Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom soek miljarde vir skuif na skoner krag

Eskom werk aan ’n voorstel aan ontwikkelingsbanke om sy skuif weg van steenkool oor ’n paar jaar te finansier.

Die Komati-kragstasie, wat in die 1960’s noord van Bethal in Mpumalanga gebou is, gaan die eerste Eskom-steenkoolkragstasie wees wat omskep gaan word tot skoner kragopwekking. Foto: Eskom

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het in ’n aanbieding aan die presidensiële klimaatkommissie gesê die voorstel is vir ’n leningsgerief waartoe ’n paar ontwikkelingsfinansieringsinstansies kan bydra en wat oor ’n bestek van ’n paar jaar kan betaal.

Die oorgang weg van steenkool na hernieubare energie en ander meer volhoubare kragbronne kan volgens Mandy Rambharos, hoof van Eskom se afdeling vir die skuif na skoner krag, sowat $10 miljard kos.

Eskom oorweeg nuwe kragprojekte van net meer as 8 GW, wat wissel van windkrag tot sonkrag, hidroëlektrisiteit en gas, het De Ruyter in die aanbieding Vrydag gesê.

De Ruyter het hom Dinsdag en Donderdag aan virtuele konferensies onttrek omdat hy van Covid-19 herstel.

LEES OOK: Eskom-hoof ‘neem dit rustig’ ná hy positief toets

Die Komati-steenkoolkragstasie noord van Bethal in Mpumalanga sal die eerste kragstasie wees wat wegskuif van steenkool. Dit sal as toetsprojek dien vir die omskepping van ’n aantal ander steenkoolkragstasies.

Suid-Afrika stel op 11 na die meeste kweekhuisgasse van alle lande ter wêreld vry. Eskom dra by tot sowat 40% van dié vrystellings. Dele van die land tel onder die mees besoedelde gebiede in die wêreld.

Dr. David Masondo, adjunkminister van finansies, het in ’n afsonderlike aanbieding aan die kommissie gesê daar is ’n aantal opsies om Eskom se skuldlas van R400 miljard op te los.

Een is om ’n deel van die skuld na die staat oor te skuif in ruil daarvoor dat Eskom sekere klimaatdoelwitte behaal. ’n Ekwivalente bedrag word dan aan Eskom betaal as ekwiteitsinspuiting.

Ander opsies is om Eskom op ’n aandelebeurs te noteer of om buitelandse kragmaatskappye te nooi om ’n belang in Eskom te koop.

Masondo is egter nie ten gunste daarvan om ’n deel van Eskom se skuld na die staat se balansstaat oor te skuif of dit in ’n spesialedoelvervoermiddel te plaas nie. Die voorstelle verteenwoordig nie die nasionale tesourie se sieninge nie, het Masondo beklemtoon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.