Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom se oues kry spesiale bonus
Die raad van trustees van die Eskom-pensioen- en -voorsorgfonds het ’n spesiale bonus van R104,3 miljoen aan pensioentrekkers betaal. Foto: Getty Images

Die raad van trustees van die Eskom-pensioen- en -voorsorgfonds het ’n spesiale bonus van R104,3 miljoen aan pensioentrekkers betaal om die finansiële nood te verlig wat deur die koronaviruspandemie en die ekonomiese impak van die inperking veroorsaak is.

Linda Mateza, hoofbeampte van die fonds, sê die besluit is ná baie beraadslaging geneem en ná advies van die fonds se aktuaris.

Die ekstra geld is reeds begin Augustus saam met pensioene aan Eskom se sowat 33 000 pensioentrekkers betaal.

Dit beloop tussen R3 500 en R5 425 per huishouding afhangende van die totale huishoudelike inkomste.

Huishoudings met ’n laer inkomste ontvang ’n hoër bedrag.

In ’n onderhoud met Netwerk24 sê sy daar was nie ’n spesifieke versoek van pensioentrekkers vir die verligting nie.

’n Baie klein jaarlikse verhoging van 2% is vanjaar aan pensioentrekkers gegee.

“Ons was baie bewus daarvan dat pensioene nie vanjaar werklik bygehou het met die stygende lewenskoste nie.”

Die raad besef ook dat die krisis tot ’n daling in die besteebare inkomste van baie pensioentrekkers se huishoudings kon lei omdat ander gesinslede moontlik hul werk verloor het.

Die fonds het meer as R140 miljard se bates onder bestuur.

Mateza sê hoewel die R104 miljoen wesenlik lyk, sê die aktuaris dit sal nie op lang termyn nadelig vir die fonds se balansstaat wees nie.

“Die rede hoekom ons op die bonus besluit het eerder as ’n verhoging, is dat die bonus eenmalig is. Dit kos die fonds R104 miljoen en dit is dit.”

’n Verhoging sou ewigdurend hoër uitgawes vir die fonds meegebring het.

Die rede hoekom ons op die bonus besluit het eerder as ’n verhoging, is dat die bonus eenmalig is. Dit kos die fonds R104 miljoen en dit is dit.
Linda Mateza

Die pensioenfonds besluit jaarliks of ’n bonus uitbetaal sal word en wat die jaarlikse verhoging in pensioene is.

Vanjaar se verhoging beloop net 2% omdat beleggingsopbrengste verlede jaar baie laag was en die raad van trustees die finansieringsvlak van die fonds bo 100% probeer hou.

Volgens Mateza is pensioentrekkers daarvoor vergoed deur ’n hoër bonus as normaalweg te gee.

Die jongste aktuariële waardasie oor die finansieringsvlak vir die boekjaar tot einde Junie word nog gedoen. Sy meen dit is sowat 110% of hoër vir die hele fonds, insluitende pensioentrekkers en aktiewe lede.

Vrydag is berig oor die moontlikheid dat die pensioenfonds gebruik kan word as deel van ’n plan om Eskom se groot skuld te verminder.

LEES OOK: Staat maak geen beloftes oor pensioene vir Eskom

Sy ontken dat die bonusbetaling ’n manier is om mense meer ontvanklik te maak vir die moontlikheid dat die pensioenfonds se bates gebruik sal word om Eskom uit sy skuldverknorsing te red.

Volgens haar was ’n bespreking oor die verlaging van Eskom se skuld nooit ’n amptelike gesprek tussen die onderneming en die pensioenfonds nie.

“Ons het daarvan gehoor in die media weens die verklarings van verskillende vakbonde en belangegroepe. Dit was nooit iets wat ons moes oorweeg nie.”

Sy sê voordat Eskom ’n beleggingsaak aan die fonds voorlê wat teen die fonds se beleggingskriteria gemeet kan word, sal dit nie oorweeg word nie.

Die raad het dit wel bespreek wat hulle te doen staan indien die fonds wel genader word. “En wat ons besluit het, is as ons genader word, sal ons dit oorweeg op grond van die beleggingsmeriete.

“Ons kan nie geld gee aan enigiets wat nie ’n lewensvatbare belegging is nie. As ons dit oorweeg om in Eskom te belê, moet daar ’n duidelike finansiële opbrengs vir die fonds wees. Dit sal nie finansiering wees wat beskikbaar gemaak word aan Eskom nie.”

Sy sê “hipoteties” as die regering die onderskrywer is van ’n skuldbrief wat Eskom wil uitreik en die fonds gevra word om daarin te belê, sal dit oorweeg word as dit aan die fonds se beleggingskriteria voldoen. “Maar so ’n voorstel is nog nie ter tafel gelê nie.”

Die Eskom-pensioen- en -voorsorgfonds se bates word op twee maniere bestuur.

Sowat 30% van die bates word intern deur ’n span van sowat 22 beleggingsmense bestuur.

Die res word uitgekontrakteer aan beleggingsbestuurders soos Old Mutual, Investec en Coronation.

Die staat se batebestuurder, die Openbare Beleggingskorporasie, bestuur geen van die pensioenfonds se geld nie, sê Mateza.

Meer oor:  Eskom  |  Geldsake  |  Pensioen  |  Aftrede  |  Pensioenfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.