners nie.

Ontleders en verteenwoordigers van burgerlike organisasies het Eskom se tariefaansoek skerp gekritiseer en gewaarsku reeds vuisvoos verbruikers kan dit nie bekostig nie.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Owerhede (Salga) het gewaarsku Eskom se tariefverhoging sal bloot ryk verbruikers aanmoedig om vinniger na alternatiewe soos sonkrag te skuif, wat Eskom se verkope nog verder sal knou.

Nhlanhla Ngidi van Salga waarsku dat die werkersklas en kwesbare, arm en werklose verbruikers wat op die kragnetwerk oorbly juis dié is wat nie vir hul krag kan betaal nie en wat hulle aan kragdiefstal skuldig maak.

Calib Cassim. Foto: Felix Dlangamandla

Volgens Calib Cassim, waarnemende finansiële direkteur van Eskom, verwag Eskom ’n verlies van R11,2 miljard vir die 2018-’19-boekjaar.

Eskom kan nie meer sy skuld bekostig nie.

“Dit is soos om een kredietkaart te gebruik om ’n ander kredietkaart se skuld te betaal,” verduidelik Cassim.

Ted Blom, konsultant van Mining & Energy, het by die openbare sitting uitgevaar oor die miljarde rande se oorbesteding by Eskom. Dit lyk asof die Medupi- steenkoolkragstasie uiteindelik R300 miljard kan kos teenoor die aanvanklike raming van R32 miljard. Die Ingula-pompopgaarskema sou eers R9 miljard gekos het, maar kos nou al R40 miljard.

Blom sê hy is verbaas dat Eskom steeds dieselfde soort sakeplan het as voorheen.

Hy sê hy kan ook nie glo dat Eskom steeds steenkoolpryse geheim wil hou nie, want hy kan na enige van die myne in Mpumalanga gaan om uit te vind wat hulle vir hul steenkool kry.

Blom het Nersa verder gekritiseer dat hy bloot ’n waarnemer is pleks van ’n reguleerder. Volgens hom het Nersa die gesag om ’n onafhanklike ondersoek na Eskom te laat doen. Hy vra of dit eties is om kragtariewe te verhoog as Eskom al self toegegee het dat tot 134 000 werkgeleenthede verlore gaan vir elke 1%-verhoging in kragtariewe.

Sy lys van vermiste miljarde by Eskom sluit in meer as R100 miljard se oorbesteding elk by Medupi en Kusile.

“Die kragmaatskappy Mundra in Indië het onlangs ses kragopwekkingseenhede vir R35 miljard gebou. Maar ’n enkele kragopwekkingseenheid by Eskom se Medupi-kragstasie kos reeds sowat R40 miljard.”

Blom verwys na die langtermynkoste van R250 per ton vir Eskom se jaarlikse steenkoolverbruik van 120 miljoen ton, wat sowat R30 miljard kos. Eskom bestee egter jaarliks R73,3 miljard aan steenkool.

“Waar is die verlore R40 miljard?”

Blom voel Eskom is steeds gekaap, want kontant gaan verlore, instandhoudingskoste styg en die duur dieselkragstasies word weer toenemend gebruik.

Meer as 500 000 werkgeleenthede in die ekonomie is al sedert 2007 verlore weens Eskom se probleme, sê Blom.

Volgens hom moet Eskom se tariefaansoeke geskrap word totdat ’n volledige forensiese ondersoek gedoen word.

Die openbare sitting in Kaapstad duur Dinsdag voort waarna dit na Port Elizabeth en dan Durban skuif.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Salga  |  Phakamani Hadebe  |  Beurtkrag  |  Elektrisiteitstariewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.