Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom se onbeplande 'foute' vir eers onder beheer

Eskom het vir die eerste keer sedert November 2019 onbeplande foute by sy steenkoolkragstasies weer binne sy veiligheidsmarge gekry.

Die Tutuka-kragstasie in Mpumalanga. Foto: Eskom

Die nutsmaatskappy se jongste syfers wys dat die verlies aan opwekkingsvermoë van steenkoolkragstasies wat weens onbeplande foute onklaar geraak het, nou onder die belangrike 9 500 megawatt (MW)-drempel is.

Donderdag om 06:00 was daar net ’n verlies van 9 462 MW.

Eskom ag 9 500 MW se verlies as ’n belangrike vlak, waarbo die kans op beurtkrag aansienlik toeneem omdat dié verlies, gepaard met die verlies weens beplande instandhouding (tans sowat 5 000 MW), beteken dat hy waarskynlik nie genoeg krag kan bied om die ligte aan te hou nie.

Die gemiddelde verlies weens onbeplande foute was sedert 18 Desember meer as 12 500 MW.

Sikonathi Mantshantsha, Eskom-woordvoerder, het Donderdag aan Netwerk24 gesê die afgelope twee weke se beurtkrag het die kragverskaffer in staat gestel om meer instandhoudingswerk te doen by problematiese kragstasies, en dit beperk onbeplande herstelwerk.

“Beurtkrag het hierdie mylpaal help fasiliteer,” sê Mantshantsha. “Al ons werk dra nou eindelik vrugte.”

André de Ruyter, uitvoerende hoof, het op 31 Januarie aangekondig dat Eskom ’n nuwe benadering tot beurtkrag inneem. Die maatskappy sal voortaan nie meer sy eie stert jaag om die ligte aan te hou ten koste van instandhoudingswerk by sukkelende kragstasies nie.

Beurtkrag sal dus gereelder toegepas word sodat Eskom se verouderde kragstasies beter opgepas kan word, wat op lang termyn stabiliteit tot die kragnetwerk sal bied.

De Ruyter het gewaarsku dat beurtkrag dus minstens 18 maande nog deel van Suid-Afrikaners se lewe sal wees.

Mantshantsha sê die konstante beurtkrag die laaste twee weke is klaar ’n bewys van die voordele wat gereelde instandhoudingswerk inhou.

Hy verduidelik deur beurtkrag toe te pas, Eskom meer steenkoolkragstasies van lyn af kon sit om hulle te versien en hul betroubaarheid te verbeter.

“Ons kon die afgelope twee weke op die problematiese kragstasies fokus, en dit het baie gehelp.”

Meer oor:  Eskom  |  Kragkrisis  |  Steenkoolkragstasies  |  Instandhouding  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.