Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: ‘Sonder hulp kan ons verbruiker nie meer subsidieer’
Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom. Foto: Elvira Wood

Eskom kan nie sonder ’n reddingsboei van die regering bly voortbestaan nie.

Jabu Mabuza, Eskom se voorsitter en waarnemende uitvoerende hoof, het dít Woensdag in die parlement herbevestig nadat Erik Marais, ’n DA-LP, dit aan hom gestel het dat as Eskom se balansstaat vir die 2018/’19-boekjaar as ’n rekeningkunde-hoërgraadvraag in later vanjaar se matriekeindeksamen gevra sou word, sou hý geantwoord het: “Sluit die deure omdat die onderneming bankrot is as die staat dit nie ondersteun nie.”

Mabuza se reaksie hierop was: “Jou rekeningkunde is reg. Jy sal beslis daardie vraestel slaag. Daar is nie ’n ander manier om ons situasie te beskryf nie. Ons is in ’n verskriklike situasie.”

Marais se vraag was op ’n sitting van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings waar Mabuza en Eskom se topbestuur verslag moes doen oor Eskom se 2018/’19-jaarverslag.

LP’s het gehoor dat die elektrisiteitsverskaffer in die betrokke boekjaar ’n massiewe netto verlies van R21 miljard gely het. Dit is tien keer hoër as die R2,3 miljard se verlies in die vorige boekjaar.

Oor die regruk van Eskom met sy reusagtige skuldlas van meer as R440 miljard, het Mabuza gesê dat dit beslis nie “die werk is waarvoor ek aansoek sou gedoen het nie”. “Maar ek is nou hier en terwyl ek hier is sal ek my bes doen. Een ding wat seker is, is dat ek heel waarskynlik nie suksesvol sal wees nie. Maar ek sal nie misluk om te probeer nie.”

Calib Cassim, Eskom se finansiële hoof, het aan die LP’s gesê Eskom verwag dat hy in die volgende boekjaar weer ’n netto verlies van R20 miljard sal ly.

Volgens hom verwag die maatskappy ook ’n verdere reddingsboei van R26 miljard van die regering om sy “likwiditeit” te bestuur.

Die enige langtermynoplossing is vir die prys van elektrisiteit om aangepas te word sodat dit die kosprys (van opwekking) weerspieël.
Calib Cassim, Eskom se finansiële hoof.

“Die enige langtermynoplossing is vir die prys van elektrisiteit om aangepas te word sodat dit die kosprys (van opwekking) weerspieël.”

Volgens Cassim het Eskom tot dusver die verbruiker gesubsidieer.

“Die realiteit nou is dat dit nie meer moontlik is nie, soos dit in ons (finansiële) resultate getoon word. Die gevolg is dat regeringsondersteuning (reddingsboeie) nou vereis word om die verbruiker te subsidieer,” het Cassim gesê.

Mabuza het verder aan die LP’s gesê dit is dringend noodsaaklik dat ’n energieplan vir Suid-Afrika ontwikkel word omdat die volgende paar jaar ernstige probleme vir Eskom en die energiebedryf gaan meebring.

“Ons regrukplan om die maatskappy te stabiliseer, op te breek en te laat groei, bly dringend.”

Hy het bygevoeg dat die regering se reddingsboei op korttermyn die kommer oor Eskom se

likiditeit onderstreep, terwyl dit die finansiële druk op die maatskappy verlig het.

“Daar is ook bemoedigende vordering om (goeie) bestuur te bevorder en om finansiële wanbestuur, misdadigheid en wanadministrasie uit te roei.

“Die negepunt-herstelplan vir kragopwekking het in die winter ook positiewe resultate by Eskom se aanlegte opgelewer, met geen beurtkrag wat sedert 24 Maart toegepas is nie.”

Op ’n vraag oor wat Eskom doen om veral die R20 miljard wat munisipaliteite en ander verbruikers aan hom skuld, in te win, het Mabuza gesê ’n kultuur van die-verbruiker-moet-betaal moet in Eskom se geval geld.

Vir dié wat nie kan bekostig om te betaal nie, moet daar ’n plan gemaak word. “Maar Eskom moet betaal word, of dit nou deur die belastingbetaler, subsidies of reddingsboeie is.”

Op ’n vraag oor wat die lesse is wat Eskom uit sy R21 miljard-verlies geleer het, het Mabuza gesê hulle weet wat dit veroorsaak het. “Dit is die opwekking- en personeelkoste sowel as die terugbetaal van Eskom se skuld (van R440 miljard).”

Volgens Mabuza moes R6,5 miljard die afgelope boekjaar ook net aan diesel vir kragopwekking bestee word sodat beurtkrag tot die minimum beperk kon word.

Meer oor:  Jabu Mabuza  |  Staatshulp  |  Eskom  |  Verbruiker  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.