Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom sê weer: Oberholzer het niks verkeerd gedoen
Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom. Foto: Elvira Wood

Eskom het die derde keer bevind dat daar geen waarheid in die klagtes teen Jan Oberholzer, sy bedryfshoof, steek nie.

Mark Chettiar, ’n senior beampte van Eskom, beskuldig hom van verskeie ongerymdhede – onder meer dat hy ’n kontrak onderhandel het met ’n konstruksiemaatskappy waarin hy aandele besit, dat hy iemand gevra het om werk te kry vir sy swaer sonder om te verklaar dat hy ’n familielid is en dat hy Chettiar geviktimiseer het.

Luidens ’n verslag wat André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, op 7 September onderteken het, is in ’n interne ondersoek bevind dat Oberholzer hom nie aan enige van die bewerings skuldig gemaak het nie. Netwerk24 het dié verslag onder oë gehad.

Adv. Eric Mkhawane en adv. Naseer Cassim het voorheen ook twee onafhanklike ondersoeke na die bewerings gedoen.

In die verslag van 22 bladsye word al die bewerings asook die onderskeie bevindings in besonderhede bespreek.

Stefanutti Stocks

Oberholzer is daarvan beskuldig dat hy nie verklaar het dat hy aandele in Stefanutti Stocks besit nie.

In die ondersoek is bevind dat Oberholzer van meet af aan sy belang verklaar het. Hy het nie die aandele self gekoop nie, maar het dit as deel van sy vergoedingspakket ontvang toe hy vir Stefanutti gewerk het.

Oberholzer het 35 834 (0,019%) van Stefanutti se 188 080 764 aandele gehou. Toe hy in 2018 by Eskom aangestel is, was dié aandele R103 918,60 werd.

Ondanks sy belang in Stefanutti het hy Eskom ingelig dat hy vermoed dat daar ongerymdhede in sekere kontrakte met die konstruksiemaatskappy is.

Luidens die verslag het Oberholzer, ondanks die wete dat ’n ondersoek na die beweerde ongerymdhede Stefanutti se aandeelprys negatief kon beïnvloed, nie die aandele verkoop nie. Hy het dit eers in Maart 2020 verkoop nadat die ondersoek afgehandel is.

Toe was dit R5 689,43 werd. Nadat hy al die geld betaal het wat met die transaksie verband hou, was R2 894,60 oor. Hy het dié volle bedrag op 3 April 2020 aan die Lewende Woord-kerk geskenk.

Eskom ondersteun wel die aanbeveling deur Cassim, ’n voormalige regter in die hooggeregshof, dat “die uitvoerende hoof of ’n benoemde direkteur met Oberholzer praat” oor sy betrokkenheid toe ’n kontrak met Stefanutti verander is.

Die kontrak is uitgebrei, wat sy waarde met R268,3 miljoen laat toeneem het.

Oberholzer was egter een van drie persone wat die kontrak onderteken het. Toe hy gevra is om die vergaderings daaroor by te woon het hy voorgestel dat hy dit eerder nie doen nie. Jabu Mabuza, voormalige voorsitter en waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, het die vergaderings belê.

Black and Veatch

Black and Veatch is in 2005 deur Eskom gekontrakteer om die bouwerk van die Kusile-kragstasie te bestuur, en sou R100 miljoen daarvoor kry. Teen Desember 2017 het Eskom al R14,9 miljard aan die firma betaal.

Volgens Cassim is geen onbehoorlike optrede van Oberholzer gevind ten opsigte van dié kontrak nie. Oberholzer was vroeër in sy loopbaan by Eskom die hoofbestuurder vir kapitaalprojekte en het die aanvanklike kontrak met Black and Veatch onderteken. Hy het in 2008 bedank en het in 2018 as bedryfshoof teruggekeer.

Hy was dus nie in diens van Eskom toe die waarde van die kontrak vergroot is nie.

Eskom sê in die jongste verslag hy het reeds met ’n ondersoek begin oor hoekom die kontrakwaarde so beduidend gestyg het.

Aveng

Ten opsigte van ’n betaling van R40 miljoen wat Oberholzer aan die konstruksiemaatskappy Aveng gemagtig het, is bevind dat Oberholzer regsadvies daaroor by die regsfirma ENS ingewin het en dat die korrekte prosesse gevolg is.

