Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom sny byna treine se krag
Pendelaars in ’n MetroPlus-treinwa van Metrorail, filiaal van Prasa. Die oop ruimte in die middel van die foto is waar nog ‘n ry sitplekke veronderstel was om te wees, maar vandale het dit verwyder.Foto: Francois Williams

Die Passasierspooragentskap (Prasa), en die departement van openbare ondernemings was Donderdagmiddag nog stil oor die nuus dat Eskom Woensdag byna die kragtoevoer na verskeie spoorlyne van Prasa afgesny het weens wanbetaling.

Dit sou ontwrigting vir duisende werkers en gevolglik die ekonomie veroorsaak het.

Die plan was om teen 13:00 Woensdag die krag na Metrorail se Strand-spoorlyn in die Wes-Kaap af te sny, en daar was glo ook planne om krag na Metrorail-spoorlyne in Gauteng en KwaZulu-Natal te sny.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het in ’n verklaring Donderdag gesê hy moes Woensdag ingryp toe hy verneem Eskom het ná ’n grasietydperk van sewe dae besluit om die elektrisiteitstoevoer af te sny na verskeie Prasa-spoorlyne, wat die Metrorail-treindienste vir voorstedelike pendelaars insluit.

Navrae Prasa oor presies hoeveel geld Prasa aan Eskom skuld is nie beantwoord nie, maar betroubare inligting is dat Prasa in die Wes-Kaap met meer as R88 miljoen se onbetaalde kragrekeninge sit en landwyd sowat R250 miljoen aan Eskom skuld. Eskom se mediakantoor het laat weet hy is gebind deur vertroulikheidsklousules in sy elektrisiteitsdiensooreenkoms met Prasa en kan nie kliëntinligting aan derde partye openbaar maak nie.

Eskom het in sy 2019-jaarverslag aangedui plaaslike groot kraggebruikers benewens munisipaliteite skuld hom R7,479 miljard. Die skuld van Prasa is ingesluit in dié bedrag.

“Toe ek hoor daarvan, was ek verplig om op baie hoë vlak in te gryp om Prasa te red, vir nou,” sê Winde.

Dit blyk Winde het die kantore van pres. Cyril Ramaphosa en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gekontak om in te gryp.

“Dit het my nie vreugde gegee om so in te gryp nie. Ek steun trouens die sterk optrede van Eskom, wat glo al maande probeer om Prasa ’n terugbetalingsooreenkoms te laat sluit. Eskom sal nooit sy finansies regkry as sy rekeninge geïgnoreer word nie. Hulle is verplig om op te tree teen wanbetaling. Om elektrisiteit te gebruik en te weier om daarvoor te betaal, is diefstal.”

Volgens Winde het Ramaphosa en Gordhan saamgestem dat ingegryp moet word sodat Eskom nie die krag van Prasa afsny nie omdat dit te ontwrigtend vir duisende pendelaars en die brose ekonomie sou wees.

Hy het egter gevra dat Ramaphosa deeglik en dringend na Prasa kyk om hul finansiële en bestuursposisie te verstaan. “Ek dink hulle is bankrot,” sê Winde.

Prasa het in September ’n nuwe finansiële hoof, Japhtalina Lesibana Fosu, aangestel nadat die staatsonderneming sedert 2014 al nie ’n voltydse finansiële hoof gehad het nie. Fosu is volgens ’n verklaring van Prasa ’n geoktrooieerde rekenmeester met ’n MBA-graad van die IMD sakeskool in Switserland.

Prasa het in die boekjaar tot einde Maart vanjaar ’n bedryfsverlies van R1,8 miljard gely, volgens sy 2019-jaarverslag. Sy inkomste daal onder meer weens dalende passasiersgetalle en die koste om toerusting te vervang wat gedurig weens vandalisme en diefstal beskadig en verwyder word. Al minder mense gebruik Prasa se Metrorail-treindienste weens die gevaar om beroof te word deur grypdiewe en rowers, treine wat dikwels laat is of gekanselleer word, en ongerieflike en ongemaklike geriewe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.