Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom skarrel om IT-verskaffer te vervang

Eskom het vandeesweek ’n dringende tender uitgereik om noodsaaklike IT-dienste te bekom nadat Oracle sy dienste gestaak het as deel van ’n twis oor betaling.

Kraglyne in Melkbosstrand herlei elektrisiteit van die Koeberg-kernkragstasie na die kragnetwerk. Foto: Getty Images

Dit kan Suid-Afrika se kragnetwerk bedreig.

Oracle het verlede week amptelik sy dienste aan Eskom gestaak. Dis noodsaaklik om sagteware te bedryf wat alles van kragstasies tot beurtkrag en Eskom se betalingstelsel beheer.

Die kragverskaffer het Maandag die tender op sy webtuiste gepubliseer en dit Woensdag aangepas.

Volgens die tender moet ’n diensverskaffer so gou as moontlik lisensies vir Oracle-sagteware verskaf en noodsaaklike ondersteuningsdienste lewer om die sagteware te bedryf.

Die lys dienste wat gedek moet word, is drie bladsye lank, wat aandui hoe afhanklik Eskom van Oracle se sagteware is om die ligte aan te hou.

Die sluitingsdatum vir aansoeke is 5 Mei om 10:00.

Die suksesvolle diensverskaffer sal nie net lisensies vir al die gelyste sagtewarepakkette moet verskaf nie, maar ook noodsaaklike ondersteuningsdienste en instandhoudingswerk aan die stelsels moet kan verskaf.

Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, verduidelik dat Eskom nie toegang tot Oracle-sagteware verloor het as deel van die betalingstwis nie, maar net die lisensies en “tegniese ondersteuning” wat die bedryf van die sagteware en stelsels moontlik maak.

Eskom is dus besig om nuwe diensverskaffers te probeer vind wat dié leemte kan vul sodat hy kan aanhou om die Oracle-sagteware te gebruik.

Daar is nie ’n opsie om ander sagteware te gebruik nie.

Die nuwe diensverskaffer sal egter net vir ’n tydperk van tien maande die noodsaaklike dienste moet lewer ingevolge die nuwe tender.

Mantshantsha sê dit is omdat die huidige betwiste kontrak vir Oracle se sagteware op 31 Maart 2022 verstryk, en hy dus net tot dan ondersteuning nodig het.

Toe Netwerk24 vra of die nutsmaatskappy dus beoog om met Oracle te heronderhandel sodat hy weer ná die verstryking van die huidige kontraktydperk in 2022 die dienste hervat, het Mantshantsha bloot gesê dat Eskom “rêrig alles wat hy moontlik oor die saak aan die publiek kon gesê het, gesê het”.

Oracle beweer dat Eskom hom R380 miljoen skuld vir die oorbenutting van sy sagteware en dienste. Dié bedrag is verlaag van ’n aanvanklike R7,3 miljard.

Lisensies vir sagteware beperk byvoorbeeld hoeveel gebruikers toegang mag hê daartoe, maar dit bly onduidelik presies hoe Eskom glo die sagteware oorbenut het.

Die twis het inderwaarheid reeds in 2019 ontstaan toe Oracle twee jaar ná die sluiting van ’n meestersooreenkoms van vyf jaar ’n oudit van Eskom se gebruik van sy dienste gedoen het.

Dié oudit het bevind dat die sagteware reeds in 2019 oorbenut is.

Eskom het twee weke gelede misluk in sy poging om ’n interdik te bekom om Oracle te verhoed om sy dienste op te skort.

Die hof het die saak van die hand gewys. Eskom sê egter dat hy om verlof tot appèl aansoek gedoen het.

Oracle wil egter nie hê die howe moet beslis oor die beweerde kontrakbreuk nie.

Eskom het intussen versagtende stelsels in werking gestel om die afwesigheid van Oracle-ondersteuning te hanteer.

Tot dusver bly die ligte nog aan, maar Eskom self het in ’n beëdigde verklaring gewaarsku dat hy nie kan verseker dat die kragnetwerk stabiel sal bly sonder Oracle se sagteware nie.

Meer oor:  Eskom  |  Oracle  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.