Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom se omkeerplan gelek: Dis wat dit bevat

Eskom het Donderdag die eerste weergawe van sy broodnodige omkeerplan aan sy bestuurders voorgelê en dit is later aan die pers gelek.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA  JANUARY 30:(SOUTH AFRI
Jabu Mabuza, voorsitter en waarnemende hoof van Eskom, het uiteindelik die kragreus se omkeerplan aan sy bestuurders voorgelê. Foto: Getty Images

Jabu Mabuza, voorsitter en waarnemende hoof van Eskom, het die plan aan 600 bestuurders voorgelê en ’n dringende beroep op hulle gedoen om hulle tot die uitvoering daarvan te verbind.

Die dokument, saamgestel deur die onafhanklike konsultasiefirma Boston Consulting Group, wys hoe Eskom oor die volgende vyf jaar sy herstrukturering sal benader en ook hoe hy die fondament sal lê vir drastiese modernisering.

Die omkeerplan is gegrond op vyf hooffokusareas: skuldverligting, bestuur van inkomste, die ontknoping in drie dele, kostebesparings en die bestendigheid van Eskom se bedrywighede.

Skuldverligting

In sy voorlegging het Mabuza gesê dat Eskom vanjaar reeds verskeie kere baie na aan totale ineenstorting was.

Die kragreus se skuld van naastenby R450 miljard is nou sowat 17% van die land se totale staatskuld.

Die regering het reeds R130 miljard vir skuldverligting aan Eskom beloof vir die volgende drie jaar en groot somme hiervan is reeds ontvang.

Mabuza sê die plan is nou dat die nuut aangestelde herstruktureringshoof, Freeman Nomvalo, wat ook uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) is, tot middel 2021 sal werk om Eskom se oorblywende skuld te herstruktureer.

Vroeër in Augustus het Eskom aan effektebeleggers in Londen gesê hy wil die meeste van sy skuld aan die staat oordra.

Eskom-amptenare het op ’n besoek aan Londen met beleggers in sy effekte gepraat oor sy jongste resultate wat ’n verlies van R20,7 miljard in die boekjaar tot einde Maart getoon het.

Gegrond daarop kan Eskom net R150 miljard van sy skuld hanteer, aangesien die entiteit beraam dat net skuld van vyf keer sy verdienste voor rente, belasting, depresiasie en afskrywing lewensvatbaar is.

Inkomste

Eskom se inkomste is al ’n geruime tyd nie genoeg om eens sy rente op sy skuld te betaal nie.

Die kragreus beoog dus om sy kragtariewe te verhoog met meer as die inflasiekoers, maar sê dié verantwoordelikheid sal meestal op die regering berus. Die nasionale energiereguleerder het reeds vroeër vanjaar Eskom se aansoek vir beduidende hoër kragtariewe van die hand gewys en net ’n klein verhoging toegelaat.

Eskom sê sy tariewe moet doodeenvoudig in ooreenstemming met sy koste vir diensverskaffing styg.

Waar Eskom in sy voorlegging aandui hy self ’n groot rol kan speel, is om saam met die regering te werk om teen die middel van 2021 te verseker dat onder meer munisipaliteite wat hom miljarde skuld hom uiteindelik en ten volle betaal.

Ontknoping

Die ontknoping sal voortgaan. Eskom beoog om die regsproses – van die onderneming in drie dele te verdeel – binne vier jaar te voltooi. Die totale ontknoping sal wel tot vyf jaar kan duur.

Die opwekkings- en distribusieafdelings sal onafhanklike filiale van Eskom word, maar die transmissie-afdeling sal sy eie entiteit word as ’n geheel en al nuwe staatsonderneming.

Dié staatsonderneming sal direk aan die departement van openbare ondernemings rapporteer.

Die proses sal voor die einde van die jaar aan die gang gesit word.

Kostebesparing

Eskom wil jaarliks R33 miljard bespaar deur koste te beperk. Die voorlegging wys wel dat dié ambisieuse teiken nie dadelik bereik sal word nie.

In 2019 wil hy begin met ’n kostebesparing van R5 miljard. Daarna sal die besparings toeneem: R11 miljard in 2020, R14 miljard in 2021, R24 miljard in 2022, en R33 miljard in 2023.

Kumulatief is sy kostebesparingsteiken dan R77 miljard teen 2023.

Vir 2020 sal die hoofbron van die besparing kom deur beter bestuur van uitgawes op steenkool. Nog ’n groot bron van besparing sal kom uit ’n nuwe benadering tot die onderhandelinge vir kontrakte.

Daar is nie eksplisiet gepraat oor afleggings nie, al is dit al vantevore uitgewys dat Eskom meer as ’n derde te veel werknemers het. Mabuza het wel Vrydag met vakbonde gepraat en dit duidelik gestel dat hulle ’n regstreekse rol sal moet speel om nie Eskom se omkeerplan te kniehalter nie.

“As daar een ding is wat ek wil bereik teen die tyd wat ek die pos binne die volgende tien weke verlaat, is dit om ’n omgewing te skep waar Eskom en vakbonde eerliker en meer robuuste besprekings oor die toekoms van Eskom kan voer,” het hy op die vergadering met vakbonde gesê.

Stabiliteit

Eskom sal voor die einde van die jaar sy negepuntplan publiseer oor hoe hy sy bedrywighede gaan stabiliseer.

Dié plan sal dan dadelik in werking gestel word en duur tot middel 2022.

Eskom beoog om met dié plan die beskikbare opwekkingskapasiteit van sy kragstasies tot 78% van die nasionale kragnetwerk op te stoot. Dit staan tans nader aan 60%, wat die stelsel baie kwesbaar maak vir beurtkrag.

Mabuza het ook sterk beklemtoon dat bestuurders aan nuwe standaarde gemeet sal word. Vir die plan om te werk, sê hy, is dit van die uiterste belang dat die bestuur van Eskom drasties verbeter moet word, en dat dit deursigtig en aanspreeklik word.

Modernisering

Eskom wys ook op hoe die onderneming in die toekoms gaan aanpas te midde van sy herstrukturering sodat hy sy eie toekoms, en dié van die land se ekonomiese groei, kan verseker.

Daar word verwys na mikro-kragnetwerke, sodat opwekking uiteindelik moontlik na streeksvlak kan verskuif en dat hernubare krag en battery-tegnologie ingespan kan word om die nasionale kragnetwerk te help verander in ’n sogenaamde slimnetwerk.

So ’n kragnetwerk word toenemend beskou as noodsaaklik vir die ingewikkelde, moderne kragverbruik, waar die vraag en aanbod van elektrisiteit dinamies geword het en waar ’n ouer stelsel, waar opwekking en transmissie gesentraliseer moes wees, nie tred gehou het met dié soort verbruik nie.

Mabuza het aangedui dat die finale weergawe van die omkeerplan binne “weke” gereed sal wees ná insette van nog belanghebbendes ontvang is.

Meer oor:  Eskom  |  Jabu Mabuza  |  Kragkrisis  |  Staatskuld  |  Staatsondernemings  |  Regrukhoof  |  Omkeerplan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.