Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom wil nie meer windkrag hê – vraag te min

Eskom het windplase laat weet hy gaan nie noodwendig al hul krag aankoop nie, want hy het weens die nasionale inperking in reaksie op die korona-pandemie nie genoeg kragvraag nie.

Die Gouda-windplaas in die Swartland.

Die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging (Sawea) raadpleeg nou sy prokureurs oor of Eskom se verklaring van ’n force majeure in dié geval geldig is of nie.

’n Force majeure is wanneer een van die partye in ’n kontrak verklaar dat hy nie sy deel van die kontrak kan nakom nie weens omstandighede buite sy beheer. Daar is dan geen boetes of betalings betaalbaar soos wat die geval sou wees as die nie-nakoming van die kontrak om ander redes was nie.

Eskom meen die pandemie, wat tot ’n afname van meer as 7 500 MW in kragvraag gelei het, geld as so ’n faktor buite sy beheer.

Ntombifuthi Ntuli, uitvoerende hoof van Sawea, sê egter sommige kenners meen verlaagde kragvraag is ’n normale insident wat nie as ’n force majeure-insident kan deurgaan nie. Kenners meen ook Suid-Afrika het nie regtig tans ’n strukturele ooraanbod van krag nie, want Eskom sukkel reeds om die kragnetwerk stabiel te hou ondanks ’n wisselende kragvraag.

Die windplase het maar eers Woensdag die brief van Eskom ontvang, boonop net enkele dae nadat Eskom op 25 Maart ’n brief aan windplase gestuur het om te bevestig dat kraglewering ’n noodsaaklike diens is ingevolge die nasionale ramptoestand, en dat alle windplase in bedryf dus as noodsaaklike dienste beskou word. Eskom sê in sy brief aan die windplase die moontlikheid bestaan dat hy van tyd tot tyd nie van hul krag sal aankoop om op die nasionale kragnetwerk te laai nie.

Volgens Sawea is daar 22 windplase in bedryf oor Suid-Afrika heen, met ’n totale geïnstalleerde kragopwekkingsvermoë van 1 980 MW. Nog 12 windplase is in aanbou, maar konstruksiespanne is huis toe gestuur vir die duur van die nasionale inperking.

’n Eskom-woordvoerder het luidens berigte Woensdag gesê die windplase lewer die meeste krag vroeg in die oggend wanneer die kragvraag nie so hoog is nie, so Eskom het nie nou vraag daarvoor nie.

Eskom het wel aangedui die windplase sal ’n dag se verlenging van hul kontraktydperk kry vir elke dag waarop hulle nie aan hom krag hoef te lewer tydens die inperking nie.

Sawea is egter besorg oor die onmiddellike impak van Eskom se besluit op die aandeelhouers van die windplase, wat bemagtigingsvennote en gemeenskapstrusts insluit wat inkomste uit die windplase verdien en lenings het wat hulle moet terugbetaal.

Force majeure: Wat is dit?

Dis ’n voorval buite die redelike beheer van een of meer partye in ’n ooreenkoms. Dit sluit goed in soos:

  • ’n staking;
  • ’n epidemie of pandemie;
  • onluste;
  • ’n brand of natuurramp soos ’n aardbewing, haelstorm, vloede of orkaan.

’n Ooreenkoms kan soveel of so min force majeure-voorvalle bevat as wat die kontrakterende partye wil insluit, en dit kan dus verskil van kontrak tot kontrak.

’n Force majeure-klousule sal enige van die partye toelaat om die kontrak te beëindig in geval van so ’n voorval.

Die klousule beskerm ’n party teen die gevolge wat ’n force majeure-voorval inhou weens sy onvermoë om sy kontraktuele verpligtinge na te kom.

Meer oor:  Eskom  |  Krag  |  Windkrag  |  Groenkrag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.