Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom staan by De Ruyter oor omstrede kontrak

Eskom het Maandag weer eens die onskuld van sy uitvoerende hoof, André de Ruyter, verklaar oor ’n kontrak vir die aankoop van brandolie wat in 2019 toegeken is.

Eskom het ook die volledige verslag van adv. Wim Trengove SC bekend gemaak wat die bewerings teen De Ruyter ondersoek het.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Deon Raath

Trengove het De Ruyter in die verslag van alle blaam onthef.

Die kontrak van R14 miljard is in Oktober 2019 aan Sasol, Econ Oil en FFS Refiners toegeken.

Die omstredenheid het einde verlede jaar begin toe Eskom se verkrygingshoof gevra het die kontrak moet van R14 miljard tot R18 miljard vergroot word. Sy versoek is eers in Januarie deur Eskom se beleggings- en finansieskomitee aangehoor, skaars enkele dae nadat De Ruyter by Eskom begin werk het.

Hy het van die vergaderings bygewoon en was besorg dat die inligting om die uitbreiding van die kontrak te regverdig, nie van genoegsame gehalte was nie, en die kontrak is ondersoek.

Hy het eerder voorgestel dat die brandoliekontrakte gestop word en die olie regstreeks van raffinaderye gekoop word om geld te spaar. Daar was toe reeds bewerings dat Eskom-werknemers betrokke was by bedrog en korrupsie met brandstofkontrakte, het Trengove bevind.

Teen Maart is bevind die kontrakte het moontlik aspekte van mededingingswetgewing asook die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies oortree.

Twee Eskom-direkteure, Sifiso Dabengwa wat intussen skielik sonder rede bedank het, en dr. Pulane Molokwane, het egter beswaar gemaak teen die kansellasie van die brandstofkontrakte. Hulle het gemeen daar is nie genoeg rede vir die kansellasie nie.

Dabengwa het in April vir De Ruyter en die Eskom-bestuur daarvan beskuldig dat hulle die Eskom-direksie mislei het. Molokwane het haar later gedistansieer van Dabengwa se veldtog teen De Ruyter en gesê sy het nooit bewerings teen hom gemaak nie en weet nie hoekom Dabengwa haar daarby insleep nie.

Trengove het in Julie sy verslag voltooi en bevind dat De Ruyter nie die Eskom-direksie mislei het nie, en dat De Ruyter se vermoede dat daar moontlik samespanning tussen Sasol en die oliehandelaar Econ Oil kon gewees het, geregverdig en relevant was.

Eskom het op 1 November 2019 die oliekontrakte toegeken, maar op 14 November uitgevind Econ het nie rug-tot-rug-kontrakte met sy verskaffers nie. Dit blyk ook uit Trengove se verslag Econ het ’n geskiedenis van omstrede transaksies met Eskom.

Meer oor:  Sasol  |  Eskom  |  André De Ruyter  |  Krag  |  Tenderbedrog  |  Elektrisiteit  |  Tender  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.