Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom se syfers aan LP’s ‘is misleidend’

Eskom het “verouderde” en “misleidende” kosteberamings vir Medupi en Kusile aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) oorhandig.

Die Medupi-steenkoolkragstasie tydens ’n vroeër fase van konstruksie. Foto: Wikipedia

Chris Yelland, energiekenner en uitgewer van EE Publishers, het dié fout opgespoor nadat Skoor Donderdag ’n voorlegging aan die media gedoen het oor sy oorsigbesoeke aan Eskom se twee beleërde steenkoolkragstasie-megaprojekte.

Volgens Yelland is die kosteberamings om die twee kragstasies ten volle te voltooi wat die kragreus blykbaar vol vertroue aan Skoor oorhandig het, eintlik R153 miljard te min.

“Let daarop, ek het die syfers skriftelik van Eskom self ontvang en dis op ’n persoonlike vergadering twee weke gelede aan my bevestig deur sowel die finansiële hoof as die bedryfshoof,” twiet Yelland.

Skoor het Donderdag in sy voorlegging by Megawatt Park, Eskom se hoofkantoor, aangekondig dat hy die nutsmaatskappy nou gaan “aanneem”, aangesien hy geen verdere koste-oorskrydings by Medupi en Kusile sal aanvaar nie.

Mkhuleko Hlengwa, IVP-lid en voorsitter van Skoor, het dit op die mediakonferensie baie duidelik gemaak dat die parlement beoog om Eskom se finansies nou fyn dop te hou.

LEES OOK: LP’s wil Eskom ‘aanneem’ tot krisis oor is

Hy het gesê dis duidelik dat die twee megaprojekte van die begin af ’n “afgejaagde affêre” was.

“Dié projekte is basies opgestel om te misluk.

“Volgens ons is niks hiervan aanvaarbaar nie,” het Hlengwa gesê. “Die fiskus sal nié verder hierdeur leeggetap word nie.”

Hlengwa het gesê hy is tevrede met hoe die bestuur van Eskom tot dusver met Skoor saamgewerk het, en het veral op hul “eerlikheid” en “openhartigheid” gewys.

Dié projekte is basies opgestel om te misluk. Volgens ons is niks hiervan aanvaarbaar nie.
Mkhuleko Hlengwa

Maar die syfers wat Hlengwa voorlopig vanaf Eskom ontvang het en toe as verwysing benut het op die konferensie, was foutief.

Hlengwa het voorgelees dat die totale koste vir Medupi uiteindelik R146 miljard sou beloop, vanaf ’n aanvanklike kosteberaming van R79 miljard.

Sy syfers vir Kusile was R161 miljard, vanaf ’n oorspronklike R81 miljard.

Yelland wys daarop dat dié syfers eintlik kom uit Eskom se 2016-beramings – dus drie jaar gelede.

Dit sluit ook glad nie drie kernuitgawes in nie:

  • Noodsaaklike toerusting om dodelike swael vanuit Medupi se sweef-as te verwyder (R38 miljard);
  • Gekapitaliseerde rente tydens konstruksie (R50 miljard en R65 miljard vir Medupi en Kusile, onderskeidelik); en
  • Koste van werk wat oorgedoen moet word en ander ongemagtigde besteding.

Kusile het reeds die toerusting om swaelgas uit sy sweef-as verwyder, maar dié noodsaaklike toerusting moet nog by Medupi bygevoeg word.

Altesame moet R88 miljard dus by Medupi se beraamde totale koste bygevoeg word, en R65 miljard by Kusile s’n.

Die uiteindelike rekening vir altwee kragstasies saam is dus R460 miljard, en nie die R307 miljard wat aan Skoor voorgegee is nie.

“Skoor sal rêrig sy oorsigrol moet vervul en die syfers wat deur Eskom verskaf word, moet bevraagteken,” sê Yelland.

Hlengwa het wel Donderdag aangedui dat hy nog tot Maandag om 12:00 wag op bykomende dokumente vanaf Eskom en al die ander belanghebbendes betrokke by Medupi en Kusile.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.