“Terugskouend was die optrede van die bedryfshoof om te skik (met Aveng) rasioneel en kommersieel ten einde ’n langdurige regsproses te vermy, wat nou juis weens die getuienis van die vermeende fluitjieblaser die gevolg is,” lui die verslag.

Die betaling aan Aveng is op aanbeveling van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping nooit gemaak nie. Dit was nadat Chettiar voor die kommissie hieroor getuig het.

Swaer se aanstelling

Eskom het bevind dat Oberholzer oop kaarte gespeel het toe sy swaer, Gregory Jacobs, vir ’n pos by die Ankerlig-dieselkragstasie in die Wes-Kaap aansoek gedoen het.

“Beskikbare dokumente bewys dat die toepaslike bestuurders – sonder die betrokkenheid van die bedryfshoof – ’n deursigtige proses gevolg het toe mnr. Jacobs van 1 September 2019 tot 31 Januarie 2022 na die Ankerlig-projek gesekondeer is,” lui die verslag.

Viktimisering

Wat Chettiar se beweerde viktimisering deur Oberholzer betref, is hy net skuldig bevind daaraan dat hy die “f-woord” gebruik het toe hy Chettiar vasgevat het omdat hy glo nie sy werk na behore gedoen het nie.

Oberholzer het dit erken en hy het Chettiar voor getuies verskoning gevra, en dié het sy verskoning aanvaar.

In die lig van die probleme wat Oberholzer met Chettiar se optrede as bestuurder van steenkool- en skoontegnologieprojekte gehad het, is Chettiar ’n pos in die afdeling vir mensehulpbronne aangebied.

Hoewel dit blyk dat Chettiar dié oorplasing aanvaar het – uit ’n e-pos-versoek van hom dat sy nuwe bestuurder hom moet inlig wat van hom verwag word, en waar sy kantoor is – het hy later ’n klag van viktimisasie teen Oberholzer by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ingedien.

Eskom sê Chettiar het sedert die laaste week in Januarie nog geen werk in sy nuwe pos gedoen nie, maar kry steeds sy salaris.

Van die probleme met Chettiar sluit in:

  • Twee senior bestuurders, sowel as vakbonde, het klagtes ingedien teen Chettiar oor “sy vermeende gebrek aan vaardighede in mensebestuur en meer spesifiek oor die aanstellings wat hy in stryd met Eskom se diensbillikheidsbeleid gemaak het”;
  • Hy het in ’n formele tugverhoor onder eed gejok;
  • Die meeste van die projekte waarvoor hy verantwoordelik was, was laat;
  • Hy was vir die asprojek by die Camden-kragstasie verantwoordelik, maar dit is in só ’n mate vertraag dat Camden tans nie in bedryf is nie. Dit kos Eskom R650 000 per uur om ’n dieselkragstasie in bedryf te hou om vir dié verlies op te maak. Eskom beweer een vlak van beurtkrag kon in Julie vermy gewees het as dié kragstasie in diens was. R50 miljoen is die afgelope drie maande bestee om in afwagting van die heringebruikneming van die kragstasie as van dié stasie na ’n veilige stortingsterrein te vervoer;
  • Weens swak projekbestuur ten opsigte van die opgradering van die spoorhanteringsgerief vir steenkool by Majuba, moet 1 200 vragmotors per dag steenkool by dié kragstasie aflewer. Dit kos Eskom sowat R300 000 per dag méér as wat dit sou kos om die steenkool per trein af te laai; en
  • Chettiar het glad nie werk daarvan gemaak om enige risiko te verlig toe die konstruksiegroep Group Five in sakeredding geplaas is nie. Group Five was die hoofkontrakteur van die Ankerlig-projek.

Eskom het ook bevind dat Oberholzer daarop geregtig was om aan te dring op ’n tugverhoor teen Chettiar in die lig daarvan dat hy en sy familie selfs doodsdreigemente ontvang het weens die bewerings wat Chettiar oor hom gemaak het.

Meer oor:  Aveng  |  Eskom  |  Jan Oberholzer  |  Korrupsie  |  Staatsinstellings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.