Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
De Ruyter sou dalk Sasol-baas geword het

André de Ruyter, aangewese nuwe uitvoerende hoof van Eskom, was in ’n stadium die blouoogseun wat grootgemaak is om die nuwe hoof van die petrochemiese reus Sasol te word.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van die verpakkingsgroep Nampak, is pas aangestel as Eskom se nuwe hoof.

In 2010, toe Pat Davies aanvanklik as uitvoerende hoof van Sasol moes aftree, maar vir nog ’n jaar aangebly het om kontinuïteit te verseker, is De Ruyter aangestel om verantwoordelikheid te aanvaar vir al Sasol se bedrywighede, behalwe Sasol Mining.

In daardie stadium is De Ruyter ook die geleentheid gegee om onderhoude aan joernaliste toe te staan wanneer die groep se finansiële resultate bekend gemaak is.

Hy was dus toe reeds gereed om beheer te neem van ’n ingewikkelde en internasionaal gediversifiseerde petrochemiese maatskappy.

De Ruyter is egter mettertyd oor die hoof gesien by Sasol nadat die Kanadees David Constable as hoof aangestel is. De Ruyter het hom daarna in 2014 by die verpakkingsgroep Nampak as uitvoerende hoof aangesluit.

Kritici wys op De Ruyter se prestasierekord by Nampak deur bloot na die maatskappy se aandeelprys te kyk, wat van meer as R44 teen laat 2014 tot die huidige minder as R8 geval het in die tydperk onder sy leiding.

Hy het egter by Nampak oorgeneem in ’n baie moeilike omgewing vir verpakkingsondernemings. Nampak het in daardie stadium na Angola en Nigerië probeer uitbrei, maar sedert 2016 het die maatskappy erg gesukkel om sy dollarwinste uit dié twee lande te kry nadat die olieprys skerp geval en hulle aan hul kontant vasgeklou het deur valutabeheer in te stel.

Sowel Angola as Nigerië is twee van Afrika se grootste olieprodusente met hul ekonomieë nou verweef aan die olieprys. Talle ander Suid-Afrikaanse maatskappye wat daar sake doen het ook sedertdien gesukkel om hul winste uit die lande te repatrieer.

Vir Nampak het dit saamgeval met strawwe mededinging van groepe soos Mondi en Sappi wat ook die verpakkingsbedryf wil betree weens laer papiergebruik in die uitgewersbedryf, wat hul tradisionele mark was.

Boonop is verpakkingsmaatskappye uitgelewer aan die gesondheid van algemene verbruikersbesteding wat onder druk is weens die pap Suid-Afrikaanse ekonomie die afgelope paar jaar.

De Ruyter kon wel daarin slaag om in die vorige boekjaar Nampak se wins met 29% tot R1,2 miljard te laat styg, en onlangs is ’n koper gevind vir Nampak Glass, waarvan hy ontslae wou raak.

Onder De Ruyter se leiding het Nampak in 2016 van sy eiendomme verkoop om die skuld op sy balansstaat te verminder.

LEES OOK: Klagtes, onsekerheid ná De Ruyter se aanstelling

Andre de Ruyter, the CEO of Nampak, has been appoi
André de Ruyter, Eskom se aangewese uitvoerende hoof.

Ingenieurskundigheid of nie?

Andy Calitz, ’n ingenieur wat sy loopbaan by Eskom begin het maar later senior poste by internasionale maatskappye soos Shell en LNG Canada beklee het, was volgens talle mediaberigte vooraf die gunsteling om die Eskom-toppos te kry.

De Ruyter is daarenteen nie ’n ingenieur nie, maar het ’n regsagtergrond en ’n MBA-kwalifikasie.

Eskom het in sy amptelik gepubliseerde advertensie vir die pos nie ervaring en kundigheid in ingenieurswese as ’n noodsaaklike vereiste gestel nie, maar wel dat ervaring en kundigheid in ingenieurswese, konstruksie en energie tot die kandidaat se voordeel sal wees.

LEES OOK: Dit vereis Eskom van sy nuwe hoof

Eskom het nog nie op navrae reageer oor presies op grond waarvan daar op De Ruyter pleks van Calitz besluit is nie, en of ’n ingenieursagtergrond ’n noodsaaklike vereiste was nie.

Calitz het per e-pos op vrae bloot geantwoord dat hy nie kommentaar wil lewer oor die proses noudat ’n aanstelling gedoen is nie.

Eskom het wel beklemtoon die nuwe hoof moet minstens 20 jaar se ervaring hê, verkieslik oor ’n nagraadse sakekwalifikasie beskik, en moes al ’n groot rol gespeel het om ’n onderneming van minstens 20 000 werknemers en ’n jaarlikse omset van meer as R30 miljard om te keer. Die hoof moet ook sterk kommersiële insig hê en ervaring hê in korporatiewe herstrukturerings en balansstaat-optimalisering.

Nampak het minder as 6 000 werknemers en ’n omset van R17,3 miljard.

Sasol, waar De Ruyter vir sowat 20 jaar gewerk het, het wel in die afgelope boekjaar ’n omset van R203 miljard gehad en het meer as 31 000 werknemers.

Meer oor:  Sasol  |  Nampak  |  Eskom  |  André De Ruyter  |  Kragreus  |  Uitvoerende Hoof  |  Staatsinstellings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.