Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom se loondispuut: Goue middeweg ontwyk

Die National Union of Mineworkers (NUM) sê Eskom moet ’n “behoorlike” aanbod vir verhogings maak, want die 0%-verhoging wat Eskom aan werknemers aanbied, is “net ’n belediging”.

’n Stakende NUM-lid dra ’n mes by ’n staking in Marikana. Foto: Getty Images

Vurige onderhandelinge is Woensdag gevoer op die tweede dag wat vakbonde en Eskom koppe gestamp het oor salarisverhogings vir die komende jaar.

Drie vakbonde is betrokke by die onderhandelinge, naamlik die NUM (wat die meeste Eskom-werkers verteenwoordig, sowat 14 000), Numsa en Solidariteit.

Livhuwani Mammburu, nasionale woordvoerder van die NUM, sê aan Netwerk24 dat Eskom hulle “beledig” deur met geen aanbod na die onderhandelingstafel te kom nie.

“Daar is niks wat hulle aanbied nie! Hulle kom met leë hande, en verwag dan ons moet nog van ons voordele prysgee ook?

“Dis ’n belediging.”

Die NUM en Numsa eis saam ’n verhoging van 15% en Solidariteit van 9,5%.

Inflasie was in Maart 3,2%.

Mammburu sê hulle sal nie eens begin praat oor ’n kompromis aangaan totdat Eskom met ’n regte aanbod na die tafel toe kom nie. Hulle is geensins bereid om van hul toelae en byvoordele prys te gee soos wat Eskom voorstel nie.

Onder die eise van vakbonde wat Eskom verwerp, is:

  • Die behuisingstoelae moet meer as verdubbel word tot R7 000 (van R3 425);
  • Die bystandstoelae van R97 per dag moet tot R500 verhoog word; en
  • Eskom se bydrae tot werknemers se mediesefondspremies moet van 60% tot 80% verhoog word.

Eskom sê die verhogings en ander eise is onbekostigbaar vir die staatsonderneming.

Eskom het meer as R480 miljard skuld.

Die NUM en Numsa het amptelik die “aanbod” van Eskom wat skriftelik aan alle vakbonde gestuur is, Woensdag verwerp.

Hulle sê hulle sal nie verder onderhandel totdat Eskom met ’n “regte aanbod” vorendag kom nie.

Solidariteit het Woensdagmiddag voorleggings gedoen oor hoe baie kospryse gestyg het om te probeer motiveer vir hul lede se 9,5%-verhoging.

Mammburu sê Solidariteit kan “bekostig” om minder van ’n verhoging aan te vra aangesien hul lede hoofsaaklik bestuurders is wat reeds “baie geld maak”.

“Ons verteenwoordig die gewone werkers by Eskom – hulle kort ’n verhoging om te oorleef.”

Die NUM en Numsa het gevra vir ’n vergadering met André de Ruyter, uitvoerende hoof, maar hy het blykbaar nie opgedaag nie.

Mammburu sê hulle sal nou Donderdag met die voorsitter, prof. Malegapuru Makgoba, vergader.

Een van die eise wat die NUM gaan maak, is dat die huidige onderhandelaars van Eskom afgedank word.

“Hulle is onbevoeg!” sê Mammburu.

“Hulle verstaan nie eens die basiese diensvoorwaardes van die werkers nie. Hoe moet ’n mens onderhandel met iemand wat nie die arbeidswette ken nie?”

Daarna sal die NUM oorweeg om ’n dispuut by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) te verklaar.

Dit sal die baan weg vir hulle om ’n staking te kan aankondig.

Vorige jare se loononderhandelinge by Eskom is gekenmerk deur geweld en intimidasie van mense wat wel wou gaan werk.

Meer oor:  Solidariteit  |  Num  |  Eskom  |  Numsa  |  Loononderhandelinge  |  Elektrisiteit  |  Staatsondernemings  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.