Solly Tshitangano, verkrygingshoof van Eskom, is as voorsorgmaatreël geskors terwyl ’n tugproses begin is oor sy versuim om besparingsteikens te haal wat André de Ruyter, uitvoerende hoof, vir hom gestel het.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. Foto: News24
Eskom het Vrydag aan Netwerk24 bevestig dat Tshitangano geskors is en sy tugverhoor eersdaags sal begin.
De Ruyter was nie beskikbaar vir kommentaar nie, maar het vroeër gepraat met News24, wat berig het onder Tshitangano se leierskap is “uiters
beskeie” besparingsteikens van slegs 4% op R140 miljard se verkryging van
goedere en dienste nie gehaal nie.
Onder Tshitangano se leierskap het die nutsmaatskappy
byvoorbeeld bykans R238 000 vir ’n enkele houtbesem betaal, maar De Ruyter het
ingetree om dié proses te stop.
Volgens De Ruyter sukkel die verkrygingsdepartement om ’n
omkeerplan op die been te kry.
Tot onlangs het Eskom nog R28 per rol vir
enkellaagtoiletpapier betaal en R56 per bottel melk.
Tshitangano het verlede maand ’n brief aan pres. Cyril
Ramaphosa, Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en Malegapuru
Makgoba, voorsitter van Eskom, gestuur waarin hy teen De Ruyter uitvaar.
Volgens Tshitangano sukkel hy al ’n jaar lank met De Ruyter
en beweer die uitvoerende hoof en Nerina Otto, die regshoof, ondermyn sy
gesag.
Hy sê ook senior wit amptenare van Eskom “gebruik die kleur
van hul vel om hom te ondermyn”.
De Ruyter sê egter Tshitangano doen bloot nie sy werk nie.
“Ons het R80 000 betaal vir ’n enkele gekussingde knieskerm.
Die goed word vir R80 elk by Builder’s Warehouse verkoop. Dít is die misbruike
wat steeds in die stelsel aangaan.
“Hierdie is net die gevalle waarvan ons weet,
en ek kan net aanneem dat daar nog baie meer is. As jy ’n funksionele
verantwoordbare leier is, dan klim jy in jou kar en sorteer dié probleme uit,”
het De Ruyter aan News24 gesê.
Tshitangano is geskors nadat hy versuim het om onder meer
subkomitee-direksievergaderings, asook verskeie vergaderings met De Ruyter
self, die bestuur van mensehulpbronne en die finansiële hoof van Eskom by te
woon.
De Ruyter ontken Tshitangano se bewerings van rassisme en sê
sedert hy by Eskom begin het, het hy al nege swart bestuurslui aangestel.
“Daar is geen buddy club nie. Ons het ’n werk om te doen.
Eskom hou ’n groot fiskale, energie- en ekonomiese risiko vir Suid-Afrika in.”