Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom se nuwe probleem: Te veel krag, te min drade

Die geïntegreerde hulpbronplan (IRP2019) maak vir soveel dringende nuwe, veral groen krag, voorsiening dat Eskom Transmissie nie seker is hoe alles betyds aan die kragnetwerk gekoppel gaan word nie.

DIEPSLOOT, SOUTH AFRICA - SEPTEMBER 29: Eskom work
Eskom-werkers verwyder onwettige kragverbindings in Diepsloot naby Johannesburg. Foto: Alet Pretorius/Gallo Images via Getty Images

Die kragnetwerk se vermoë om toekomstige hernubare krag deur onafhanklike kragprodusente te versprei, is erg beperk, sê Jacob Machinjike, hoofbestuurder van transmissie-netwerkbeplanning.

Eskom het Dinsdag sy jaarlikse beraad oor die transmissie-ontwikkelingsplan vir die volgende tien jaar gehou, soos deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) vereis word.

Eskom Transmissie, wat eersdaags heeltemal ontknoop sal wees van Eskom as ’n afsonderlike, maar steeds staatsbeheerde filiaal, is die afdeling van Eskom wat die beste vaar.

Volgens Ronald Marais, senior bestuurder van strategiese kragnetwerkbeplanning, is die probleem nie dat Eskom nie beplan het vir die uitbreiding van die kragnetwerk nie – hy doen dit deurlopend tien jaar vooruit.

Die IRP het egter ’n jaar gelede ’n massiewe versnelde kragplan behels wat nou skielik geakkommodeer moet word.

Eskom het verlede jaar nog beplanning gedoen ingevolge die konsep-IRP (IRP2018), wat klaar beplanning bemoeilik het, maar met die finale weergawe is daar nou 9 800 megawatt (MW) se nuwe kragprojekte wat verhaas is na tussen 2020 en 2025.

Altesame beteken dit 11 000 MW se nuwe opwekkingsvermoë gaan oor die volgende vyf jaar gebou word.

“Dit gaan beduidende druk op ons bouprogram plaas,” sê Leslie Naidoo, senior bestuurder van Eskom, oor die nodige transmissielyne vir al die nuwe kragopwekking.

Die meeste van die nuwe of versnelde projekte is hernubare krag, wat baie vinniger gebou kan word as wat Eskom Transmissie sy infrastruktuur kan uitbrei.

Dit neem agt jaar om onder meer die eiendomsregte te bekom oor die enorme afstande waaroor kragdrade na nuwe opwekkingseenhede opgerig moet word. Om die opwekkingseenhede vir hernubare krag te bou, duur slegs drie tot vyf jaar.

Marais sê die hele tien-jaar-transmissie-ontwikkelingsplan hang af van aannames oor waar en hoe opwekkingsvermoë sal uitbrei, wat so akkuraat moontlik moet wees. Hulle kan doodeenvoudig nie sonder jare se voorafkennis genoeg drade span om nuwe opwekkers aan die netwerk te verbind nie.

En hernubare krag het sy eie probleme. Dit word dikwels gebou in gebiede waar die land nie tradisioneel kragstasies gehad het nie.

Die oorhoofse meerderheid van die land se krag kom tans van die noorde en ooste en word suid vervoer, maar die nuwe groen krag word hoofsaaklik in die suide en die weste gebou, waar daar min bestaande transmissie-infrastruktuur is.

Groen krag is ook baie wyd verspreid teenoor megasteenkoolkragstasies wat enorme opwekkingsvermoë op een plek sentraliseer.

70% van die IRP2019 is hernubare krag, waarvan 70% windkrag is en 30% sonkrag.

Daar moet volgens die nuwe IRP voor 2025 2 300 MW se sonkrag gebou word en 6 200 MW se windkrag.

Dit is omdat die land dringend iets probeer doen aan die kragkrisis wat die ekonomie verlam, maar ook omdat Eskom talle verouderde steenkoolkragstasies oor die volgende tien jaar permanent moet afskakel.

9 100 MW se steenkoolkragstasies gaan oor die volgende tien jaar afgeskakel word, beginnende in 2021.

“Dit is tien fases van beurtkrag!” sê Marais.

9 100 MW se steenkoolkragstasies gaan oor die volgende tien jaar afgeskakel word, beginnende in 2021.

Groen krag kan ook nie in die fisieke plek van ou steenkoolkragstasies gebou word nie, sê Marais.

Die steenkoolkragstasies in Mpumalanga, byvoorbeeld, is swak geleë vir doeltreffende son- of windkrag.

Al sou die staatsonderneming bespaar deur bestaande transmissielyne te gebruik, is dit slegs 7% van die uiteindelike prys van krag, terwyl opwekking 93% van die prys daarstel.

Opwekking moet dus so doeltreffend moontlik wees, en dit beteken dat groen krag gebou moet word in die Oos-, Wes- en Noord-Kaap.

Naidoo sê Eskom sal iewers R118 miljard moet vind om die kragnetwerk uit te brei om al die nuwe kragprojekte aan die kragnetwerk te koppel.

R86,9 miljard daarvan is nodig vir nuwe transmissielyne, en die res hoofsaaklik om bestaande lyne op te knap sodat dit meer krag kan dra.

“Die volgende twee tot drie jaar gaan moeilik wees,” sê Naidoo.

Volgens Marais gaan dié dekade die grootste uitbreiding van die kragnetwerk nóg sien.

Nie eens in die 1980’s, die vorige rekorddekade toe die ou regering massas kragstasies en transmissielyne gebou het, sal naby kom aan wat gebou moet word in die volgende tien jaar nie.

Teen 2030 moet 31 649 MW se nuwe kapasiteit gebou word, wat grotendeels ou kapasiteit sal vervang, maar ’n netto bykomende bydrae van sowat 10 000 MW sal lewer.

Om dit aan die kragnetwerk te koppel, sal ten minste sowat 5 500 km se nuwe hoëspanning-transmissielyne vereis.

In die 1980’s, die gloriejare van Eskom, is slegs 18 758 MW se nuwe kapasiteit gebou.

Meer oor:  Eskom  |  Kragopwekking  |  Kragvoorsiening  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.