Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: Selfs die Chinese is angstig

Die Chinese is so versigtig vir Eskom se beloftes dat hy steeds ’n R7 miljard-oorbetaling terughou uit vrees dat die kragreus dalk nie die Medupi- en Kusile-kragstasie klaar gaan bou nie.

China se ontwikkelingsbank het verlede jaar R33 miljard aan Eskom geleen, maar die geld word in paaiemente oorbetaal en mag net vir Medupi en Kusile gebruik word.

Rapport het vroeër berig dat dié R7 miljard van die Chinese Ontwikkelingsbank (CDB) al in Maart oorbetaal moes wees en ’n massiewe geskarrel afgegee het om noodfinansiering vir Eskom te raap en skraap.

Absa het ter elfder ure ’n korttermynlening van R3 miljard gegee. Die CDB sou toe volgens die Suid-Afrikaanse regering die geld in April oorbetaal het, maar dit het ook nie gebeur nie.

Adrian Lackay, woordvoerder van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het aan Rapport bevestig dat hooggeplaastes na Beijing gevlieg het om met CDB-amptenare te vergader. Lackay sê die vergaderings het goed afgeloop en die oorbetaling sal binnekort gebeur.

Volgens hom is die lening nie in gevaar nie. Dit is ’n trekking op ’n lening van meer as R33 miljard wat byna ’n jaar gelede tussen Eskom en die CDB beklink is.

Die lening is nét vir konstruksiekoste van die voortslepende projekte en die Chinese was bekommerd dat die geld deur salarisse en diesel vir die turbines opgeslurp gaan word. Die vrese is aangewakker deur openbare uitsprake dat Eskom dit oorweeg om die konstruksie-projekte te skrap.

Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom, het intussen beklemtoon dat die projekte sal voortgaan nadat hulle ’n volledige bepaling gedoen het van die koste en voordele.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, het in ’n nota aan beleggers oor die finansiële noodhulp aan Eskom gesuggereer dat die Chinese se belang in Eskom wyer strek as net sy hulp om Medupi en Kusile te voltooi en dat hulle dalk aptyt het vir ’n ekwiteitsbelegging in die kragreus.

“Die Chinese posisie is interessant in ag genome die voorwaardes wat daar mag wees as deel van die groter bondel van Chinese lenings aan Eskom – wat moontlik ’n toekomstige belang (in Eskom) kan insluit as een potensiële voorbeeld. Eskom se status in ’n breër sin is daarom vir die Chinese belangrik,” sê Montalto.

Gordhan se departement van openbare ondernemings het die afgelope week vure doodgeslaan oor markgerugte dat die Chinese hul hande op van Eskom se bates wil lê. Die regering het reeds vroeër aangekondig dat Eskom in drie dele verdeel gaan word en dat die regering mede-aandeelhouers gaan soek vir die transmissie-onderneming.

Lackay sê die CDB se lening staan heeltemal los van dié bespiegeling. Die lening word deur die regering gewaarborg en word nie gerugsteun deur Eskom se bates nie.

Lackay verduidelik dat as Eskom in gebreke sou bly om sy verpligtinge kragtens die lening na te kom, die Chinese geen reg sou hê om beslag te lê op enige deel van Eskom nie. Die regering sal die skuld namens Eskom moet betaal.

Dit beteken egter nie dat enige belangstelling van China om in Eskom te belê wanneer die ontknoping realiseer, nie oorweeg sou word nie.

Die regering moet nog ’n “herorganiseringsbeampte” aanstel om die ontknoping te behartig en sal na verwagting in die tussentyd nóg meer geldelike bystand aan Eskom moet gee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.